{ARGIEF}

Dit is belangrik om te weet in watter tydsone jy is!

Frederick Marais

2006

Ek skryf hierdie artikel terwyl ek my voorberei om na ‘n 3 maande van sabatsrus in St Paul, Minnesota terug te vlieg huis toe. Deel van so ‘n reis is om deur 7 tydsones te gaan! Behalwe vir die vermoeienis wat dit inhou, is daar ‘n belangrike stukkie detail om te onthou wanneer jy so deur die tydsones gaan. Om jou volgende vlug te haal, moet jy jou horlosie stel volgens die tydsone van die lughawe anders kan jy jou deeglik misgis en jou vlug verpas. Gemeenteleiers moet ongeveer dieselfde doen wanneer hulle bymekaar kom om God se wil te onderskei en besluite  neem oor die toekoms van die gemeente.  Om dit te kan doen moet ons uit die tydsone van tyd-is-geld, beweeg na ‘n wag op die Here.

Het jy al opgemerk dat meeste gemeenteleiers moeg is en gedurig kla dat hulle te min tyd het?  Wel tyd is een van die misteries van die lewe, sê Augustinus:  What, then, is time? I know well enough what it is, provided that nobody asks me; but if I am asked what it is and try to explain, I am baffled.” Het jy ook al opgemerk dat mense in dieselfde situasie verskillend dink oor tyd. Sommige is gejaagd terwyl ander lyk asof hulle oor al die tyd in die wêreld beskik!In die Nuwe Testament is daar twee griekse begrippe vir tyd, “chronos” en “kairos” wat hierdie verskille in benadering tot tyd verklaar. Beide begrippe verwys na Griekse gode.

Chronos die gemene god 

Chronos was die gemene, wrede god wat net een doel in die lewe gehad het naamlik om in beheer te bly. Daarom, vertel die Griekse mitologie,  het hy al sy en Rea se kinders opgeëet, so groot was sy vrees dat iemand anders beheer en mag uit sy hande sou neem.  Chronos-tyd is die tydsbegrip wat die toekoms beprek omdat dit bang is om nie meer in beheer te wees nie. Ons hele westerse filosofie van tyd en spesifiek die sg waardesvolheid van tyd word gebou op die chronos persepsie van tyd en ons laat uitkom by die konklusie: Tyd-is-geld. Dinge moet so gou as moontlik gebeur, produksie bepaal alles. Die chronos-verstaan van tyd sien wag as ‘n mors van tyd, stilword as vervelig en  luister na die fluistering van die Gees as ‘n onrealistiese moontlikheid.

Kairos die god van geleenthede

Kairos, aan die ander kant  was die god van geleentheid. Phaedrus beskryf ‘n ontmoeting met Kiaros  “ as the brief moment in which all things are possible.” Die Nuwe Testament gebruik die woord kairos meestal om aan te dui dat ‘n spesifieke tyd aanbreek waarin God aksie gaan neem (sien bv Mark 1.15) In so ‘n tyd word nuwe moontlikhede oopgebreek.  In die Oosters Ortodokse Kerk roep die diaken voor die erediens “Kairos tou poiesai to Kyrio” (“It is time [kairos] for the Lord to act”), om aan te dui dat die Liturgie wat nou gaan plaasvind in die kairos-sone is. 
Die tyd toe Jesus gekom het, was Kairos tyd, die afwagting vir koms van die Messias het in vervulling gegaan, die tyd het letterlik vol geword van moontlikhede. Kairos tye is daardie tye wanneer die tyd gaan stilstaan, tye van oorvloed en vervulling, tye waarin ons bewus word daarvan dat God meer kan doen as wat ons ooit besef het. Dit is interessant dat heelwat Christelike bewegings die woord Kairos gebruik soos oa ‘n beweging wat gevangenis bedien met die ingesteldheid dat ook die tyd in die gevangenis ‘n tyd vol geleenthede kan wees.
John Akcermann sê terreg in sy boek Listening to God, dat die eerste twee dinge wat jy doen as jy wil luister na God is : Stop, kyk en dan kan jy luister. Ons storm daarom nie sommer net in en luister nie, maar kom eers tot rus.  Vir baie van ons wat vasgevang is in die “activity trap” van die chronos-tydsone is dit moeilik om eers tot stilstand te kom. Ons wil besluite neem en klaarkry daarmee.

Gemeenteleiers wat in chronos tyd bly, neem besluite met die ingesteldheid van die markplein, die oortuiging van die skaarsheid van bronne, in wese met die oortuiging van die godloosheid van ons wêreld, verwagtingloos en bang. Ek dink dit moes die rede gewees het waarom die eerste gemeente so dikwels, klink my sommer daagliks, bymekaar gekom het.  Hulle moes mekaar herinner dat die vervolging wat hulle ervaar nie die eintlike kragte is wat hulle in ag moet neem toe hulle moes besluit of hulle sal voortgaan om te preek of nie. Nadat hulle die Ps 2:1-2 gelees het, kom hulle tot die oortuiging dat die eintlike mag in die hande van God is en nie in die hande van die Joodse raad nie. Kan jy die oorgang van chonos- na kiaros-tyd sien? Teen alle vorme van verstandigheid in, besluit hulle om met nog groter vrymoedigheid aan te hou om te preek ten spyte van die vervolging(Hand 4:31)

Ek kry onlangs ‘n e-pos van ‘n gemeente se leiersgroep wat duidelik in die kairos-tydsone ingegaan het. Let op hoedat hulle kairos-taal gebruik

Ons het vanaand vergadering gehad… Daar is iets wonderliks met ons aan die gebeur. Waar ons vroeër gewonder het waar ons die volgende nuwe dinge gaan leer wat ons aan die gemeente kan kommunikeer, sodat hulle kan sien ons is goeie en kundige leiers, kom ons nou agter ons kan skaars vinnig genoeg leer – ons bly net-net by. Jy sien ons is besig om te leer dat God in elk geval besig is om dinge in die gemeente te doen, wonderlike dinge! Ons besef oor en oor dat God eintlik die bron van aksie is en dat ons net ontvang wat Hy gee en doen!

Ons word uitgedaag om as gemeenteleiers onder leiding van die Gees deel te word van die God se tyd. Om dit te kan doen, vra dat ons tot rus kom in Sy tyd. Die wêreld waarin ons leef, het al hoe minder simbole en gewoontes om ons te herinner dat dit nie ons wêreld is nie, maar God se wêreld. Hoe besiger ons raak, hoe meer lei ons aan geheueverlies, totdat ons later net weet van vandag. Van wat dringend is vandag en nou gedoen moet word. So word ons word letterlik slawe van tyd, alles is op tyd, netjies in beheer, maar sonder enige bewussyn van dat God besig is om ‘n toekoms vol moontlikhede oop te maak: Kairos tou poiesai to Kyrio-dit is nou die tyd vir die Here om oor te gaan in aksie.

Die Luisterseisoen se luistersiklus kan ‘n wonderlike praktiese manier wees waarop gemeenteleiers besluite neem onder die besef dat die Here inderdaad gereed is om tot aksie oor te gaan: Rus, Hoor en Leef.