{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis


Sondag van Verheerliking
3 Maart
Psalm 99
Die Here ons God is heilig
Ysbreker
Vertel ons van die mooiste plek wat jy al ooit besoek het, en waarom onthou jy dit so goed?
 
Lof en aanbidding
Die Here jou God is by jou. Hy is heilig. Hy kom na jou toe en jy mag Hom ontmoet. Sing vir Hom liedere wat sy heiligheid beklemtoon. Raak dan stil by Hom en beleef Hom net ‘n oomblik in die stilte. Fluister die woorde: Here, my God, U is heilig.
 
Woord
Psalm 99

  1. Lees die Psalm as jou eie gebed. Let op woorde wat jou diep in jou hart raak en herhaal die woorde, tot jy beleef dat die Here jou God se heiligheid jou hele wese vul.
  2. Hoe leer ons die Here ons God ken in verse 1-5? Wat raak jou spesifiek?
  3. Wat gebeur in die tyd van Moses en Aaron? (Verse 6-9)
  4. Lees nou Lukas 9:28, 34, 35. Hoe leer ons die Here ons God hier ken?
  5. Raak nou weer stil en beleef weer die Psalm. Bid die woorde en herhaal die woorde van die Here jou God in jou hart: “Wees heilig, want Ek is heilig”. Sien hoe jou lewe verander.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar hoe julle God se heiligheid in mekaar beleef en raaksien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons met ons Here in die week saamwerk, dat sy Naam geheilig word?
 

Eerste week in Lydenstyd

10 Maart
Lukas 4:1-12
Daar staan geskrywe…
Ysbreker
Vir watter kos kan jy nie nee sê nie?
 

Lof en Aanbidding

Dit is Lydenstyd. Wanneer ons stil raak fokus ons in hierdie tyd op die lyding van ons Here in ons plek, maar ook saam met ons. Dink nou aan Hom terwyl jy dink aan jou eie versoekings. Sing in hierdie tyd meer stadige aanbiddings- of toewydingsliedere. Iemand lees Ps.91:1,2,14-16 voor en die groep  die Psalm in.
 

Woord

Luk.4:1-13

  1. Lees weer die 13 verse in stilte. Kyk mooi wat hier gebeur. Wat tref jou die meeste? Watter uitwerking het Jesus se versoekings op joune? Praat in stilte met Hom daaroor.
  2. Wanneer begin die duiwel met sy versoekings? Wanneer Jesus ‘n “geestelike hoogtepunt” of laagtepunt beleef? (vers 1) Hoekom sê julle so? Dink julle dit is goeie strategie?
  3. Op watter drie menslike behoeftes konsentreer die duiwel in sy versoekings? (verse 3-10) Op watter behoeftes fokus hy wanneer hy ons versoek?
  4. Jy kan ‘n versoeking baie moeilik weerstaan as die Bybel bygesleep word. Die duiwel ken die Bybel (verse 10,11). Hoe versoek die duiwel ons vandag met die Bybel of uitdrukkings soos “Die Here sê…”
  5. Hoe hanteer Jesus die duiwel (vgl.Ef.6:17b)? Hoe maak ons? Watter uitwerking het hierdie verhaal op jou lewe? (Lees tog asb net weer Heb.4:14-16; 5:2)

 

Bedien mekaar

Neem nou 3-3 mekaar se hande en bid dat die Here met sy groot krag jou broer/suster sal beskerm teen die aanslae en versoekings van die duiwel.
 

Uitsending

Na watter een persoon, wat jy weet deur die duiwel geboelie word, gaan jy hierdie week, net om vir hom/haar te gaan bid?
 
Tweede week in Lydenstyd
17 Maart
Fil.3:17-4:1
Wees my navolgers
Ysbreker
Watter persoon in jou lewe het vir jou die heel beste voorbeeld in jou lewe gestel, en hoekom sê jy so?
 
Loof en aanbid die Here
Lydenstyd is ons geleentheid om onsself nuut toe te wy aan ons Here. Ons dink aan Sy lyding en opoffering vir ons. Kom ons raak nou stil en dink aan Hom. Daarna sing ons liedere van aanbidding vir Hom. Iemand lees Psalm 27 voor en die res bid die woorde wat hulle tref, in hulle harte saam.
 
