{ARGIEF}

Om te mens, skryf my oudkollega Danie Schreuder, is om die wêreld waar jy leef, ‘n beter, mensliker plek te maak vir ander. Hoe mens jy? M.a.w. op watter manier is jy besig om die wêreld ‘n beter, leefbaarder, mensliker plek te maak vir ander? Die waardes van omgee, diens en sorg is van die ononderhandelbare kernwaardes in die Skrif.

Dit is so maklik om betrokke te raak by ander, ons hoef nie Kalkutta toe te gaan om daar te gaan help nie, ons kan maar net by ons deur uitstap.  My sus is help elke week vir n paar oggende by ‘n kleuterskool in ‘n plakkerskamp nie ver van hulle huis, my buurvrou brei elke jaar ‘n berg beertjies en mussies vir vigswesies, my een vriendin maak sop vir ‘n sopkombuis en ‘n ander een gaan elke week die siek mense in die hospitaal besoek, ‘n matriekseun in ons buurt leer Saterdae hul tuinman lees.

Wanneer jy betrokke te raak by ander en van jouself gee, help jy nie net die ander nie, maar red jy ook jouself, sodat jy nie in jouself vasdraai nie.

Volgens Capps in sy boek Deadly sins and saving virtues is die dodelike sonde van middelvolwassenheid (30/35 tot 60 jaar) apatie en die deug wat middelvolwassenes kan red van apatie is diensbaarheid.  Miskien is daar n paar woonstelle van jou af ‘n baie eensame ouer persoon vir wie jy af en toe kan gaan voorlees uit ‘n geliefde boek, miskien is daar in jou straat ‘n jong mamma wat sukkel met ‘n eerste baba vir wie jy kan help en raadgee.  Maar dan sal ons nie meer vir Jesus kan skyn “jy in jou klein hoekie en ek in myn nie”, ons sal moet uitkom uit ons hoekies en opstaan uit ons stoele en wegkom voor die TV, die simbool van apatie,  en die hart en die energie hê om werklik betrokke te raak by ander mense.

Jesus leer ons in  Mat 11 : 28 – 30 hoe om waarlik te mens:  Die Boodskap “ Kom luister wat Ek vir jou oor die lewe wil leer: Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê. Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef.  Dit is nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees”.

“Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê.”

Gebed: Ag Heer  Help ons om nie vasgedraai te raak net in onsself nie, maar om te leef soos U wil hê dat ons moet leef.  Help ons om die skuif te maak weg van ek en my na ons, van selfgesentreerdheid na andergesentreerdheid, van sukses na diens, want U belowe dat u ons sal verras as ons dan ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê dat ons moet leef.

RSG Aandmeditasies soos gereël deur die Morele Ondersteuningsgroep van Communitas aangebied deur Jeanette de Klerk