{ARGIEF}

Baie mense, indien nie almal, is bekommerd oor die morele verval, soos gesien in die vlaag van geweld, misdaad, korrupsie, disrepek en wetsoortredings.

Hoe kan ons, hoor ek gedurig, die samelewing meer menslik en hoopvol maak? Hoe kan ons die toekoms so beinvloed dat respek, eerlikheid, goedheid, moedigheid, hoop, trou en diensbaarheid aan die orde van die dag is.

Ds. Dietrich Bonhoeffer, die Duitser meen in tye van morele verval, daar 2 soorte houdings is wat NIE pas by kerkmense nie. 1. is – ‘n houding van hoogheiligheid – hulle wat net kritiseer, blameer, sleg sê, skuld gee, en doemprofeet is.

Die 2de is – ‘n houding van opportunisme – hulle wat nie die kwaad bestry, nie die nood help verlig nie, maar elke oomblik tot eie gewin gebruik. Bonhoeffer meen dat Christelik verantwoordelike mense in sulke tye vra, wat kan ek nou hier doen om die toekoms positief te beinvloed. Dit meen Bonhoeffer is hoe ons begin om’n toekoms te verseker.

Dit is wat Markus in hhstk 10 verse 46 tot 52 uitbeeld. Daar ontmoet Jesus die blinde Bartimeus. Die skare maan Bartimeus, ’n man in nood, ’n man wie se menswaardigheid deur sy bedelary geskend is; van vernedering en gespot, kan niemand hom iets vertel nie.

Sy toekomsvisie was afhanklik van ander se goedhartigheid. Hy was oorgelaat aan die veranderlikheid van die mens. Dus, wanneer hulle met hom raas en hom maan om stil te bly, was hy nie hieroor verbaas of tot stilswye beweeg nie. Nee, na sy vele slegte ervaringe as bedeleaar, skreeu hy eerder harder, “ Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”.  Hierin hoor ek die moedeloosheid oor mense wat hulle nie aan hom steur of enigsins ’n vinger verroer om sy nood te verlig nie.Ek hoor sy hopeloosheid oor sy situasie en sy toekoms. MAAR anders as die mense, stop Jesus, roep hom en vra “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Op die lang verwagte goddelike en menslike vraag antwoord hy – “dat ek kan sien.”

Die resultaat – Jesus gee sy gesig terug. Jesus doen iets  wat die toekoms van die man in nood verander het. En dit is waartoe ons as geloofsmense, as Chistene, as kerk geroep word.  Instede dat ons met ons hoogheiligheid en opportunistiese houding, mense in nood tot niks en van-geen-belang reduseer, en so die morele koudheid van ons samelewing  aanhelp, vergestalt ons ons omgee. Ons doen dit deur ons geloofsoortuigings, menslikheid en betrokkenheid in die lewe van randfiguur-mense, die vele Bartimeuse in dade van omgee oor te sit. Wanneer ons met die nood en ellende van ander gekonfronteer word, vra ons vandag as verantwoordelike gelowiges en burgers “wat kan ek vandag doen, om die toekoms vir almal positief te beinvloed?”

Gebed: Here help ons om die nood van ander raak te sien en vandag iets te doen. Amen.

Donald Katts