{ARGIEF}

Om ‘n samelewing te bou wat waarlik ‘n habitat van geborgenheid is, het ons mense nodig met goeie habitus, mense van karakter en deug. Ons het mense nodig wat onder andere die deug van wysheid, van onderskeidingsvermoë, beliggaam.

Volgens die filosoof Aristoteles kan mense met moed vrees oorwin, ook die vrees om ‘n sogenaamde edele dood te sterf ter wille van die oorlewing van ander mense. Ook die middeleeuse teoloog, Thomas Aquinas, verwys na die moed wat nodig is om ‘n martelaarsdood te sterf ter wille van ‘n goeie saak. Hierdie martelaarsterftes wil nie in diens van die dood staan nie, maar in diens van die lewe. Dit is sterftes wat God se koninkryk wil dien. Dit is sterftes wat hoopvol is. Sulke martelare weet God sal nie die werk van sy hande laat vaar nie.Sulke sterftes en opofferinge staan in diens van die koms van die dag dat alle mense en die natuur volle vriendskap met God geniet.Mense wat met oorgawe en vreesloos soveel opoffer, selfs hul eie lewens, is morele helde.

Dit is egter nie net in sulke uitsonderlike situasies waar moed gevra word nie. Ons het moed meermale in die gewone gang van die lewe nodig. Ons word geroep om morele helde te wees in die alledaagse lewe. Morele helde is mense wat die nood raaksien en met krag handel en iets daaraan doen. Morele helde is mense wat die regte ding raaksien en dit ondubbelsinnig verkondig, selfs al sou hulle daaroor benadeel word. Morele helde is mense wat nee sê vir die verkeerde selfs al sê almal rondom hulle ja vir wat verkeerd is.Hulle stry die goeie stryd op ‘n liefdevolle konstruktiewe wyse. Johannes Calvyn noem hulle stoeiers vir die regte saak, soldate wat slegs God se woord as swaard het, en morele helde wat te midde van die moeilikste omstandighede soek na wat reg is in God se oë.

Mense met moed is ook mense wat geduld beoefen.  Hulle wag op die Here. Hulle raak nie gejaagd en oorhaastig en angstig nie Hulle weet God sal voorsien. Hy sal oorwinning skenk.

Mense met moed verdra ook lydingsituasies op moedige wyse. Hulle weet in ons lyding is ons nie alleen nie. In die vuuroonde is God saam met ons. Hy is saam met ons in die stormwaters. Hy dra ons deur die vlamme en deur die stormwaters. Sy teenwoordigheid by ons is ‘n heilsame, reddende, vernuwende, hoopgewende teenwoordigheid – ‘n teenwoordigheid wat donker verander in lig, stryd in vrede, trane in glimlag, gekryt in sang, bitter Maras in soete Elims

Liewe Here, gee ons krag om nee te se waar ons moet. Gee ons krag om ja te se waar ons moet.Gee ons geduld omdat on sweet God sal voorsien. Gee ons krag in lyding en swaarkry omdat on sweet wie met ons is. Immanuel, die Een wat alles regmaak.