{ARGIEF}

‘n Ouer dame in ons gemeente het baie opgewonde teruggekom van ‘n besoek aan familie in die Vrystaat waar die 40 Dae so pas aangebied was met die versoek dat Strooidak dit ook moet aanbied.

Die 40 Dae van Doelgerigte Lewe was vir drie jaar daarna ‘n staande punt op die agenda van ons Kerkraadsvergadering. Telkens is besluit dat die tyd nie reg was daarvoor nie.

Aan die einde van 2008 het die Kerkraad besluit dat ons as gemeente saam met Bikers Church en Drakenstein dit sal aanbied in Mei/Junie van 2009.

Daar is lank oor hierdie saak gebid dat die Here vir ons die regte mense sal gee om hierdie 40 Dae te dryf.

‘n Amerikaanse paartjie wat ongeveer 4 jaar gelede na Suid –Afrika gekom het, om voltyds vir die Here te kom werk en wat nou lidmate van ons gemeente is, het aangebied om die koördineerder van die program te wees. Hierdie dame was betrokke by Rick Warren se gemeente toe hy dit vir die eerste maal aangebied het.

Die beplanning het in Januarie 2009 begin waar ons elke Donderdagaand vergader het en vir ongeveer twee ure beplan het. Tans vergader ons Dinsdagaande waar elke erediens tydens die 40 Dae tot in die fynste besonderhede beplan word volgens die voorgeskrewe riglyne.

Waar aanvanklik met huiwering beplan is vir 120 kleingroepe, en later ‘n doelwit van 440 kleingroepe gestel is , is ons ongelooflik dankbaar om te kan sê dat daar tans 585 kleingroepe is met ongeveer 6000 mense betrokke by die kleingroepe. Behalwe die kleingroepe in die drie gemeentes is daar ook kleingroepe in die buiteland, skole, gevangenisse, ouetehuise en aftreeoorde. Aanvanklik was ons onseker, maar het besluit om 1200 boeke aan te koop teen R72000-00. Ons was egter genoodsaak om weer ‘n bestelling te plaas a.g.v. die groot vraag.

Nancy Cowie (ons koördineerder) het dit duidelik aan ons gestel dat die Here ons uit ons gemaksone gaan neem en dat ons ons daarop moet voorberei. Ons het die Here egter blindelings vertrou en glo dat die Paarl Vallei onherroeplik verander gaan word. Ons loof die Here!