{ARGIEF}

 

Ek het egter nie opgegee op Bybellees nie.  Inteendeel, ek het gespesialiseer in die Nuwe Testament.  My BTh-skripsie oor semantiek gedoen, en die hele veld boeiend gevind.  Ek weet van min predikante wat Semeion op hulle wittebrood gelees het!  Ook my verdere studies was in die Nuwe Testament gewees. 

My doel was om ‘n ekspert te word in die lees van die Bybel.  Om te kompenseer vir die swye van God in die Woord met meer inligting oor die Woord.  Op ‘n stadium het ek ‘n spotprent in my studeerkamer gehad wat ‘n predikant met ‘n oop Bybel op die kansel uitgebeeld het, wat voor hy daaruit sou lees, sê “do not try this at home – remember, I am an expert.”  Soos baie predikante wou ek vir die gemeente kon sê “Luister na my, ek het die teks in die Grieks gelees, en my uitleg met die Duitsers gekontroleer, dit is wat die teks beteken.  Gaan doen dit nou.”
My ervaring, soos baie predikante s’n, was egter dat die Here nie meer so maklik deur die Woord met my kon praat nie.  En dit is hier waar die vennootskap se klem op die wandel in die Woord my lewe verander het.  Ek het iewers die verhaal gehoor van die kapelaan wat Bybels in C-Maks uitgedeel het.  Op ‘n stadium kom hy agter dat die gevangenes gereeld vir ‘n nuwe Bybel vra.  Later kom hy agter waarom.  Die gevangenis was besig om die Bybel te rook. Sigarette zolle daarvan te rol.  Die dun papier van ‘n Bybelbladsy was perfek vir ‘n zol of twee.  Toe die een gevange weer vir die kapelaan om ‘n Bybel vra het hy hom laat belowe om ten minste die bladsy te lees voordat hy dit rook.  Drie maande later kom hy weer by die gevangene en vra hom hoe dit met hom gaan.  Hierop antwoord die gevangene hom dat dit wonderlik gaan.  “Want” sê hy, “ek was rustig besig om my pad deur die Bybel te smoke – eers die Ou Testament en toe die Nuwe – totdat John vir my gesmoke het.”  En hy was ‘n ander mens.

Deur saam met ander in die Woord te wandel het ek weer die ervaring dat die Here my, en ander, deur die Bybel kan rook!  Oor die afgelope 6 jaar het daar naamlik ‘n verandering by my ingetree in my omgang met die Bybel.  Daar was ‘n beweging van praat oor die Bybel na luiter na die Bybel. 

Praat     Luister (Wandel in die Woord)
Lees dit vir lidmate   Lees dit saam met lidmate
Lees ‘n teks een maal   Lees dit herhaaldelik
Lees die teks klaar   Hou aan om die teks te lees
Soek na dié lesing   Ontdek veelvoudige lesings
Lees die teks vir informasie Lees die teks vir transformasie

My vraag vanoggend is waarom het dié skuif plaasgevind?  Ons gebruik in die alledaagse lewe metafore om iets te beskryf wat ons op geen ander manier kan beskryf nie (bv. die liefde).  Deur die SAVGG het my operasionele metafoor wat my omgang met die Bybel bepaal het, verander.  Anders gestel: soos wat ‘n rekenaar se bedryfstelsel, wat die funksionering van die sagteware daarvan bepaal, van Dos na Vista verander het, het myne van die siening van die teks as ‘n spieël (waarin ons net onsself herken) of ‘n venster (waardeur ons na die wêreld agter die Bybel kan kyk) verander na die teks as ‘n ruimte om in te wandel saam met ander.  Die dominante metafoor vir die lees van die Bybel in die SAVGG is naamlik om in die Woord te wandel.  Laasgenoemde is ‘n gelukkige misvertaling van “dwelling in the Word”.  Ons “wandel” naamlik in die Woord in plaas van om daarin te vertoef.  Ek hou van dié misvertaling aangesien dit verwoord dat ons in die omgang met die Woord ‘n ruimte betree waarin ons in beweging gebring word. 

Paul Ricoeur het gesê dat waar jy jouself in die sfeer van Woordverkondiging, en die aanbidding van God saam met medegelowiges bevind, jy God se teenwoordigheid en sy stem op ‘n manier ervaar en hoor, wat jy nie sou nie as jy alleen agter jou lesenaar gesit het nie.  Elke predikant ken dié ervaring van om in so ‘n sfeer te wees.  Om in ‘n erediens te sit as jou kollega preek, saam met ander gelowiges wat die Here aanbid, en te ervaar hoe jy buitengewoon geestelik kreatief is (geïnspireerd!?).  Jy skryf jou beste preke onder die geklank van die verkondiging van die Woord, in die teenwoordigheid van medegelowiges wat die Here opreg aanbid.  Om daar te wees is soos om in ‘n heilige ruimte of sfeer te wees – om in God se teenwoordigheid te vertoef (to dwell in the Word).

