{ARGIEF}

Later het ons gekliek dat daardie groepe weer doodgeloop het omdat ons mense dit as ‘n termyn verstaan het. Nét 40 dae. Dis tog ook nie verkeerd nie. Daar kan sulke tye en groepe ook wees. Nog dieper het  ons verstaan dat daar nie werklik leiers na vore gekom het nie – net gashere/dames. Dis ook oraait, maar dit het nie die nuwe leierskap wat ons benodig, help groei nie.

Ons besef dat ‘n nuwe seisoen nuwe leierskap nodig het. Nie noodwendig nuwe mense nie, maar ‘n nuwe verstaan van leierskap. Vir ‘n sekere visie het jy sekere leierskap nodig. Ons het besef ons moet gelowiges help om te verstaan enigeen kan ‘n leier wees. Leierskap is invloed. Meer spesifiek: om God se koninkryk te help groei, om dissipels te maak. Wat ons nodig het, is meer leiers wat sê: Ja, ek is bereid – al weet ek nie alles nie. Dit hang saam met ‘n dieper beginsel wat ons al vir 18 jaar probeer vestig. Dis die beginsel dat die verantwoordelikheid vir jou verhouding met God en jou geestelike groei primêr by jouself berus. Geestelike volwassenheid is om self te kies en eienaarskap daarvoor te neem.

Nou ja, terug by 72 leiers. Jesus het 72 uitgestuur (vgl Luk 10). Vir lank tob ons hoe gaan ons meer leiers kry. En ons bid. Ons is ook besig met ‘n bouprojek om ‘n nuwe lofsentrum op te rig. So nooi ons vir ds Dirkie van der Spuy van bekende Moreletapark-faam om hulle geloofstorie met ons gemeente te kom deel. Na sy stilword met God sê hy dat hy oortuig is ons bouplan moet saam met ons groeiplan loop. Daarom preek hy daardie Sondag oor hoe die Here deur omgeegroepe hulle gemeente aangeraak het om die groot drome waar te maak. Ons is opnuut aangeraak deur die Gees se werking soos tydens Handelinge 2. Ds Dirkie gaan met die leierskap na die eredienste gesels.

Wie is die leierskap wat daar opdaag? Almal wat ‘n SMS gekry het – dienswerkers, omgeeleiers, kerkraadslede, Bybelstudieleiers, mense wat projekte hanteer ens. Baie het hulleself nooit gesien as leiers nie, maar ons het hulle so genoem en genooi, en hulle het daarop reageer! Ons het heelwat nuwe omgeeleiers daardie Sondag gekry. En uit ons bestaande groepe het heelwat lede na vore getree wat bereid is om leierskap op te neem.

Agterna besef ek: God het hulle klaar voorberei. Hulle is beskikbaar. Hulle wag net op die visie en die oproep.

Ek het nog nie getel nie. Ek dink daar is heelwat meer as 72 leiers. Ons moes hulle net so noem en aanwys en help verstaan hulle ís. Onswil graag ons gemeente help verstaan ons is 2600 leiers. Mense wat ‘n samelewing kan transformeer. Mense wat elke dag Jesus se invloed uitleef. Wat ander kan help dissipels word. Dís die leiers wat Jesus soek. Leiers wat Jesusdissipels maak.

MOONTLIKE AKSIE: Besluit saam vir watter nuwe visie soek julle leiers. SMS almal wat moontlik kan kom. En bemagtig hulle.

WENK: Hierdie reeks word onder die indeks van 52 geplaas sodat ons soos Nehemia die muur in 52 dae kan herbou. Voel vry om hierdie te dupliseer en uit te deel vir bespreking. Forward dit vir jou mense. Sit net ‘n skakel na hierdie bladsy by (ek behou die kopiereg). Stuur asb vrae sodat ek meer konkreet kan help bou.