{ARGIEF}

Die uitdaging van Fundamentalisme vir Christelike Leierskap
(The Challenge of Fundamentalism to Christian Leadership)
Ben du Toit

SACLA II

Die begrip fundamentalisme het in die teologiese debatte baie omstrede geword. Oor en weer beskuldig teoloë en godsdiensleiers mekaar dikwels van fundamentalisme wanneer hulle met mekaar nie saamstem nie. Die beroep op die Bybel as verwysingspunt bring ook nie altyd ‘n oplossing nie. Dikwels word in die debatte die perspektief gelaat dat wanneer iemand hom of haar so op die Bybel beroep, of op teologiese standpunte, hulle dan as fundamentalisties afgemaak word.  Meestal reageer diegene wat as fundamentalisties gesien word met die teen-beskuldiging dat hulle teenstanders relativiste is wat die gesag van die Bybel aantas en ‘n gevaar is vir die voortbestaan van die Christendom en die waarheid.

Teenoor fundamentalisme word dikwels relativisme gestel.  In ‘n sekere sin sou ‘n mens hierdie twee as uiterstes van ‘n spektrum kon beskou.  Baie praat ook van behoudend aan die eenkant, teenoor liberaal aan die anderkant. Of konserwatief teenoor progressief. Selfs rigied teenoor kreatief. Dit is nou egter interessant dat fundamentalisme by beide aangetref (kan) word.  Om die waarheid te sê is dit juis een van die kenmerke van fundamentaliste, dat hulle hulleself nie as sodanig beskou nie. Fundamentalisme speel dus meestal ‘n onbewuste, onderliggende rol.  Dit is hierdie feit wat hierdie verskynsel so sleg maak vir die Christendom.

Wanneer Christene nou by SACLA II geroep word om na te dink oor die uitdagings aan die leierskap van die Christendom in Suid-Afrika vir die tyd wat voor ons lê, is dit daarom goed om juis die verskynsel van fundamentalisme weer van nader te beskou – omdat dit een van die grootste struikelblokke vir die integriteit van die getuienis van die Christendom kan wees; omdat dit juis fundamentalisme kan wees wat kan maak dat ons mekaar nie kan hoor en verstaan nie – selfs al gebruik ons dieselfde woorde in dieselfde taal. 

Ons weet ons moet met mekaar saam vorentoe, maar hoe doen ons dit wanneer ons van mening is dat die waarheid geweld aangedoen word, of wanneer ons radikaal van mekaar verskil oor sekere sake?  In die (ietwat kunsmatige)  konteks van Sacla (of ander ekumeniese byeenkomste) is dit waarskynlik nie so ‘n groot bedreiging nie, maar wel waar die kerke en Christene uit verskillende tradisies in die alledaagse bestaan met mekaar moet skouer skuur. 

Ons weet die ekumene (kerklike samewerking) belangrik is. Maar die verskynsel van fundamentalisme maak dit somtyds baie moeilik om in die praktyk in vrede met mekaar oor die weg te kom. En dit maak die geloofwaardigheid van ons getuienis natuurlik problematies. Hierdie probleem manifesteer hom op meer as een manier, soos die volgende:

* fundamentalisme maak ‘n konstruktiewe gesprek in die teologie en tussen Christene dikwels onmoontlik: mense hoor en verstaan mekaar nie
* fundamentalisme bedreig daarom die integriteit van die Christendom en individuele leiers
* fundamentalisme in sy ergste form is ‘n ernstige bedreiging is vir vrede in Suid-Afrika, soos inderdaad in die wêreld,
* fundamentalisme was die oorsaak van die meeste (godsdiens_) oorloë in die geskiedenis van die mensdom.

Soos gestel: ‘n Groot deel van die probleem is juis die feit dat die betekenis van hierdie begrip (fundamentalisme) nie altyd duidelik verstaan word nie. Wat is fundamentalisme?  Hoe kan ‘n mens fundamentalisties in jouself herken?  Is dit in alle opsigte moontlik om nooit fundamentalisties te wees nie?

In plaas van om nou ‘n eng (woordeboek_) definisie van fundamentalisme te probeer gee, is dit dalk meer verhelderend om bepaalde kenmerke daarvan onderskei, wat in kombinasie met mekaar, hierdie verskynsel so dodelik gevaarlik vir die kerk maak. Die kenmerke is:

1. Jou eie siening is die enigste waarheid:  ‘n Ander interpretasie, of perspektief is nie moontlik nie. Dit is vir jou glashelder duidelik sonder enige moontlike teenspraak. Jy kan dalk met groot geduld na ander luister, maar jou opinie is finaal. No teachability!

2. God word gekoöpteer om dit te regverdig: Hierdie waarheid word beskou as van goddelike oorsprong _ deur ‘n droom geïnspireer; deur ‘n ervaring of natuurverskynsel bevestig; deur gelyk_klinkende woorde uit die Bybel (‘n teksvers byvoorbeeld) ondersteun.  Omdat dit van God kom, verduur hierdie waarheid geen kritiese refleksie nie.

