{ARGIEF}

Hoe bou ons aan vertroue onder mekaar?

Kerkbode 2006

Verhoudings tussen lidmate onderling, en met die leierskap in die gemeente is in die rooi in ons gemeentes! Dit is die duidelike antwoord wat ons by Buvton van gemeentelede kry as ons navraag doen oor die gehalte van verhoudings in die gemeente. Van die byna 20 000 lidmate in ons databasis, sê 73% dat lidmate mekaar nie genoeg vertrou om openhartig teenoor mekaar te nie! Dalk as gevolg daarvan, sê 35% dat daar nie ‘n eenheidsgevoel onder lidmate is nie en meld 42% in dieselfde ondersoek dat verhoudings in die gemeente dikwels gespanne is. In kort:  baie mense in ons gemeentes vertrou mekaar nie genoeg om saam te bou aan ‘n liefdesgemeenskap nie.

Byna almal wat navorsing doen oor gemeentes, sien die bou van betroubare of liefdevolle verhoudings as een van die belangrikste sake om aan aandag te gee. Wel, hulle is in goeie geselskap, die Bybel sou dit ook op die lys sit as een van dié kenmerke van ‘n christelike geloofsgemeenskap, dat ons onderling so in ‘n liefdevolle eenheid of koinonia saamleef(Ef4:1-6) dat juis dít ons getuienis in die gemeenskap is.(Joh 17:23) Die Bybel is tog immers nie onduidelik hoe ons met mekaar moet saamleef nie. Dra mekaar se laste(Gal 6:2), ver-dra en waardeer mekaar(1 Kor12: 12-27), bely julle sonde en vergewe mekaar(Jak 5:15b-16), vertrou mekaar, sorg vir mekaar, dien mekaar in liefde(Joh 13:1-17 & Gal 5: 13b), byna altyd sodat die gemeente as liefdegemeenskap as liggaam van Christus ‘n beeld kan wees van wie God is, van die liefde en eenheid wat daar tussen Vader, Seun en Gees is. Soos wat kommunikasiekudiges altyd sê: the medium is the message! Ons kan nie ‘n getuie wees van die liefde van Christus as ons dit nie in ons gemeentes beliggaam nie.

Hoekom is dit so dat ons gemeentes dit moeilik vind om ‘n “ware liefdesgemeenskap” te wees waar daar onderlinge vertroue is. Jürgen Moltmann skryf in ‘n onlangse uitgawe van Theology Today ‘n artikel hieroor onder die titel: Control is good- trust is better.  Hy skryf dat hy altyd die indruk gehad het dat die totalitêre regime van die destydse kommunistiese Oos-Duitsland, die teenoorgestelde gedink het: Trust is good, control is better. Wanneer die fokus van ‘n gemeenskap so totaal is op kontrole, word onderlinge vertroue stelselmatig afgebreek. Oormatige kontrole vreet soos ‘n kanker aan vertroue, skryf hy. In so ‘n gemeenskap is niemand heeltemal eerlik nie, want sê nou maar my “awe-regse” siening is nie heeltemal suiwer nie en word oorgedra. Stelselmatig begin mense om op te hou om hulle eie standpunte te formuleer.  Oënskeinlik sê Moltmann, lyk die gemeenskap ordelik en vredevol, maar as jy dieper kyk besef jy, niemand vertrou mekaar nie! Die reëls word meer en die vertroue minder. Is ek verkeerd as ek dink dat ons ook so ‘n bietjie aan hierdie siekte lei?  Ook ons kom uit ‘n geskiedenis van ‘n oormaat aan kontrole, van voorgesê word en ‘n standpuntlose volgelingskap van leiers. Ons is gelukkig lank al nie meer daar nie, maar dit beteken nie noodwendig dat ons daarin slaag om  mekaar te vertrou nie. As ons nie leer om hierdie vertroue te herstel nie, sal min ander dinge wees reg kan kom. Dink maar net aan julle gemeente se visie-, of roepingsverklaring, aan wat julle alles geroepe voel om te bereik in die gemeenskap en die wêreld. Kan enigiets daarvan bereik word sonder die herstel van onderlinge vertroue in die gemeente?

