{ARGIEF}

(Ek het die foto geneem in Grootfontein – die son is soos ‘n ster wat die kruis op die nok van die
Anglikaanse kerkie verberg – ek noem dit ‘n Afrika Epifanie– Frederick)

Epifanie is een van die drie belangrikste feeste in die kerkjaar. Die meeste Christene vier dit op die 6de Januarie om die besoek van die wyse manne aan Josef, Maria en die kindjie Jesus in Betlehem te herdenk. Die Rooms Katolieke vier Epifanie op die Sondag tussen die 2de en die 8ste Januarie.

Epifanie kom van die Griekse woord epiphaneia wat manifestasie of verskyning beteken. In godsdienstige terme beteken dit gewoonlik die verskyning van ‘n goddelike wese in een of ander visuele vorm.

Die simbool wat aan Epifanie gekoppel word is die ster – wat verwys na die ster wat die wyse manne gelei het tot by die kindjie Jesus in Bethlehem.

Die viering van Epifanie het begin in die Oosterse kerk wat ook die geboorte van Christus ingesluit het. Teen die 4de eeu het die Westerse kerk egter begin om die geboorte van Christus op die 25ste Desember te vier.

Die periode tussen 25 Desember en 6 Januarie is bekend as die twaalf dae van Kersfees – wat die onderwerp is van die bekende liedjie Twelve Days of Christmas.