{ARGIEF}

met die Leesrooster sleuteltekste as basis


Derde week na Epifanie
26 Januarie
1Kor.1:10-18
Onenigheid onder julle?
Ysbreker
Waaroor het jou familie al so met mekaar verskil dat julle selfs skaam-kwaad vir mekaar was?
 
Lof en aanbidding
Fokus op die Here en sing vir Hom liedere van lof en aanbidding. Kom dan tot rus en dink in stilte aan Hom in jou lewe die afgelope week. Wanneer het jy God naby aan jou beleef? Wanneer het jy gevoel die Here is ver? Waar was Hy toe? Iemand sluit nou hierdie oomblikke af met die lees van Psalm 27, terwyl die res dit in hulle harte saambid. Herhaal die woorde “Ek is hier om U te dien, Here” driemaal saggies in jou hart.
 
Woord
1Kor.1:10-18

  1. Lees die gedeelte in stilte en herhaal woorde wat vir jou uitstaan saggies. Wat doen die woorde in jou binneste?
  2. Wat was die ernstige probleem waarmee die gemeente geworstel het? (Verse 10 – 12)
  3. Hoe kan onenigheid en verdeeldheid skade doen aan die Here se Gemeente?
  4. Hoe hanteer Paulus die probleem? Is die doop veronderstel om te verenig of te verdeel? (Verse 13-18)
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die gedeelte in stilte. Hoe word jy verander deur die gedeelte?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe en bid vanaand vir hierdie groep en die Gemeente, veral vir eensgesindheid en broeder- en suster-liefde.
 
Uitsending
Hoe kan hierdie groep saam met die Here werk in die Gemeente vir ‘n gees van eensgesindheid?
 
Vierde week na epifanie
2 Februarie
1Kor.1:18-31
Roem in die Here
Ysbreker
Op watter prestasie in jou lewe is jy besonder trots?
 
Lof en aanbidding
Sing nou vir die Here lof- en aanbiddingsliedere. Raak dan stil en wees net by Hom. Laat Hom toe om jou te verseker van sy oneindige liefde vir jou. Rus net in stilte in die oomblik, bewus van sy intieme nabyheid. Iemand lees dan Psalm 15:1-3 terwyl die res dit in hulle harte oordink.
 
Woord
1Kor.1:18-31

  1. Lees die gedeelte rustig biddend. Watter woorde of sinsnedes raak jou hart? Fluister die woorde saggies sodat dit insink tot in jou hart. Sien hoe anders jou lewe lyk wanneer die woorde in jou hart en lewe ontkiem.
  2. Waarmee het die Korintiërs geworstel? (Verse 18-21) Wat beteken dit in eenvoudige taal?
  3. Paulus noem twee groepe: Jode en Grieke. Watter antwoord het hy vir hulle? (Verse 22-25)
  4. Die gemeente was nie bekend daarvoor dat daar baie geleerdes, invloedrykes en mense van aansien onder hulle was nie. Hoe bemoedig Paulus die gemeente? (Verse 26-31)
  5. Raak nou weer stil met die woorde in die gedeelte wat vir jou uitgestaan het. Dink daaroor na en praat met die Here in jou stilte daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar hoe baie die ander twee vir jou beteken. Wees spesifiek. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons in nederigheid uitgaan om die nederige Jesus aan mense bekend te stel?
 
 
Vyfde week na Epifanie
9 Februarie
1Kor.2:1-12 (13-16)
Jesus die gekruisigde
Wie is die slimste mens, wat jy ken by wie jy nog die meeste in jou lewe geleer het?
 
Lof en aanbidding
Fokus nou op die Here in julle midde en sing vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Daarna kom die groep tot rus by Hom en dink in stilte aan Hom. Sien jou God wat met liefde na jou kyk. Dink na oor iets besonder wat Hy die afgelope week vir jou gegee het, en hoe Hy Homself vir jou kom gee het. Sê vir Hom dankie. Iemand lees dan Psalm 112:1-9 terwyl die res dit biddend beaam in hulle harte. Herhaal die woorde: “Ek is gerus, ek vertrou op die Here” in jou stilte so driemaal.
 
