{ARGIEF}

Hoeveel keer het jy al die opmerking gemaak dat mense in Afrika altyd net bakhand staan, gereed om te bedel? Dit is die realiteit waarbinne ons leef vandag en vir miljoene mense is die enigste hoop wat hulle het, ’n aalmoes wat deur ’n ryke uitgedeel word. In Swaziland is hierdie siklus besig om te breek. In die suidelike (Shiselweni) distrik van Swaziland het ’n Gideonsbende opgestaan wat besef het dat hulle iets vir hulle medemens kan doen, selfs al het hulle nie geld nie.

Swaziland is die land in die wêreld wat die ergste geraak word deur die VIGS-pandemie. Amptelik is meer as 25% van die volwasse bevolking MIV-positief. Nie-amptelik is dit baie meer. Meer as 10% van die bevolking is weeskinders. Hospitale het gewoon nie genoeg beddens om al die sterwendes te hanteer nie. Maar in 2006 het ’n groepie van 32 mense, in ’n gemeenskap bekend as Dwaleni, ’n keuse gemaak om iets aan hierdie situasie te doen. Sommige van hulle was lidmate van die Shiselweni-gemeente van die Swaziland Reformed Church. Sonder ’n sent op hulle naam, alleen met die geloof en oortuiging dat dit die Here self is wat hulle roep, het hulle gevra dat hulle opgelei word sodat hulle siek mense binne hulle gemeenskap kan help deur middel van tuisversorging. Met ’n passie en ’n deernis wat bo-menslik is, het hierdie groepie mense begin om sigbaar die hande en voete van Jesus binne hulle gemeenskap te word.

Mettertyd het ander gemeenskappe versoeke na hierdie mense gerig om hulle ook te help om dieselfde binne hulle eie gemeenskap te doen. Gedurende 2007 is vyf ander groepe opgelei tot ’n totaal van 180 mense wat as vrywilligers gewerk het onder die vaandel van Shiselweni Reformed Home-Based Care. Gedurende 2008 is ’n verdere 220 mense in ses ander gemeenskappe opgelei. Gedurende 2009 is tien nuwe groepe opgelei en tans is bykans 700 vrywilligers deel van hierdie werk. Sewe gemeenskappe het reeds gevra dat hulle in 2010 opgelei sal word. Internasionaal het hierdie organisasie erkenning gekry toe dit in 2008 in Amerika vereer is met die Courageous Leadership Award. Binne Swaziland word hierdie groep mense beskryf as een van die mees effektiewe nie-regerings organisasies wat tans in die land werksaam is in die geveg teen MIV en VIGS.

700 mense, waarvan byna almal onder die broodlyn leef, sonder enige inkomste, baie van hulle self MIV-positief, het besluit om nie net ontvangers van God se seën te wees nie maar om self bedienaars van seën te word. Daagliks, in ongeveer 2500 huishoudings, in hutte en in modderhuise in die armste dele van Swaziland, word daar hoop gebring in die lewens van mense. En elkeen wat met hierdie groepie mense te doen kry, ervaar hoedat God se seën aan hulle oorgedra word.

NS: Alhoewel Shiselweni Reformed Home-Based Care met ’n baie klein begroting werk, het hulle onlangs begin met ’n program wat bekend staan as “Adopt-A-Caregiver” – ’n poging om elkeen van hierdie vrywilligers in staat te stel om basiese medikasie en kos te bekom sodat hulle hulle werk nog beter kan doen. Indien jy belangstel om meer te leer oor hierdie “draers van hoop” en hoe jy hulle kan ondersteun, kan jy gerus na hulle webblad gaan kyk by www.shbcare.org of kontak die leraar, Arnau van Wyngaard, by wyngaard@lando.co.za