{ARGIEF}

In my swerftogte deur ou stowwerige boekwinkels het ek op ’n stadium op die boekie “Power Through Prayer” van E M Bounds afgekom. Op daardie stadium het die naam Bounds niks vir my beteken nie en nog minder die titel – want het ek gedink – “die krag van gebed” is die titel van elke tweede boek oor gebed! ( Min het ek geweet dat ek later sou besef dat Bounds ( 1835-1913) vele geseënde boeke oor gebed geskryf het – daaroor op ’n ander stadium meer).

Wat my egter getref het in die boekie en my genoop het om dit te koop was die ou skewe stukkie papier wat voor in geplak was met die volgende inskripsie :

“ Dear Gerrie

I am sending you a little book for Xmas. I hope you will get a great, deep blessing from its pages. I have always longed for you to be the preacher described in it. “The praying preacher” May God make you a power for His Church through Prayer.

Susan”

Die woorde het my skielik so geraak dat ek eers moes sit en daaroor dink. Kan dit wees dat ek ’n dominee is wat verwag dat die Here kragtig deur my moet werk – sonder dat ek werklik ‘n gebedslewe het ? Hoe behoort die gebedslewe van ’n dominee te lyk?

Ek onthou dat een van my dosente altyd geweldig klem daarop gelê het dat ‘n predikant sonder gebed soos ’n motor sonder brandstof is. Hy word ’n motor genoem, hy het al die eienskappe van ’n motor , maar kan niemand iewers heen vervoer nie. Ek onthou dat hy altyd klem daarop gelê het dat gebed die werk van ’n predikant is. Dit is sy opdrag om te bid. Hy moet vir elke lidmaat by die naam bid , nie net in hulle teenwoordigheid nie , maar ook in sy eie persoonlike gebedstyd. Toe het ek besef dat my motor nie baie vinnig beweeg nie en soms sommer heeltemal gaan staan!

Ja – vandag dink ek dat gebed te min aandag kry in die opleiding van predikante, want in die etiek van Geesink is gebed as een van die asketiese dissiplines behandel . In Karl Barth se Dogmatiek word gebed as een van die loci hanteer.

Ek wonder soms wat het gemaak dat dit later nie meer gebeur het nie , dat dit verlore geraak het. Ek wonder ook of predikante weet watter krag en seën daar in gebed is.

…..Het Gerrie “the praying preacher” geword en God se volle krag deur sy gebedslewe ervaar?

 

Quintus