Vredesgebed
Here, ontferm U oor ons
In ú wil lê ons vrede
Dankie dat ons weet u hande is nie te klein om ons vas te hou nie
Dat U vir ons ‘n nuwe môre van genade, vreugde en waarheid wil laat aanbreek!
Laat o Heer, ú vrede deur ons vloei
Waar haat en onreg en stryd is, laat ons daar u liefde bring
Laat ons in pyn en leed en smart vertroostend wees
En krag gee deur geloof in U alleen!
O Heer, laat ons altyd só leef
Dat ons ander hoër as onsself sal ag
Dat ons ander bó onsself sal liefhê
En méér sal gee as wat ons verwag!
Laat ons u lig in die duisternis van hierdie wêreld laat skyn
Leer ons dat vergifnis vrede beskerm
Laat ware liefde en vreugde uit ons straal
Sodat ander U al meer in ons kan sien!
Here, U weet, in tye van oorlog en geweld begrawe vaders en moeders hul seuns en dogters
In tye van vrede begrawe seuns en dogters hul vaders en moeders
Ons weet, o Christus, vrede word nie in raadsale gesluit nie
Dit blom in die harte van mense – wat deur u Gees geraak is!
Vrede is nie die stilte wat kom wanneer geweld verby is nie
Dis die gevoel van medemenslikheid wat geweld verhoed!
Dankie Heer, dat U vrede gee wat alle verstand te bowe gaan
Selfs ook die misverstand!
O God, laat ons meer en meer besef – vrede is iets wat ons is, in U
Wat ons moet weggee
Laat ons glo in vrede, bid daarvoor en praat daaroor
Laat ons veral werk daarvoor!
Amen