{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster vir Lidmate as basis

Tiende week in Koninkrykstyd
29 Julie
Johannes 6:1-21
Honger en bang
Ysbreker
Hoe maak julle as daar skielik ongenooid op etenstyd mense by julle opdaag en julle het net genoeg kos vir julle self?
 
Lof en aanbidding
Loof en aanbid nou die Here in julle midde met liedere en gebede. Raak dan stil en dink aan Hom in jou afgelope week. Dink aan iets wat Hy jou kom gee het, en sê vir Hom dankie. (Dit hoef nie groot dinge te wees nie – soms sien ons die “vanselfsprekende” nie raak nie). Fluister die woordjie “dankie, Here” so ‘n paar maal in jou hart.
 
Woord
Joh. 6:1-21

  1. Lees die gedeelte biddend deur en wees in die verhaal. Sien die groot klomp mense wat agter Jesus aankom. Dalk is jy een van die mense met ‘n behoefte waarmee net Jesus kan help. Of een van die dissipels wat nie kan verstaan hoe Jesus hierdie skare kan voed nie. Of die seuntjie wat alles wat jy het, gee. Beleef die vrees op die oop see. Hoor Jesus se stem: Dit is Ek, moenie bang wees nie. Sien reeds hoe die Here deur hierdie gedeelte jou lewe verander.
  2. Waaraan dink Jesus wanneer Hy die groot skare sien wat agter Hom aankom? Wat leer ons daaruit? (Verse 1-7)
  3. Hoe word daar voorsien in die behoefte van die skare? (verse 8,9)
  4. Wat dink julle het gebeur nadat Jesus die brood en vissies geneem het? (Verse 10-15)
  5. Wat gebeur in die donker op die oop see met Jesus se dissipels? (Verse 16-18)
  6. Hoe reageer Jesus op die nood van sy dissipels? (Verse 19-21)
  7. Raak nou weer stil. Wat het jou die meeste getref in hierdie gedeelte? Hoe verander dit jou? Praat in stilte met die Here daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe gaan die groep die week uitreik na die honger en bang mense in die omgewing?
 
Elfde week in Koninkrykstyd
5 Augustus
Johannes 6:24-35
Nooit weer honger nie, nooit weer dors nie
Ysbreker
As iemand jou nou regtig wil bederf, wat moet hy of sy vir jou voorsit om te eet?
 
Lof en aanbidding
Draai nou julle gedagtes na die Here toe en raak bewus van sy teenwoordigheid. Sing liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Raak dan stil by Hom. Hy gee nie net vir jou die “daaglikse brood” wat jy nodig het nie, Hy kom gee ook Homself aan jou. Dink nou aan Hom die afgelope week in jou lewe en waar het jy agtergekom dat Hy Homself aan jou gee? Praat in stilte met Hom daaroor. Iemand lees nou Psalm 51:10-14 terwyl die res dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Joh.6:24-35

  1. Lees die gedeelte met jou hart en beleef wat in die verhaal gebeur, asof jy self daar is. Sien hoe jy na Jesus soek en Hom vind en wanneer jy Hom vind, jy volkome rus kry. Beleef die rus by Hom.
  2. Die mense soek na Jesus. Wat leer dit vir ons oor die mens van Jesus se tyd en vandag? (Verse 24, 25)
  3. Jesus weet wat in mense se harte aangaan. Hoe definieer Hy hulle probleem? (Verse 26-29)
  4. Hoe leer ken ons die God wat ons aanbid in verse 30-35?
  5. Raak nou stil by die Here. Dink na oor hoe dit voel om werklik honger en dors te wees en te soek om versadig te word en jou dors te les. Sien dan vir Jesus. Ek is jou brood – Ek is die water… Kom tot rus by Hom.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar hoe baie jou broer/suster vir jou beteken, noem dan julle behoeftes en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Terwyl ons weet die wêreld rondom ons smag na die Brood en Water wat (Wie) ons het, hoe kan ons Hom deel?
 
Twaalfde week in Koninkrykstyd
12 Augustus
Johannes 6:35, 41-51
Here, ek verstaan nie?
Ysbreker
As jy op skool iets in die klas nie verstaan het nie, het jy stil gebly, of ‘n vraag gevra om te probeer helderheid kry? Hoe het dit jou laat voel?
 
Lof en aanbidding
Ons fokus nou op die Here terwyl ons vir Hom sing en sy teenwoordigheid geniet. Dan kom ons tot rus by Hom. Hy ken jou, ook die talle vrae en onsekerheid, selfs die twyfel en bekommernis in jou hart. Hy is nou by jou en vra vir jou: “Wat is dit wat jy wil hê dat Ek vir jou doen?” Deel nou jou vrae met Hom. Beleef die rus wat Hy gee. Iemand lees nou Psalm 130 terwyl die res dit saambid. Fluister die woorde: “Ek wag op U, Here”, so drie maal in jou hart.
Woord
Joh. 6:35, 41-51

  1. Lees die gedeelte eers in stilte met jou hart. Sien jouself in die verhaal. Dalk een van die Jode wat Jesus ken as “Jesus die seun van Josef”. En nou sê Hy dat Hy uit die hemel kom en jy weet goed Hy kom net uit Nasaret. Jy verstaan nie. Hoor dan Jesus se stem. Hoe bring dit jou tot rus as jy dink aan al die vrae wat jy het oor die dinge wat jy elke dag in ons wêreld beleef?
  2. Waaroor mor die Jode? (Verse 35, 41-42) Met watter vrae gaan jy na Jesus toe?
  3. Hoe antwoord Jesus hulle? (Verse 43-46)
  4. Watter versekering gee Jesus aan sy hoorders? (Verse 47-51) Beantwoord Hy die vrae wat in jou hart brand met hierdie versekering?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die woorde wat vir jou uitstaan. Herhaal hulle en laat hulle in jou hart insink. Beleef hoe Jesus Homself aan jou gee – sodat jy werklik kan lewe.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle vrae met mekaar. Versterk, vertroos en bemoedig mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Wat gaan die groep dié week doen aan die wêreld se groot honger?
 
