{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die leesrooster as basis.
Derde week in Paastyd
15 April
Handelinge 3:12-19
Jesus leef steeds

Ysbreker

As jy vir iemand moet vertel waarom jy deel is van hierdie groep, hoe sal jy dit verduidelik?
 

Lof en Aanbidding

Gee julleself nou oor aan julle Here met julle lofoffer aan Hom. Aanbid en bewonder Hom so dat julle ervaar dat julle mekaar aanraak. Raak nou stil by jou Here. Dink aan Jesus in julle midde. In jou stilte beweeg jy saam met Hom deur jou week. Dink aan die woorde “wat ek het gee ek jou”. Sien jouself in iemand se lewe. Wie is die een wat jou nodig het en “wat” gee jy hom/haar? Iemand kan die oomblik van stilte afsluit met die gebed: “Jesus, dankie dat U deur my Uself aan iemand wat U nodig het, gee”.
 

Woord

Hand.3:12-19

  1. Lees eers die gedeelte met jou hart (vanaf vers 1) en beleef wat hier gebeur. Sien die verlamde man wat bedel by die tempel. Jy het nie geld of kos wat jy hom kan gee nie. Hy kyk jou in jou oë. Sien hoe hy meer ontvang as wat hy verwag het. En dan beweeg jy na die mense in die tempel se vraagtekens. Hoor hoe jy aan hulle verduidelik wat met die bekende verlamde man gebeur het.
  2. Hoe verduidelik Petrus en Johannes aan die Jode die wondergenesing wat nou net plaasgevind het? Wat is belangrik in hulle verduideliking? (vers 12)
  3. Die verbasing van die omstanders (Jode) by die tempel, gee Petrus die geleentheid om die fokus op die lewende Here te plaas. Hoe doen hy dit? (Verse 13-18)
  4. Na Petrus se boodskap, volg die woordjie “Daarom”. (vers 19) Hoe sou jy hierdie mense bewus gemaak het daarvan dat die Here vir hulle met oop arms wag?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Laat toe dat die stemme wat jy daagliks hoor, deur jou hart gaan. Wie is hulle? Wat vra hulle van jou? Wat het jy om te gee? Praat in stilte met die lewende Here.

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe en deel julle behoeftes met mekaar. Dit wat julle binne-in julle het, gee julle nou vir mekaar. Bemoedig mekaar en bid dan vir mekaar.
 

Uitsending

Na watter een persoon gaan jy hierdie week uitreik? Wat gaan jou boodskap aan Hom wees? (Help mekaar hiermee)
 
Vierde week in Paastyd
22 April
Psalm 23
Die Here, my Herder
Ysbreker
Kan jy dink aan iemand in jou lewe by wie jy regtig veilig gevoel het, selfs in moeilike omstandighede?
 
Lof en aanbidding
Sien nou julleself as die Herder se troppie skape rondom Hom en sing vir Hom liedere van lof, aanbidding en waardering. Kom dan tot rus en beleef net sy liefde vir jou in stilte. Sien Hom die afgelope week in jou lewe. Waar het jy die groen weivelde en waters waar daar vrede is, beleef? Waar was Hy in die oomblikke van donker dieptes in jou lewe? Gee jouself nou aan Hom met die woorde: “Here, U is my hele lewe, ek kom niks kort nie”
 
Woord
Psalm 23

  1. Lees eers die Psalm biddend. Beleef die bekende Psalm. Sien hoe jy saam met die Herder wandel en sy nabyheid jou laat besef: Ek kom niks kort nie.
  2. Ons kry die hoof-boodskap van hierdie Psalm al in vers 1. Wat is dit?
  3. Dan brei Dawid uit op sy hoof-boodskap. Verse 2-4 wys vir ons die lewe wat niks kort kom nie. Deel dit met mekaar.
  4. Vanaf vers 4 word “Hy” “U”. Hoe verander dit die Psalm?
  5. Bid nou die Psalm in stilte in jou eie woorde en beleef hoe jy nader aan jou Herder beweeg wanneer jy bid.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle harte met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep die Goeie Herder in ons sigbaar gaan maak in ons omgewing?
 
Vyfde week in Paastyd
29 April
Joh.15:1-8
Vas aan die Wingerdstok!
Ysbreker
Aan watter persoon in jou lewe is jy so vas dat dit moeilik sal wees as hy of sy moet weggaan?
 
