{ARGIEF}

Kerkwees kry nuwe gedaantes
Stephan Joubert – Rapport 2008-03-16

As ons enigste idee van kerkwees dié is van ’n plaaslike gemeente met ’n amptelike
leraar, kerkraad en geboue, trap ons in dieselfde strik as Henry Ford wat gesê het jy kan
enige kleur Ford ry mits dit swart is.

Terwyl tradisionele kerke wêreldwyd swaarkry, groei dinamiese Christelike bewegings
vinnig in enigiets van bestaande gemeentes tot huise, kantore, op die internet,
koffiewinkels, kroeë en as eietydse kerkplantings.
Een van die redes vir ’n krimpende lidmaattal is die immer groeiende negatiewe
persepsies van die Christendom. David Kinnaman en Gabe Lyons, skrywers van
UnChristian, se studie oor nie-kerklikes in die ouderdomsgroep 16 tot 29 jaar toon aan
dat hulle Christene as veroordelend, skynheilig, politiek konserwatief en onverdraagsaam
ervaar.

Ook in Suid-Afrika is ’n persepsie aan die posvat dat Christelike waardes en
behoudende Afrikanerbelange bedmaats is.
Die grootste verlies aan kerk- lidmate vind plaas in die ouderdomsgroep van 18 tot 30
jaar. Volgens ’n studie van Lifeway Research in 2007 verlaat 70% van jong mense die
kerk teen 23-jarige ouderdom. Van hulle het 34% teen hul 30ste verjaardag nog nie
teruggekeer nie.
Onlangs het ’n amptenaar van ’n Afrikaanse kerkgenootskap vertel dat hulle in ’n paar
jaar digby 8 000 lidmate verloor het. Die oorgrote meerderheid is in hierdie
ouderdomsgroep.

Dis nie te sê nie-kerklikes is negatief oor Jesus nie. ’n Leier in die ontluikende
kerkbeweging, Dan Kimball, skrywer van They Love Jesus but not the Church, tref geen
afname in moderne mense se bewondering of navolging van Jesus aan nie. Dieselfde kan
egter nie van hul siening van die kerk gesê word nie.
Terwyl tradisionele kerke sukkel om aan te pas by ’n veranderende wêreld of om ’n
sinvolle alternatief vir ’n kritiese post-Christelike samelewing te bied, groei innoverende
geloofsgemeenskappe dikwels los van bestaande kerke.
Terselfdertyd slaag party bestaande gemeentes wel om hulle los te wikkel uit hul
knusse kokon in ’n kwynende Christelike wêreld.
Hoewel die ontluikende kerke nie onder een sambreel toegemaak kan word nie,
vertoon hulle sekere kenmerke wat hulle magneties maak vir hul omgewing.
Eerstens is hulle nie slaafs gebonde aan formele strukture nie. Kerkgeboue is vir hulle
nie werklikheidsvreemde “huise van die Here” met Sondag as formele kerkdag nie. Vir
hulle is die ganse wêreld God se huis en elke dag ’n kerkwees-dag.
Hul bymekaarkomplekke is doelmatige ruimtes. Dit gaan vir hulle oor die
doeltreffende benutting van simboliese ruimtes, nie oor ’n skeiding tussen “ons” en
“hulle” wat verder deur geboue beklemtoon word nie.
’n Goeie voorbeeld is Pierre du Plessis se geloofsgemeenskap, Third Place, wat op
Sondae in ’n kroeg naby Menlyn, Pretoria, vergader en in die week by kinderhuise werk.
Net so innoverend is Paul Smit se Duet-gemeente in Potchefstroom wat ’n tentdorp as
hul bymekaarkomplek ingerig het.
Ook beskou innoverende kerke die wêreld nie as ’n vyandige plek nie. Hulle sien alle
mense as beelddraers van God. Ontluikende kerke wil dit met mekaar en ander deel
sonder om te veroordeel.