As ‘n metafoor beskryf die wandel saam met ander in die Woord vir my die ervaring van om in só ‘n heilige ruimte te wees.  Om saam met ander – as ‘n gelyke, mede-luisteraar – God se stem te hoor wanneer die Woord saam gelees en bespreek word.  Soos met enige metafoor verdamp die metafoor van om in die Woord te wandel sodra jy dit anders wil beskryf.  ‘n Mens kan op ‘n metafoor immers net voortborduur.  Om in die Woord te wandel dui daarom vir my daarop dat ons as gestuurde geloofsgemeenskappe konstant ander in die heilige ruimte (van Woord, gelowiges en Gees) moet innooi.  Só verruim ons konstant die ruimte waarin ons die Woord lees deur die gewoonte van Wandel in die Woord saam met ander te beoefen.  Ons beweeg van die ruimte van om as enkeling die teks te lees, na om dit saam met ‘n vriendelike, luisterende, vreemdeling te lees, na ‘n praat namens, en luister na ander as groep.  Waarop die Woord ook saam met die gemeente, en uiteindelik ook diegene na wie ons gestuur word, gelees (die “ander”) en gehoor word.  In die sin wandel ons saam.  Ons vertoef nie net in ‘n eerste lesing of lesergemeenskap nie.

My ervaring is dat dié verskillende lesings (wandelings in die Woord) mekaar slyp en temper (en so kontroleer en bevestig).  Wilde, eiesinnige lesings word weggeslyp.  Eie agendas kan nie oorleef in die heilige ruimte van om saam met ander in die Woord te wandel nie.  Verskillende hoorders en kontekste dien dus as kontrole vir, en bevestiging van, ons lees van die Bybel (en daarom is dit nie net ‘n naïewe vorm van ‘n sg. “reader-response” benadering nie).  Om in die Woord te wandel is ook nie ‘n anti-akademiese lees van die Woord nie.  Een van die vrae wat telkens in die lees van die Woord gevra word, is immers wat sou jy vir ‘n Bybelkenner wou vra oor die teks.  Daar is dus beslis ruimte om die Woord vir eksegete om saam met mede-gelowiges daarin te wandel.  Bybelkenners moet egter bereid wees om saam in die Woord te wandel en nie net teenoor die Woord, en lesings daarvan, krities te bly staan nie.

Ten diepste is die Wandel in die Woord ‘n missionêre lees van die Bybel.  Vir my is die missionêre lees van die Bybel nie soseer ‘n vraag na spesifieke tegnieke nie (ek sou egter wel wou sê dat ‘n missionêre lees van die Bybel een is wat dit met die grein van die Bybelse verhaal lees, naamlik God se sending na die wêreld).  Vir my is ‘n missionêre lees van die Bybel nie primêr ‘n vraag na hoe ons dit moet lees nie as een na saam met wie, waar en waarom ons dit lees.  Hoe moet ons met ander woorde Wandel in die Woord?

Wie en waar?  Ons lees dit nie meer alleen en ter wille van onsself nie.  Ons nooi ander om saam met ons te wandel in die Woord.  Daarom lees ons ook die Woord saam met hulle waar hulle is om te ontdek wat God daar aan die doen is.  Ons neem immers nie God ná ander nie.

Waarom?  Ons lees die Bybel nie meer vir informasie nie, maar vir transformasie.  Tom Wright sê dat om die Bybel te lees is nie net om kommentaar oor die koms van die koninkryk te ontvang nie.  Dit is eerder een van die maniere waarop dit daadwerklik deurbreek!  Wie die Woord lees, en leef, ontdek dat dit ‘n krag tot redding is (Rom. 1:16) en dat hulle opgeneem word in God se sending na die wêreld.  Kortom dat hulle deel uitmaak van Handelinge 29.  Ons lees die Bybel – wandel ons daarin – omdat ons glo dat God só die wêreld nuut maak.  Wie in die Woord wandel word immers deur die Gees van God vernuwe en gestuur. 
Om af te sluit.  Ek staan eendag in ‘n geestelike boekwinkel en hoor hoe ‘n tannie die verkoopassistent vra of hulle Bybels herstel, want haar Bybel het “die gees gegee”.  Toe ek haar stukkend-geleesde Bybel sien het ek net besef.  Haar Bybel het nie die Gees-gegee nie.  ‘n Kraakvars, ongeleesde een het eerder die Gees-gegee.  Laat ons dus nie ophou om in die Woord te wandel nie – saam met God, die Gees en mekaar.