{ARGIEF}

Ek bevind my tans in die gevangenis en dien ‘n vonnis van sewe jaar uit weens bedrog. My huidige posisie is egter die uitvloeisel van nagenoeg 15 jaar van dwelmafhanklikheid. En dit is maar net die resultaat van ongehoorsaamheid aan die Here. Wanneer ek nou terugkyk kan ek elke wesenlike besluit duidelik identifiseer. Dit was besluite wat ek op my eie geneem het sonder om ons Vader daarin te ken.

Deur my eie wilskrag en beste bedoelings kon ek nooit uit die greep van afhanklikheid loskom nie. Ek moes eers alles verloor en in die gevangenis beland voordat ek my tot God gekeer het.

Vandag dank ek Hom vir alles wat oor my pad gekom het. As dit nie gebeur het nie, sou ek dalk nooit tot inkeer gekom het nie. Dit is ironies dat ek hier toegesluit is, maar nou vir die eerste maal ware vryheid ervaar. Ek het nou “vryheid van keuse”. Wat ek bedoel is dat ek vry is om die keuse uit te oefen om die Here te dien. Alhoewel dwelms hier geredelik beskikbaar en bekombaar is, het ek die keuse om dit te weier. Dit alles het die Here vir my gegee. Ek kan waarlik sê dat ek ‘n nuwe skepsel is.

Om dié redes is u studiegidse vir my van onskatbare waarde. Geestelik is ek nog maar ‘n baba. Ek het melk nodig vir my voortgesette groei. Die studiegidse is in ‘n beknopte en eenvoudige formaat saamgestel, maar bevat al die waarhede wat ek nodig het om te groei “…tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.” (Efes 4:13)

Baie dankie vir die wonderlike studiegidse van Bybelkor.