{ARGIEF}

Joodse rituele vir gebruik in kindertyd by Biddag vir Jode: Sondag 15 Sept
Francois Wessels
12 September 2002

Feeste:

  •  Sat 7 Sept: Roosj Hasjana – Nuwe Jaar
  • Maan 16 Sept: Joom Kippoer – Groot Versoendag
  • 21-27 Sept: Sukkot -Loofhuttefees)
  • 29 Sept: Simchat Tora – Vreugde oor die Wet – Simchat Tora

. ‘n Mens sou by enige van dié iets vir kinders (en vir grootmense!) kon doen:

Ek sluit twee rituele in wat eintlik albei op die Joodse Nuwe Jaar gedoen word, maar miskien kan ‘n mens die twee rituele oor twee Sondae doen (wat min of meer saamval met die Joodse feeste). So word jou kindertyd nie te lank nie, en behou ‘n mens kontinuïteit oor twee agtereenvolgende Sondae. ‘n Mens kan natuurlik net een van die twee doen – hulle doen albei op hulleself.
Nuwe Jaar (dis OK om dit op Son 15 Sept te doen, al is jaar al ‘n week oud):

  • Blaas van sjofar (ramshoring – ‘n seebamboes werk net so goed) Sjofar word 4 keer geblaas (eintlik elke keer ‘n ander wysie, maar ons gaan nie nou op detail in nie – blaas maar 4 keer dieselfde, of – as jy wil, probeer die Hebreeuse woorde te blaas: Tekia – Sjebarim – Terua – Tekia. Verduidelik:

– Deur blaas van sjofar word volk van Israel opgeroep om na te dink oor hulle sondes (Tekia), om van hulle sondes afstand te doen (Sjebarim), om die vernieting van sondes te bevestig (terua) en om weer eens na te dink en op jou hoede vir toekomstige versoekinge te wees (tekia).

– Op Nuwe Jaar begin 10 dae van verootmoediging – wat eindig op die hoogtepunt van verootmoeding op Groot Versoendag, 10 dae later. Dit is 10 dae van nadink oor sonde, en 10 dae waarin ‘n mens opgeroep word om oor die sondes wat jy teen ander mense gedoen het, na te dink en, waar jy kan, sake te gaan uitpraat met diegene met wie jy rusie gemaak het. Die Jode sien dit so: in die 10 Dae van Versoening/Bekering/Verootmoediging moet jy met mense versoening bereik, sodat jy die 10de dag kan toewy om deur vas en gebed by God versoening te verkry. Dit is die agtergrond van Jesus se woorde in Matteus 5: “As jy by die altaar onthou dat jou broer iets teen jou het…”.

In Christelike idioom sal ek voorstel dat ons sê dat die sjofar ons moet oproep om in 10 dae met diegene wat vir ons kwaad is, vrede en versoening maak, sodat wanneer dag 10 aanbreek – Joom Kippoer, die Groot Versoendag – ons daardie hele dag oor het om na te dink oor ons verhouding met God. Met ander woorde, gebruik die volgende 10 dae om vrede te maak met jou vyande, sodat jy met ‘n vry gemoed die 10de dag, Groot Versoendag (16 Sept) kan gebruik om jou versoening met God te vier.

  •  Appel en heuning:

‘n Granny Smith-appel(s) word in skyfies gesny (doen dit sommer daar terwyl jy praat, so word die appel nie bruin nie en mense se aandag word gevange gehou deur… Wat maak die dominee? Hy skil ‘n appel!). Dan word heuning in ‘n bakkie gegooi, die volgende seëngebed word gebid en dan word die kinders rondom die preekstoel (of mense in voorste bank) genooi om elkeen ‘n appelskyf te neem, dit in heuning te doop en te eet.

Verduidelik: Dié ritueel help Jode (en ons!) te onthou dat in die nuwe jaar wat voorlê daar suur (soos appel) en soet (soos heuning) dae sal wees. Maar omdat al die dae, suur en soet, swaar en maklik, uit die hand van ons genadige Vader kom, weet ons ons hoef daarvoor nie bang te wees nie.

Seëngebed

(Deel appel uit, vra mense om nie dadelik te eet nie – hulle kan solank die heuning aflek. Doop appelskyf in heuning, hou appelskyf in lug, soos nagmaalbeker of brood en bid:

Barug Atta Adonai, elohénu Melek ha-olam,
bo-ry p’ré (soos in Du Preez) ha-ets. Amen.

(Probeer gerus die Hebreeus.Spreek dit heeltemal foneties uit. Dit gee die ritueel ‘n outentieke gevoel, mense giggel en luister aandagtiger as wat hulle na die Afrikaans luister… Nee, ek weet nie hoekom nie…) Na die Hebreeus (dit neem 30 sekondes), sê onmiddellik, sonder enige verduidelikings, die Afrikaans:

Geseënd is Here ons God, ewige koning,

U is die een wat aan ons die vrugte van bome gee. Amen

As jy wil, kan jy ‘n paar sinne by dié seënbede aanlas – dank die Here vir soet en suur, vra dat Hy ons sal help om dit uit sy hand te aanvaar, dank dat Hy daar is, nie alleen in soet dae nie, maar ook in suur dae… dank God vir die lewe. Amen
Hoop jy kan dit gebruik,
Francois Wessels 021-919-5903 of 08323 20 960