{ARGIEF}

Vorming van Ekumeniese Netwerk

Die bal is op 20 Junie 2008 aan die rol gesit vir die vorming van ‘n
ekumeniese netwerk vir die Brugbediening (Interim Ministry) in
Suid-Afrika. Nege denominasies is uitgenooi na die byeenkoms nl die Ned
Herv Kerk van Afrika, Anglican Church in South Africa, Uniting
Presbyterian Church in Southerrn Africa, United Congregational Church
of Southern Africa, Evangelical Presbyterian Church of South Africa,
Methodist Church, Verenigende Geref Kerk in Suidelike Afrika, Geref.
Kerke (SA) en die Ned Geref Kerk. Die meeste van die denominasies het
verteenwoordigers kon stuur. Ook was ‘n groep van die opgeleide
brugpredikante teenwoordig. ‘n Lewendige bespreking het tydens die
byeenkoms te Kempton-Kruingemeente (NGK) onder voorsitterskap van Hugo
van der Linde in Kemptonpark plaasgevind. Dit het geblyk dat die sin,
waarde en moontlikhede van die Brugbediening in al meer kerke
raakgesien word. ‘n Klein kommissie is aangestel om voorstelle te maak
hoe die netwerk vir die Brugbediening in Suid-Afrika sou kan
funksioneer.

Belangstelling Groei Steeds

In die NG Kerk groei die belangstelling in die Brugbediening steeds.
Vanaf die Wes-Transvaalse sinodale gebied kom verskeie predikante vir
die opleiding in Brugbediening wat op 4 Augustus vanjaar in die Noorde
begin. Ook in die Noord-Kaap, Wes-en Suid-Kaap en Herv Kerk stel al
meer predikante belang. In die Kaap  vind ook opleiding plaas en in
verskeie gemeentes is brugpredikante werksaam. Sommige van hullle
ondergaan in-diens-opleiding in die Brugbediening. Navrae van gemeentes
kom oor die hele land. Die konsep van ‘n spesiaal-opgeleide predikant
wat gemeentes begelei in oorgangsituasies soos tydens
predikants-vakatures is nog ‘n vreemde begrip en kerkrade is dikwels 
huiwerig om hierdie perd op te saal. Maar die afgelope tyd het verskeie
kerkrade in die sinodale gebiede Hoёveld en Wes–en-Suid-Kaapland
verslae ingelewer tov brugpredikante se bediening wat hulle dienstyd
voltooi het.  Hierdie verslae is ter insae beskikbaar. Die Here seёn 
hierdie werk ryklik!

Wie is beskikbaar vir Opleiding?

Ons het begin om emeriti en mense kort voor emeritaat te betrek om
verskeie redes. Hulle gesinsomstandighede is sodanig dat emeriti se
kinders uit die huis mag wees en hulle meer mobiel kan wees. Ouer
predikante is waarskynlik meer ervare, maar nie elkeen is daarom
noodwendig geskik as brugpredikant nie. ‘n Aanbevelingsbrief van die
laaste gemeente word gevra want die goeie hantering van mense en
gemeentes is wesenlik belangrik. Daar is soveel veranderings in die
wêreld en in besonder in ons land aan die gebeur dat die brugpredikante
daarop ingesteld en opgelei moet word om o.a.  konflik en
transformasieprosesse te kan hanteer. Predikante kan gerus oorweeg om
vanaf 55 jaar en selfs vroeёr brugpredikante te word. Opleiding kan
gedoen word al is brugpredikantskap nie direk in hulle beplanning nie.
Die opsie kan oopgehou word. Die Here kan skielik so ‘n situasie oor
mens se pad bring!

Besonderhede oor die Opleiding

Vanjaar word by die Sentrum vir Kontekstuele Bediening, van die
Teologiese Fakulteit, Universiteit van Pretoria, weer eens ‘n 6-maande
opleidingskursus  deur medium van Afrikaans aangebied. Die kontakweke
vind op  4 tot 7 Aug  en 21 en 22 Oktober 2008 plaas.  Die
Brugbedieningsopleiding deur medium van Engels het nie vanjaar
deurgegaan nie. Errol Dengler van Anglikaanse kant is vanjaar by UP
ingeskryf vir die Afrikaanse kursusaanbieding en beoog om gedurende
September  ook in die VSA opleiding te ondergaan. Moontlik kan hy
volgende jaar met die aanbieding van die Engelsmedium opleiding van
interim ministers behulpsaam wees. Vir meer besonderhede oor vanjaar se
opleiding, kan Suki by 012 420 4951/2 geskakel word of vir Howard by
082 371 9346. E-pos : dutoit@netactive.co.za  Ook deur Communitas word
vir 18-20 Augustus 2008 ‘n kursus beplan en daaroor kan met Pierre
Goosen geskakel word. Sy kontaknommers is 021 808 2914 / 808 3382 of
sel 083 630 5676. E-pos is pmgoosen@sun.ac.za
Hartlike groete en beste wense vir ‘n geseёnde bediening!

Taakgroep : Sinode Wes-en-Suid-Kaapland – Bossie Muller en Pierre Goosen
Taakgroep : Sinode Hoёveld – Dolf de Beer, Jan Botha en Howard du Toit