{ARGIEF}

Dat ons morele herstel nodig het, is ’n kommer wat beide politikus en teoloog, ekonoom en wetenskaplike deel. Die knellende vraag in die debat van morele herstel is –  Wat kan gedoen word? Waar begin ons?

Soos Bonhoeffer, Anna Arendt, George Picht  met voorstelle kom, bied die moraalfilosoof, Johannes Van der Ven, dissipline aan as vertrekpunt tot enige oplossing van ons morele verval.

Van der Ven argumenteer dat vir dissipline om effektief te wees, dit nie net met goeie, en  ferme,  beheer gepaard moet gaan nie, maar moet dit veral met baie omgee, sorg en liefde beheer word. Dissipline weet ons, dra by tot goeie gewoontevorming, wat weer goeie karakter tot gevolg kan hê.

Dit is immers die doel van dissipline om goeie morele mense en of burgers te kweek, mense en of burgers wat oorvloedig is in die doen van die goeie, die mooi en naspeurlike.

Woorde wat vir dissipline in die Nuwe testament gebruik word is  leer, onderrig, bestry, vermaan, teregwysing, weerlê en bestraf. Dit is dan ook hoe dit in  2Tim.hstk 4:2-4 voorkom. Hier word die gedagte van dissipline sterk deur die verwante woordgroepe uitgedruk.

Paulus skryf aan Timoteus om met die toepassing van dissipline – betekende lering, onderrig, bestryding, weerlegging, aanmoediging en geduld aan te hou – 1stens om die gemeente te help om teen die dwaalleer en verval staande te bly, en 2dens – omdat daar ’n tyd sal aanbreek waar mense nie meer na die gesonde leer sal luister nie (m.a.w. mense sal ongedissiplineerd raak, mense sal enige vorme van teregwysing, vermaning en dissipline versaak).

So getuig die kerklike praktyk van kerktug, ook van die noodsaaklikheid om dissipline te handhaaf. Vertel dit ’n storie dat dissipline van belang is, dit ’n rol te vervul het in die vorming van die gelowige se geestelik en morele karakter? Die vermoë en ingesteldheid om jouself dinge te kan ontsê, jouself van verkeerde dinge te distansieër, negatiewe dinge op te sê, en dissipline dien as bewapening van die self teen slegte invloede. Ek wil waag om te sê dat sonder dissipline dit moeilik, indien nie onmoontlik is om aan God, toegewyd te wees, jou naaste moreel te beinvloed en ’n dinamiese getuie van die evangelie te wees.

Dus, kom ons maak dissipline deel van ons Christelike mondering en ons Christelike geloofslewe. Want deur ’n gedissiplineerde lewe, kan ons die morele woestyn transformeer in ’n  oase van die goeie, die mooie, opbouende en menslike.

Gebed: Here maak my gedissiplineerd in wat ek doen, sê en dink en veral in hoe ek as u kind leef. Amen.

Donald Katts