As navolgers van Christus wil hulle mense bewus maak van God se liefde en nie teen
alles en almal in die samelewing wees wat “Christelike waardes” bedreig nie.
Verhoudings is vir hulle ’n doel op sigself, en nie ’n manier om nog mense op hul
kerkpersele te kry nie.
Kerkwees beteken om deel te wees van die nuwe familie van God wat in liefde
saamleef. Daarom is hulle gemaklik met verskeidenheid en andersheid – omdat hulle glo
aan die slagspreuk: “Belong before believe”.
Mense hoef nie eers soos hulle te lyk, praat, dink of glo voordat hulle aanvaarbaar is
nie.
Kerkwees is vir groeiende kerke nie die somtotaal van programme en aksies wat deur
professionele kerklikes gedryf word nie. Kerklike betrokkenheid word nie hier gemeet
aan hoeveel mense by weeklikse kerklike aktiwiteite betrokke is nie, maar of individue
daarin slaag om selfstandige diensaksies elders uit te voer.
Daarom moedig hulle hul mense aan om op kreatiewe maniere saam met ander te
reis en Jesus se waardes voortdurend uit te leef.
Getalle en geestelike gesondheid is nie sinoniem vir groeiende geloofsgemeenskappe
nie. Hulle is nie gekant teen getalle nie, maar dit dien nie as barometer vir
betrokkenheid nie. Hulle is eerder daarop ingestel om volgelinge van Christus betrokke
te kry by deurlopende aksies vir mense in nood.
Hiervan is Maxie van der Merwe en Johan Smith se Pure Hope-span jong mense wat
heeltyds in arm gemeenskappe rondom Pretoria werk ’n sprekende voorbeeld.
So ook Tom Smith se Kleipot-gemeente wat mense oor kleurgrense heen by mekaar
se lewe betrokke kry.
Dienslewering is die hartklop van nuwe kerkbewegings. E-kerk, ’n virtuele kerk, is
sodoende ook betrokke by ’n kleuterskool in ’n township, asook by twintig bejaardes in
’n Gautengse ouetehuis wie se etes hulle vanjaar borg omdat hierdie mense net op ’n
staatspensioen aangewese is.
Nog ’n ontluikende geloofsgroep waarvan ek weet, gee elke maand al hul geld weg en
begin elke daaropvolgende maand met ’n nuwe begroting.
En dan keer innoverende geloofsgemeenskappe terug na die wortels van die
Christendom. ’n Lewe van nadenke, stilgebed en die geestelike lees van die Bybel is hier
aan die orde van die dag.

Mense se behoefte aan ’n lewensveranderende spiritualiteit dryf hierdie herontdekking
van ou Christelike dissiplines. Die kapel van die Mosaïekkerk in Fairland, Johannesburg,
waar daaglikse stiltedienste plaasvind, voorsien op ’n aangrypende wyse in dié behoefte.
Mense raak toenemend post-denominasioneel, soos wat Theo Geyser se Stellenboschgemeente
alte goed begryp. Nogtans het hulle en die NG gemeentes van Stellenbosch ’n
unieke verhouding van samewerking ontwikkel wat tot ’n paar jaar gelede nog ongekend
was. Denominasionele grense is dus nie meer skeidsmure nie.
As kerke se leerstellings in die regte lewe wortel skiet, sal mense steeds betrokke
raak. Kerke wat wil voortbestaan, moet daarom die waagmoed openbaar om kerklike
seepbelle te prik deur nuwe bedienings aan te durf en in geloof selfs nuwe kerkplantings
te ondersteun. Dis wat een plaaslike kerk, Kempton-Kruin, tans met ’n bediening vir
postmoderne mense deur Etienne Schoeman doen.
Dit lyk my God het nie plaaslike gemeentes in huidige gestaltes ongekwalifiseerd
nodig om sy koninkryk te laat kom nie. Die uitdaging lê dus vierkant by die kerk se
voordeur om gehoorsaam Godwaarts én relevant menswaarts aan te pas.
* Stephan Joubert is ’n buitengewone professor in die Nuwe Testament aan die
Universiteit van Pretoria.