{ARGIEF}

Gisteroggend by die diens het ek almal wat wil, vorentoe geroep wat in die afgelope jaar iemand aan die dood afgestaan het, of wat sommer net vir die Here wil dankie sê oor sy goedheid of ‘n tweede kans in die lewe. Eugene T se suster is in ons gemeente en sy het net onlangs intensiewe chemoterapie en bestraling vir borskanker voltooi. En nou die moord op haar broer. Haar hare begin nou net weer groei. Dit was besonders om haar ook daar te kon hê, na haar te kon luister en saam as gemeente vir elkeen te kon bid. Die viering van Christus se oorwinning oor die dood nog vars in  ons geheue.

Gistermiddag het ons ‘n byeenkoms vir al die kerkleiers in die gemeenskap gehou. Die burgemeester (vrou) is die kerke baie goedgesind. 15h00 gistermiddag kom ons toe in die raadsaal vd munisipaliteit byeen. Wat ‘n wonderlike geleentheid! 13 kerkdenominasies se dominees was daar, wit en swart. Ek ontmoet ook ‘n swart ds wat jare gelede een van my pa se studente in Witsieshoek was. Wat ‘n verrassing en voorreg!

Van die dinge wat gesê is:

  • “Broers, ons moet mekaar as mense beter leer ken”
  • “Dit help nie ons het net hierdie vergadering vanmiddag nie, ons moet mekaar meer gereeld sien” Almal beam dit.
  • “Ons gemeenskap het nie in die 1ste plek ‘n politieke oplossing nodig nie, maar ‘n Christelike oplossing. Dis net deur Christus wat ons met nuwe oë na mekaar kan kyk”
  • “Ons weet nie hoekom het God mense wit en swart geskape nie. Ons het nie een gevra om as wit of swart gebore te word nie. Eer die verskeidenheid, leer by mekaar en luister na mekaar”
  • “Kerke/christene/ons gemeentes moet die brugbouers wees”

Die leraars van die gemeenskap gaan nou probeer om maandeliks bymekaar te kom; elke keer by ‘n ander gemeente se kerkgebou “sodat ons lidmate ook kan sien ons ontvang wit of swart broers in die Here by ons gemeente” .

Dankie vir elkeen wat ons gebel het, ge-sms het, saam gebid het in hierdie tyd. Ons waardeer dit opreg. Wat dalk nog als voortspruitend nog vir ons voorlê uit Eugene T se dood, weet ons nie. Mag sy dood o.a daartoe lei dat ons met nuwe oë na onsself kyk, ons eie vooroordele  en manier van praat oor/van ander mense. Hoe ons met of van ander mense praat, wys dikwels hoe ons eerbied en respek vir die lewe sien, verstaan en uitleef.

Mag die Here regtig vir ons wysheid gee om “in ‘n tyd soos hierdie” sout en lig vir Hom te wees “sodat ons Vader wat in die hemel is, daardeur verheerlik word”.