Woord
Is daar iets uit jou binnekamer van die afgelope week wat jou so getref het dat jy dit graag met jou groep wil deel?
Fil.3:17-4:1

  1. Lees die woorde in hierdie gedeelte in stilte. Wat tref jou? Sien reeds hoe die woorde wat vir jou uitstaan jou lewe verander. Praat met die Here daaroor in die stilte.
  2. Is Paulus verwaand? (vers 17) (Vgl. Ook 1Kor.4:16; 1Tim.4:12) Hoekom of hoekom nie? Wat leer ons uit hierdie versie?
  3. Met watter probleme het die gemeente in Filippi geworstel? (Verse 18-19) [Vyande van die kruis is gewoonlik mense wat die kruis van Jesus as nie genoeg of voldoende beskou het nie. Jy moet nog self ook iets doen, soos bv die besnydenis. Die kruis alleen is nie genoeg vir jou redding nie. Jy moet jou redding verdien met goeie werke. Die ander vyande was hulle wat geglo het dat ons redding net geestelik van aard is. Ons kan maar lewe net soos ons wil, maak nie saak watter voorbeeld ons stel nie. Hulle lewe ook asof hierdie lewe al lewe is. “Laat ons eet en drink en vrolik wees…” Dit lyk asof al hierdie mense deel was van die een gemeente in Filippi]
  4. Hoe lyk ons hede en ons toekoms? (Verse 20-21)
  5. Hoe bemoedig Paulus die Gemeente in 4:1? Sou julle na hierdie woorde van Paulus sy navolgers wou wees?
  6. Raak nou weer stil en lees die woorde wat jou aanraak, herhaal hulle in jou hart. Hoe verander hierdie woorde jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitreiking
Hoe gaan die groep mekaar help om al meer en meer die voorbeeld vir mense te stel sodat almal met wie ons in kontak kom, navolgers van Jesus sal word?
 
Derde week in Lydenstyd
24 Maart
Jesaja 55:1-9
‘n Ewige verbond, troue liefde
Ysbreker
Wat is die grootste winskopie in jou besit?
 
Lof en aanbidding
Kom ons raak nou stil voor die Here, daarna sing ons liedere wat pas by Lydenstyd vir Hom. Kom dan tot rus en dink na oor die Here in jou afgelope week. Watter oomblikke staan vir jou uit as nabye oomblikke aan Hom? Wat het gebeur? Waar was jy? Praat in stilte met Hom daaroor. Iemand lees dan Psalm 63:1-9 terwyl die res dit in hulle harte as gebed oordink.
 
Woord
Jes.55:1-9

  1. Lees die gedeelte biddend en sien die woorde en gedeeltes raak wat jou aanspreek. Herkou die woorde en laat dit afsak tot diep in jou hart. Beleef God se liefde vir jou terwyl jy die gedeelte lees.
  2. Watter eienaardige uitnodiging gee die Here in vers 1? Wat beteken dit?
  3. Die uitnodiging in vers 1 word uitgebrei in verse 2-5. Wat wil die Here vir sy kinders leer in hierdie verse?
  4. Wat dink julle beteken vers 6 en 7? (Vgl. Matt.28:20)
  5. Baie keer gebruik mense hierdie gedeelte om jou in moeilike omstandighede te bemoedig. Kan ons regtig troos vind uit verse 8 en 9?
  6. Lees nou weer die gedeelte in stilte deur en praat met die Here oor die woorde wat jou raak. Herhaal die woorde “Ek wil met jou ’n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan jou betoon”. Dink na oor hoe die Here jou verander deur hierdie gedeelte in die Woord.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Gesels met mekaar oor die dinge wat julle bekommer en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe gaan die groep hierdie week mense in die omgewing met die woorde uit Jes.55 bemoedig?
 
Vierde week in Lydenstyd
31 Maart
Lukas 15:1-3, 11b-32
Ysbreker
As jy jouself moet gaan verkoop in ’n winkel, hoeveel dink jy gaan jy werd wees? Is dit minder of meer as wat jy werklik werd is?
 
