{ARGIEF}

Verskeie persone neem die leierrol op omdat hulle die dieper behoefte het om te wys dat hulle wel saak maak. Hulle wil op hierdie manier sê hulle is iets werd, hulle lewe is betekenisvol, hulle is iemand met wie jy rekening moet hou.

Dalk probeer hulle onbewustelik ‘n onderwyser of ouer wat hulle geïgnoreer het se aandag trek. Moontlik wil hulle iemand wat hulle seergemaak het ‘n punt wys. Hulle steek hierdie dieper dryfveer weg agter lofwaardige tekste wat hulle eie visie versterk.

Omdat die dryfveer in hierdie leierskap jou eie self is, is die grootte van die visie en die omvang van die impak beperk tot jou eie vermoëns. Die verskil is vasgevang in jou eie denke en gebede.

Geestelike leiers weet daar is ‘n ander Geheim. Daarom gee Paulus aan God die eer: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink…”(Efesiërs 3:20). Geestelike leiers glo Gód kan oneindig meer doen.

As jy klaar gebid en gedink het… laat Gód toe om oneindig meer te doen. Ook in en deur jou.