{ARGIEF}

Ons leef in ’n na-apartheid konteks.  Kan voorheen benadeeldes op ’n gelyke voet met voorheen bevoorregtes hul potensiaal ontwikkel?

Dis ’n belangrike vraag. Ons het almal potensiaal. Maar Apartheid het baie mense benadeel, dikwels in so ‘n mate dat hulle nie hul vermoëns maar enigsins kon ontwikkel nie. Ek ken liewe mense wat nie kan lees en skryf nie. Hulle was slagoffers van omstandighede buite hul beheer. Daarom is daar nuwe wette wat die onreg van die verlede aanspreek en regstel. Die uitdaging nou is dat voorheen benadeeldes en voorheen bevoorregtes hande sal vat.

Daar word tog meer van bevoorregtes verwag as om hande te vat of wat, Pieter?

Jy’s reg. Bevoorregtes neem verantwoordelikheid vir hul aandeel aan die onreg, en soms beteken dit dat ons van ons voorregte moet prysgee sodat benadeeldes die ruimte het om op gelyker vlak hul potensiaal te ontwikkel.

En benadeeldes…?

Hulle gryp die nuwe geleenthede aan, en neem beheer van hul lewens. Onder hulle is daar diegene wat ‘n slagoffermentaliteit sal moet prysgee. Dit alles is nie altyd maklik nie, maar dis moontlik, veral wanneer mense mekaar se menswaardigheid respekteer en bevorder. Instansies soos die skool, die kerk en die radio kan mense sleutels of vaardighede gee  om hulle vermoëns te ontdek en te ontwikkel. So kan negatiewe optredes en minderwaardige denke hok geslaan word.