As fasiliteerders het ons ‘n aantal jare gelede dit as ‘n roeping begin sien om ruimtes te skep waar vertroue herstel kan word. Ek deel ‘n paar van die praktiese antwoorde wat ons gehelp het, in die hoop dat baie meer gemeenteleiers hierdie uitdaging sal aanvaar:

1. Ons moet leer om eerlik hieroor te begin praat in ons gemeentes. Face the brutal fact  Ek onthou een  baie moeilike aand by ‘n gemeente se leiersgroep soos gister. Na lang gesprekke was die waarheid uiteindelik op die tafel- ons vertrou mekaar eenvoudig nie genoeg om verder te gaan nie. As gevolg van omstandighede het daar ‘n vertrouensbreuk gekom.  Ons kom ooreen dat die  proses nou behoort te fokus op die herstel van vertroue. Hulle sal my kontak as hulle gereed is om daaraan te werk. Dit is 4 jaar later, die gemeente bestaan nog, is besig met allerlei aksies om die gemeente te laat oorleef, dit is ‘n opdraende stryd, want die vertroue is nie herstel nie! Dit is byna asof ons nie taal het om hieroor met mekaar te praat nie, of selfs erger, dat ons in ons gemeente praktyke nie gereedskap of gebruike het om wanneer die vertrouensbreuk kom. Terloops ons gereformeerdes hoef mos darem nie te twyfel dat die breuk in vertroue een of ander tyd sal kom nie,  ons weet mos ons is almal sondaars.  Dit is op ‘n snaakse manier goeie nuus. Christelike koinonia is iets radikaals anders as om mekaar se “buddies” te wees. Christelike gemeenskap is juis dit wat ontstaan nadat ons mekaar telleur gestel het, nadat die vertroue verbreek is. Dit is dan wanneer die evangelie van die versoening op die spel kom. My ervaring is dat leiers, ook in gemeentes, maklik  wys op die gebrek aan vertroue, maar dit moeilik vind om die teologiese leierskap aan die dag te lê om dit te herstel. Hierdie is nie ‘n opsie vir sommige “persoonlikheidstipes” wat makliker konflik hanteer as ander nie, dit is ‘n opdrag aan ons almal wat in leiersposisies in gemeentes is. Navorsing oor gemeentes het  dié konsensus, dat gemeentes waar die brutal fact van swak verhoudings in die oë gekyk, aangespreek en deurgewerk is, ook dié gemeentes is wat die grootste inpak in die gemeenskap maak!

2. Ontwikkel die gewoonte om in vergaderings en byeenkomste, veral wanneer ons van mekaar verskil, om eers diep te luister na mekaar deur die ander persoon se standpunt kortliks op te som en sy/haar goedkeuring te kry dat ek hom of haar reg verstaan het, voordat ek daarop aandring om my bydrae te maak. Dit voel aanvanklik asof daar stadiger gevorder word, maar deur hierdie gewoonte toe te pas, ontwikkel daar ‘n dieper verstaan en waardering  van en vir mekaar se sieninge en vertroue groei.

3. Kweek bevestigende gewoontes en houdings in die gemeente aan.  Maak dit kultuur in die gemeente om te soek na gawes, en houdings wat jy positief kan bevestig in ander. Ons doen dit mos as ons mense “bevestig” in ‘n amp, kom ons doen dit sommer elke dag deur mekaar in Christus te bevestig.  Hoewel ons almal sondaar is, het Luther terreg gesê dat ons tegelyke tyd ook geregverdig is in Christus: simmul justis et peccator!.  Oorgesê, as gevolg van die werk van die Gees in elkeen van ons is in elke gelowige, al verskil jy hoe van die persoon, iets om te bevestig. Die teenpool hiervan is dat ons mense van wie ons verskil, beskaam. As jy eenmaal iemand, veral in die openbaar, beskaam het, is vertroue soms lewenslank by die deur uit. Dit is merkwaardig hoe Jesus in sy bediening konsekwent ruimte gemaak het juis vir dié wat ander wou beskaam. Dink maar aan die kinders wat die dissipels wou wegjaag(Mk 10:13-16), aan die blinde Batimeus(Matt 20:29-34), die skaam Petrus wat Jesus verraai het en dan sy tweede roeping ontvang.(Joh 21:15-19)