{ARGIEF}

Dis vroegoggend Saterdag 9 Feb 2013 en ‘n klompie kerkraadsvroue van NG gemeente Brandwag klets saam met piepklein voëltjies onder die prieël op Stokkiesdraai, hoog teen die hange van die Brandwagberge by Worcester. Toe ek omdraai, gryp die uitsig my — ons het skielik die wêreld aan ons voete!! Hoe gepas, want ons onderwerp was Vroue met Vlerke! My hart word onuitspreeklik bly in Hom deur Wie en vir Wie alles geskep is — ook ons klompie!
altOns spreker vir die oggend was mev Antoinette Muller voorsitter van Taakspan Vrouelidmate. Ons hoor dat ons mekaar ruimte moet gee om te leef en te groei. Hoe anders kan ‘n mens jouself ontgin en ken as jy nie bereid is om ander toe te laat om buite die bekende wêreld te beweeg nie.
Ons luister na en sing pragtige geestelike liedere en daarna moet almal doodstil bly sodat ons kan luister en hoor! Ons skrifgedeelte is Luk 1:27-38 — Die geboorte van Jesus word aangekondig. Elkeen moet iets kies (‘n sin of woord) wat tot jou spreek. Sonder om te praat, gaan sit ons elkeen by iemand wat vir jou ‘n vreemdeling is of van wie jy baie min weet. Ons vertel mekaar iets van onsself en bespreek toe met mekaar dit wat vir ons aangrypend was in die skrifge-deelte.
Hierna moet elkeen aan die groep vertel wat sy maat gesê het. Ons ontdek wonderlike behoeftes van God soos Ons is begenadigdes, ons hoef nie bang te wees nie, by God is alles moontlik … En dan ook ons deel van die ooreenkoms — ons stel ons tot beskikking van die Here.
Ons luister en leer mekaar se omstandighede en begeertes ken. Dit was ‘n vreugde om te besef dat ons almal net gewone vroue is, wat mekaar moet help om ons vlerke te sprei, want ons Vader by wie alles moontlik is, ken ook ons drome en begeertes om goed te doen.
Met die kronkelpad terug dorp toe, voel my gemoed lig en sien ek Brandwag se vroue in my geestesoog met oop vlerke sweef en ek jubel in my Here vir ‘n onvergeetlike geseënde oggend.