{ARGIEF}

Gordon Mc Donald skryf in een van sy boeke oor die dwase man wat ‘n seiljag gebou het. Hy wou die grootste, mooiste seilboot bou wat nog ooit uit daardie hawe gevaar het, want hy wou baie graag die volgende voorsitter van die seiljagvereniging word. Die  man het baie daarvan gehou wanneer mense gepraat het van die pragtige houtwerk en geelkoper afwerking van die seiljag en hoe meer die mense gepraat het oor die boot, hoe meer tyd, aandag en geld het die man aan die dinge spandeer wat bo die waterlyn was, want het hy geredeneer, dit is tog al wat die mense gaan sien.  Hulle gaan nie hande klap vir dit wat onder die waterlyn is nie.

Die dag van die nooiensvaart het aangebreek en almal was op die kaai, die orkes het gespeel en die sjampanjebottel is oor die boeg gebreek.  Die dwase man was trots toe hy hoor hoe almal praat oor die ongelooflike mooi seiljag en hy was seker dat hy die volgende voorsitter sou word.  Hy was so selfversekerd dat hy nie opgelet het dat die seiljag wat saam met hom uitgevaar het omgedraai het oor ‘n naderende storm nie en gou was hy self in die moeilikheid.  Omdat die boot onder die waterlyn byna niks gehad het om dit in ‘n storm te balanseer nie, het ‘n groot brander die boot laat omslaan en die dwase man is oorboort geslaan en het verdrink.  Toe die wrak ‘n paar dae later uitspoel het die mense net hul koppe geskud en gesê “Wat ‘n dwase man, om so seiljag te bou, daar was dan niks onder die waterlyn nie!

Is ons nie ook maar so dwaas soos die man nie en bou ons nie ook dikwels ons lewens, sonder om veel tyd en aandag te gee aan dit wat onder die waterlyn is, dit waarvoor daar nie eintlik applous gegee word nie, omdat dit nie altyd so sigbaar is nie, aan karakter.

  • Karakter is dit wat die kwaliteit van jou mensweees bepaal,
  • Karakter is dit wat maak dat ons nie oneerlike kortpaaie tot sukses neem nie,
  • Karakter is die voetstuk of fondament waarop jou lewe gebou word en wat bepaal hoeveel gewig jy kan dra.
  • Karakter is die enigste ding wat nie begrawe word nie, maar saam met die roubeklaers wegstap van die graf.
  • Karakter is dit wat jou laat opstaan en weer begin as die lewe jou platgeslaan het. Helen Keller het gesê “Karakter ontwikkel nie in gemaklike rustige omstandighede nie, maar dit word gebou deur  beproewing en lyding te ervaar.

Die Boodskap staan dit ook in Romeine 5: 3 en 4  Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertou en wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ‘n sterk karakter te vorm en ‘n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag.

Bid saam: Gee tog Heer dat ons nie so besig is met wat bo die waterlyn is, dat ons nie tyd en aandag gee aan dit wat onder die waterlyn is nie, want dit is waarin u belangstel.

RSG Aandmeditasies soos gereël deur die Morele Ondersteuningsgroep van Communitas aangebied deur Jeanette de Klerk