{ARGIEF}

Maak daarvan iets spesiaal.  Gee ’n simboliese geestelike geskenkie (afhangende van die ouderdom sou dit kon wissel: ’n houtkruisie, ’n kruishangertjie, ’n Christelike CD, t-hemp, of DVD, of selfs net ’n lied, gedig of persoonlike brief).  Bak koek.  Laat die kind besluit wat julle gaan maak vir aandete.  Vier dit as gesin deur een van julle gunsteling tydverdrywe saam te doen.  As julle ’n video van die doop het, kyk dit saam.  Onthou om die kinders te betrek by die beplanning van die dag.

Simbole is belangrik.  Versier die koek met Christelike simboliek (bv kruis, duif, anker, rots, die moontlikhede is eindeloos).  Herskep ’n sentrale plek in julle huis as doopherinneringsplek.  Julle sou die volgende kon gebruik:  ’n Kruis, ’n bakkie water, die doopkers, Doopbybel – oopgemaak by die gedeelte wat by sy/haar doop gelees is – en doopfoto’s.

Skep ’n gesinsritueel.  Spreek ’n tyd af wanneer die hele gesin by die doopherinneringsplek bymekaar gaan kom.  Hier sou julle die volgende kon doen:  Gee vir die een wie se doopdag gevier word geleentheid om sy/haar doopkersie aan te steek.  As pa of ma voorgaan, kan hulle iets sê soos:  “Hierdie kersie herinner ons dat daar geen einde is aan die Here se liefde en getrouheid nie.”  Jy sou ook ’n bietjie van die water kon neem, ’n kruisie op die kind se kop kon maak en sê:  “Ons herinner jou dat God x jaar gelede op hierdie dag, kom wys het dat jy Syne is.”  Daarna lees iemand die gedeelte uit die Bybel en iemand kry die geleentheid om ’n gebed te doen. 

Wees kreatief.  Natuurlik is dit die ideaal dat julle as gesin hierdie voorstelle as vertrekpunt sal neem en julle eie unieke tradisies (ook vir ander betekenisvolle gebeure in julle as gesin se lewe) sal vestig.

 

 

 

Hoe hierdie voorstelle ons gemeente se dooppraktyk sal verander:

1. Ons sal weer, naas die Bybeltjie, ook ’n doopkersie aan die dopeling moet gee.
2. Ons sal die kerkkantoor moet betrek by die voorbereiding van die brief en die voorstelle vir die doopviering.
3. Ons sal by die doopgesprek die brief en doopvieringsvoorstelle kon gebruik.
4. Ons sal by elke doopgeleentheid, net die brief kortliks moet verduidelik en kan dalk verwys na die waarde wat gereelde doopviering binne die gesin kan hê