3. Hierdie waarheid kom met ‘n  morele appél:
* Ander mense moet ook daarvan oortuig word. Jou waarheid behoort ook deur ander mense erken te word, en alles moontlik moet gedoen word om hierdie doel te bereik. Nie alleen ter wille van die waarheid self nie, maar juis omdat dit ‘n goddelike opdrag is.
* Hierdie waarheid moet ten alle koste verdedig word.  Wanneer hierdie waarheid bedreig word, moet die aanslae (selfs met alle mag) afgeweer word.  Daar kom selfs ‘n punt waarop van ‘n verdedigende strategie na ‘n aanvallende strategie oorgegaan word.
* Komplot_denke vorm vanselfsprekend deel van hierdie siening: Vanuit waarnemings word ‘n netwerk van tekens raakgesien en as ‘n bedreiging geïnterpreteer. Die  grondslag van die bedreiging is agterdog jeens enige siening wat van joune verskil.
* Hierdie bedreiging en die morele aanspraak word juis binne spirituele sfeer geïnterpreteer.

Hieruit blyk dit duidelik wat die gevaar van fundamentalisme vir die naasbestaan van mense is. Daarby kan dan ook geleidelik al meer fanaties word, wanneer dit selfs geregverdig word dat ‘n mens ter wille van toewyding aan jou waarheid, duisende onskuldige slagoffers doodmaak deur met vliegtuie in geboue vas te vlieg.  Trouens, hierdie onskuldige slagoffers word natuurlik nie as onskuldig beskou nie, aangesien hulle nie in hierdie bepaalde waarheid glo nie _ hulle is per definisie die vyand wat beveg moet word. Die meeste ekstreme vorm van fundamentalisme is om jou lewe gewilliglik op te offer ter wille van hierdie waarheid.  

Maar, is alle godsdienstigheid as sodanig dan nou fundamentalisme?  Beteken dit, byvoorbeeld,  dat die Bybel as waarheid gerelativeer word en dat daar dus nie ‘n waarheid is waarvan ‘n mens seker kan wees nie? Beteken dit dat ‘n mens nie die Bybel kan gebruik om jou standpunt te verdedig nie?

Nee, dit is nie waar nie. 

* Solank jy weet dat jou waarheid en standpunt ook krities bevraagteken mag word _
 
* solank jy aanvaar dat ‘n netwerk van invloede ook op jou inwerk (dikwels onbewustelik) wat help bepaal hoe jy by ‘n bepaalde standpunt uitkom  _
* solank jy aanvaar dat die teks van die Bybel met groot omsigtigheid as literêre teks hanteer moet word en gelykluidende woorde en sinne nie oral op dieselfde vlak met mekaar verbind mag word om ‘n waarheid te konstrueer nie _ met ander woorde, die hermeneutiese proses moet met verantwoordelikheid hanteer word –
* solank jy die verskillende kontekste wat in so ‘n vertolkings_proses ‘n bepalende rol speel, ernstig opneem en behoorlik, konsekwent en deursigtig verreken –
* solank jy instaat is om jouself op ‘n afstand te beskou, jou vir ‘n oomblik van jouself los kan dink en selfkrities kan wees, fokus op die saak en jou eie belange minder belangrik beskou 
_  kan ‘n mens van fundamentalisme bewaar word.

Jy mág dus oortuig wees van ‘n waarheid.
Jy mág jou beywer vir sendingwerk en die verspreiding van die evangelie.
Jy mág jou roeping sien as om ander te oortuig van die waarheid van die Evangelie, solank jy bogenoemde in ag neem en jou taalgebruik daarby aanpas.

Dit is dikwels paradoksaal waar dat hoe sekerder ‘n mens oor iets is, hoe minder voel jy bedreig  deur kritiek:  wanneer ‘n mens werklik seker is van jou standpunt/saak, voel jy die minste bedreig deur kritiek daarop.

Dikwels gaan dit meer oor taalgebruik en styl, as die inhoud van die betrokke waarheid. Fundamentalistiese taal is altyd eksklusief, uitsluitend, veroordelend, dreigend, koorsagtig en finaal_beslis.  ‘n Mens kom weg van fundamentalisme wanneer jy ‘n nuwe wyse van praat (a new vocabulary) aanleer. 

Dit gaan dikwels meer oor taalgebruik as iets anders. Nie_fundamentalistiese taal word gekenmerk deur genaakbaarheid en onbedreigdheid  _ wat paradoksaal kenmerkend van ‘n dieper, méér fundamentele sekerheid is. Hier gaan dit daarom om jou keuses insigtelik, met oortuiging te stel, terwyl die beginsels van doeltreffende dialoog eerbiedig word.

Uiteindelik is die Bybel ook hierin ‘n uitstekende maatstaf. Waarskynlik een van die mees nie_fundamentalistiese opdragte wat nog ooit gegee is, is Jesus se opdrag om jou naaste lief te hê soos jouself. Hieruit volg ander soortgelyke uitsprake, soos: om vir  jou vyande te bid, te seën die wat jou vervloek, om ander hoër te ag as jouself, om vir ‘n Jood soos ‘n Jood te word, vir een sonder die wet soos een sonder die wet _ om sodoende in sommige gevalle sommige te red.

Hier is dus ‘n totale ander vertrekpunt, nl dat ons die genade wat God vir ons het met ander wil deel _ en juis van hierdie waarheid ander wil oortuig.  Dit is die roeping van die Christelike gemeenskap.

******
Die begrip fundamentalisme word gebruik met betrekking tot godsdiens.  In die Wetenskap-filosofie word gepraat van foundationalism, terwyl daar in die natuurwetenskappe gepraat word van induksie