Dertiende week in Koninkrykstyd
19 Augustus
Johannes 6:51-58
Eet en drink Jesus?
Ysbreker
Hoe vinnig eet jy gewoonlik jou kos? Weet jy teen die aand wat jy met middag-ete op jou bord gehad het?
 
Lof en aanbidding
Sing nou vir die Here liedere en loof en aanbid Hom in gebed. Raak dan stil by die Here en dink na oor jou verhouding met Hom en Syne met jou. Op watter maniere het Hy jou die afgelope week bewus kom maak van sy teenwoordigheid in jou lewe? Dink aan oomblikke toe Hy intiem naby aan jou was. Praat met Hom daaroor. Iemand lees dan Psalm 111 en die res bid die woorde in hulle harte. Fluister die woorde “U Naam is heilig” in jou hart so drie maal.
 
Woord
Joh.6:51-58

  1. Lees weer die gedeelte eers in stilte en let op woorde wat vir jou uitstaan. Herhaal die woorde en laat dit insak tot diep in jou hart. Beleef die intimiteit met die Here. Dink daaraan dat jy in Hom bly en Hy in jou.
  2. Die Jode sukkel om te verstaan wanneer Jesus sê Hy is die Brood wat uit die hemel gekom het. En die brood is sy liggaam. En hulle moet dit eet. Hoe verstaan jy Jesus se woorde? (Verse 51-55). By watter geleentheid wat die kerk vier dink ons daaraan dat ons Jesus se liggaam eet en sy bloed drink?
  3. Wat gebeur wanneer ons Jesus se “liggaam eet en sy bloed drink”? (Vers 56, 57)
  4. Hoe verskil die Brood wat uit die hemel kom, van die manna wat destyds in die woestyn uit die hemel gekom het? (Vers 58)
  5. Lees nou weer die gedeelte in stilte. Sien hoe jy ‘n stukkie brood eet en die wyn drink. Dink daaraan hoe dit deur jou liggaam opgeneem word en deel word van jou. Sien nou hoe dit ooreenkom met Jesus wat volkome deel is van jou lewe. Hy bly in jou en jy in Hom. Hoe verander dit jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar hoe julle spesifiek vir  Jesus in mekaar raaksien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Nadat ons die stem van die Here gehoor het, met watter boodskap gaan ons terug na ons Gemeente en God se wêreld?
 
Veertiende week in Koninkrykstyd
26 Augustus
Johannes 6:56-69
Omgedraai huis toe
Ysbreker
Het jy al ooit opgehou met iets belangrik wat jy besig was om te doen, omdat jy na jy baie moeite gedoen het, agtergekom het dit is nou te veel moeite? Vertel ons daarvan.
 
Lof en aanbidding
Steek nou ‘n kers aan om die teenwoordigheid van die Here te simboliseer. Sing vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Kom dan tot rus by die Here en wees bewus daarvan dat Hy met die meeste liefde wat iemand vir jou kan hê, na jou kyk. Word bewus van jou liefde vir Hom. Na die stilte lees iemand Psalm 84:1-8 terwyl die res dit saambid.
 
Woord
Joh.6:56-69

  1. Lees die verse in stilte met jou hart. Hoor Jesus se stem. Sien die ontevrede mense en die klomp volgelinge wat omdraai en huis toe gaan omdat Jesus nie vir hulle kan gee wat hulle wil hê nie. Lees die woorde wat vir jou uitstaan weer. Herhaal hulle. Maak hulle deel van jou hart. Dink oor uitdrukkings soos “bly in My en Ek in hom”, “deur My lewe”.
  2. Ons besoek eers weer Jesus se woorde in verse 56-58. Wat sê hierdie woorde oor Jesus se verhouding met sy Vader en met ons?
  3. Wat dink julle van die reaksie van die mense wat Jesus gevolg het waarvan ons lees in verse 60-61, 66? Wanneer raak dit wat Jesus sê “darem te erg”? Waarom draai mense om en gaan huis toe?
  4. Waaroor praat Jesus in verse 62-65?
  5. Jesus stel sy dissipels voor ‘n keuse: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Hoe antwoord Simon Petrus? (Verse 67-69) Hoe antwoord jy as Jesus jou hierdie vraag vra?
  6. Raak nou stil by die Here. Dink aan oomblikke wanneer jy oorweeg om “weg te gaan” van Jesus af. Herhaal nou in jou hart die woorde: “ek is in Hom en Hy in my” en “ek lewe deur Hom”.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Gesels saam oor julle teleurstellings, en die dinge wat “darem te erg” is vir julle. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Moet ons hulle wat weggegaan het van Jesus maar net so los, of stuur Hy ons dalk terug na hulle?
 
 
Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net