Woord
1Kor.2:1-12 (13-16)

  1. Lees eers weer die woorde in die gedeelte in stilte. Let op woorde of sinsnedes wat vir jou uitstaan en fluister die woorde saggies, sodat dit deel word van jou.
  2. Lees nou eers 1:30 en dink daaroor na dat jy met Christus verenig is – Hy is die wysheid wat van God kom. Deel dan met mekaar wat dit vir jou beteken.
  3. Die mense in Korinte was behep met wysheid. Hulle was lief vir debatte, redenasies en argumente. Wie is die ware wysheid en hoe deel Paulus Hom met die mense in Korinte? (Verse 1-5)
  4. Wat is die kern van Paulus se verkondiging en wat is sentraal in die Gemeente van die Here? Lees verse 6-13 en deel met mekaar die woorde en sinsnedes wat die Here op jou hart lê. Wat beteken dit vir julle dat die geheim, die verborge waarheid nou geopenbaar is? Hoe het God gekies om sy geheim aan ons bekend te maak? Wie is die geheim?
  5. Alles gaan oor Jesus, die Gekruisigde. As iemand wat met Jesus verenig is deur die Gees, kan jy dit verstaan. Hy is sentraal in die Gemeente, in jou lewe. Ons hele bestaan draai om Hom. Raak nou stil en dink na oor jou God. Die Vader wat die geheim aan jou bekend maak, Jesus die Gekruisigde, die Gees wat net na Jesus wys. Hoe verander die Gees deur hierdie gedeelte jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar hoe julle die Here Jesus in mekaar sien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe verander hierdie gedeelte ons verkondiging van praat oor onsself na Jesus as die gekruisigde, in afhanklikheid van die Gees?
 
Sesde week na Epifanie
16 Februarie
1Kor.3:1-9
Die oorsaak van verdeeldheid
Ysbreker
Wat dink julle, is gewoonlik die oorsaak van vriendskappe wat tot niet gaan?
 
Lof en aanbidding
Dink nou aan Jesus in julle midde en loof en aanbid die Here met julle liedere. Raak dan stil en gee Hom die geleentheid om saam met jou deur die afgelope week in jou lewe saam met jou te loop. Wanneer het jy op jou naaste aan Hom gevoel? Dank Hom daarvoor. Was daar oomblikke dat jy met iemand gestry het en verwydering met jou Here beleef het? Het dit jou Gemeente beïnvloed? Praat met Hom daaroor. Laat die Gees jou oorneem en lei. Iemand lees Psalm 119:1-8 en die res bid dit in hulle harte saam. Fluister die woorde: “Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie”.
 
Woord
1Kor.3:1-9

  1. Lees die gedeelte in stilte met jou hart en sien jouself in die prentjie wat Paulus hier skets. Herhaal die woorde wat uitstaan, sodat dit deel word van jou lewe.
  2. Watter probleem het Paulus met die Gemeente van Korinte? (Verse 1-2)
  3. Wat is die resultaat van die probleem? (vers 3)
  4. Waaroor was die verdeeldheid in die Gemeente? (Verse 4-7) Waaroor is daar vandag verdeeldheid in die Gemeente?
  5. Hoe bring Paulus hulle terug na die kern van die Gemeente? (vers 8) Waarom gaan dit eintlik in die Gemeente en in elke gelowige se lewe?
  6. Lees nou weer die gedeelte in stilte biddend. Fluister die woorde: “Dit gaan om God”. Sien hoe jou lewe verander wanneer alles om God gaan.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar die mooi dinge wat julle van mekaar waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar en die Gemeente.
 
Uitsending
Hoe gaan ons as groep die boodskap “Dit gaan om God” in die volgende week verkondig en leef?
 
Sewende week na Epifanie
23 Februarie
Eksodus 24:12-18
Die magtige teenwoordigheid van die Here
Ysbreker
Vertel ons van ‘n oomblik, dag of tyd in jou lewe wat vir jou so wonderlik was, dat jy dit jou lewe lank sal onthou.
 
Lof en aanbidding
Ons is in die Here se heilige teenwoordigheid. Kom ons loof Hom nou vir wat Hy doen en aanbid Hom vir Wie Hy is. Raak dan stil by Hom. Beleef die voorreg om intiem by Hom te mag wees. Sien hoe Hy met liefde en waardering na jou kyk. Rus net in die oomblik. Dink daaraan hoe jy graag vir iemand anders sal wil vertel van die oomblikke in stilte by jou God.
 
Woord
Eks.24:12-18

  1. Lees die verse asof jy self daar is. Hoor die Here se woorde: Klim na My toe en vertoef daar… sien hoe jy dit doen. Sien die wolk, en hoe jy die wolk ingaan. Wat gebeur in jou?
  2. Die Here nooi vir Moses na Hom toe. Waarom? (Verse 12-13)
  3. Hoe sou jy gevoel het as jy een van die leiers was? (Vers 14)
  4. Waarvan is die wolk ‘n simbool en wat gebeur wanneer Moses die berg uitklim (Verse 15, 18)?
  5. Wat sien die volk van die Here? (Vers 16)
  6. Dink nou weer in stilte oor die wonderlike oomblikke van Moses in die wolk. Vergelyk dit met jou oomblikke in die teenwoordigheid van die Here jou God. Praat in stilte met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en dra mekaar op aan die Here wat met sy magtige teenwoordigheid by julle is.
 
Uitsending
Op watter maniere kan die groep die komende week die heerlike teenwoordigheid van die Here gaan beleef en deel met ander?
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net