Lof en aanbidding
Loof en aanbid nou die Here met julle liedere en gebede. Daarna raak julle stil in die Here se teenwoordigheid en geniet die intieme oomblikke met Hom. Dink aan Hom wat met liefde na jou kyk en jou “My geliefde kind” noem. In die rus by Hom dink jy na oor oomblikke toe jy die afgelope week naby aan Hom gevoel het (’n “in-sy-huis-belewing”). Sê vir Hom dankie. Dink na oor oomblikke toe jy ver gevoel het van Hom (’n “ver-land-belewing”). Waar was Hy toe? Praat met Hom daaroor. Sit in stilte en beleef God se omhelsing. Na die stilte lees iemand Psalm 32:1-8 en die res bid die woorde in hulle harte saam.
 
Woord
Lukas 15:1-3, 11b-32

  1. Lees die gedeelte eers in stilte met jou hart en gaan staan in die middel van die gelykenis. Wees die jongste seun, die oudste seun, die pa wat wag. Dink na oor wat jy beleef en praat met die Here daaroor.
  2. Waarom vertel Jesus die gelykenis en wat wil Hy ons leer? (Verse 1-3)
  3. Deel met mekaar die ervarings van die jongste seun (Verse 11b-20). Hoe beleef julle die deel van die gelykenis en wat gaan in julle harte om wanneer julle dink aan die jongste seun?
  4. Wat sien ons van die pa in verhouding tot die jongste seun? (Verse 20b-24) Wat wil Jesus vir ons hierdeur leer?
  5. Hoe ervaar jy die oudste seun? (Verse 25-30) Hoe voel julle oor sy gesindheid? (Vgl. verse1-3). Sien ons vandag nog hierdie gesindheid?
  6. Wat sien ons van die pa se verhouding tot die oudste seun? (Verse 31-32)
  7. Het die oudste seun die fees vir sy broer bygewoon?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe gaan ons as groep in die week wat kom hierdie baie bekende gelykenis van Jesus leef?
 
Vyfde week in Lydenstyd
7 April
Jesaja 43:16-21
Iets nuuts
Ysbreker
Leef jy in die verlede of sien jy uit na nuwe dinge?
 
Lof en Aanbidding
Kom ons raak nou eers stil. Ons dink aan ons Here wat by ons is en dan sing ons aanbiddingsliedere om Hom mee te vereer. Die taize-liedere is nogal heel gepas vir hierdie tyd van die Kerkjaar. Kom dan tot rus en stap in stilte saam met die Here deur die afgelope week in jou lewe. Wanneer het jy Hom naby aan jou beleef? Sê vir Hom dankie. Dink dan oor die week wat voorlê en hoor sy woorde: “Ek gaan iets nuuts doen”. Hoe sien jy Hom in die nuwe week in jou lewe? Na die stil oomblikke lees iemand Psalm 126 terwyl die res dit in hulle harte sien gebeur in hulle lewe.
 
Woord
Jes.43:16-21

  1. Lees die gedeelte eers in stilte met jou hart en herhaal die woorde wat jou tref saggies in jou gebed. Hoor die Here se woorde en sien reeds hoe Hy ook in jou hart, lewe en omgewing “iets nuuts doen”.
  2. Waaraan laat verse 16 en 17 ons dink en wat sê dit vir ons oor ons God?
  3. Wat leer ons uit die Here se woorde in vers 18?
  4. Hoe lyk die “iets nuuts” waarvan die Here praat? (verse 19-21)
  5. Lees nou weer vers 21 en vergelyk dit met 1 Pet.1:9,10?
  6. Raak nou weer stil en lees weer die woorde van die gedeelte. Hoe verander hierdie woorde (nou in jou hart) jou lewe? Praat met die Here daaroor en gee jouself vir die “iets nuuts” oor aan Hom.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dank die Here dat hy hulle wat saam met jou bid ook nuutgemaak het en dra dan mekaar se behoeftes aan die Here op.
 
Uitsending
Hoe gaan die groep maak om hierdie boodskap by mense sonder hoop uit te kry in die week wat kom?