Lof en Aanbidding
Fokus nou weer op die Here. Dink eers aan Hom in stilte en geniet Sy teenwoordigheid en aanraking. Dink aan jou verhouding met Hom. Hoor Jesus se woorde: Jy is in My, Ek is in jou. (Herhaal dit ‘n paar maal saggies). Loof en aanbid Hom daarna.
 
Woord
Joh.15:1-8

  1. Lees eers weer die verse in stilte met jou hart. Kyk na die woord(e) wat vir jou uitstaan. Sien hoe jou verhouding met Jesus lyk volgens die beskrywing van die wingerdstok en die lote. Praat met die Here daaroor.
  2. Wat vertel die beeld wat Jesus in vers 1 en 3 gebruik van Sy verhouding met jou?
  3. Hoe werk hierdie verhouding? (vers 4)
  4. Wat is die gevolge van hierdie verhouding? (vers 5) Hoe lyk dit in ons daaglikse lewe?
  5. Wat is die beloning van hierdie verhouding? (vers 7)
  6. Wat is die eintlike doel van ons lewe? (vers 8) Hoe verander hierdie woorde van Jesus jou lewe? Dink aan Gal.2:20. Bespreek dit met mekaar en raak dan stil en deel jou hart met Hom.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Loof die Here vir die vrug wat jy in jou broer/suster sien. Deel julle vrese en bekommernisse met mekaar. Belowe om dit met niemand buite die groep te bespreek nie en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Dalk is daar iemand in julle wyk of omgewing wat baie ver van die Here en Sy kerk is. Hoe gaan die groep hom/haar bereik?
 
 
Sesde week in Paastyd
6 Mei
Joh.15:9-17
Ek dra vrug!
Ysbreker
As jy vir iemand moet vertel hoe hy jou in ‘n skare kan uitken, hoe sal jy jouself aan hom verduidelik? [bv. kyk net uit vir die een met die…]
 
Lof en Aanbidding
Raak nou eers stil by die Here. Dink oor jou verhouding met Hom, en die vrug daarvan in jou lewe die afgelope week. Dink aan oomblikke in jou week wat jy sien as Godsmomente en praat in stilte met Hom daaroor. Begin Hom dan loof en aanbid met liedere, gebede en gedeeltes uit die Skrif.
 
Woord
Joh.15:9-17

  1. Lees weer die gedeelte in stilte. Hoor Jesus se stem. Hoor hoeveel keer Hy die woordjie “liefde” gebruik. Dink daaroor na en praat dan eers in stilte met Hom.
  2. Hoe lief het Jesus Sy dissipels? Hoe “bly ons in” Sy liefde? (vers 9, 10) [Boodskap:“Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe!”]
  3. Wanneer beleef ons volkome blydskap? (verse 11,12). Ken jy hierdie blydskap?
  4. Wat noem Jesus sy dissipels en hoekom? (verse 14, 15)
  5. Waarvoor is ons uitgekies en aangestel? Wat is die beloning? (vers 16)
  6. Watter vrug is ook Jesus se bevel? (vers 17). Is dit nodig dat Hy ‘n vrug beveel? Hoe verander hierdie woorde van Jesus jou lewe? Bid in stilte hierdie woorde: Maak my meer en meer bewus van U in my en ek in U, sodat U deur my kan lewe en liefhê. (AH)

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Here vir Sy groot liefdesdade in jou broer/suster se lewe en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Iemand in julle wyk of omgewing het die vrug van liefde nodig. Hierdie groep het dit! Miskien kan julle met ‘n vrugtemandjie na die persoon uitreik en doodgewoon die liefde van die Here met hom gaan deel. Gesels oor hoe julle dit gaan doen.
 
Sewende week in Paastyd
13 Mei
Hand.1:15-17, 21-26
Getuies van Jesus se opstanding
Ysbreker
Oor watter groot gebeurtenis in jou lewe kon jy nie stilbly nie en praat jy vandag nog?
 
Lof en aanbidding
Kom ons raak ‘n oomblik stil in die Here se teenwoordigheid en loof en aanbid Hom dan met ons liedere, gebede en gedeeltes uit die Skrif. Kom dan tot rus en dink na oor die lewende Here se wandel met jou in die afgelope week. Waar was jy die meeste bewus van Hom? Toe dit vir jou gevoel het Hy is ver, waar was Hy toe? Praat met Hom daaroor. Iemand lees Psalm 1 terwyl die res dit in hulle harte beaam.
 
Woord
Hand.1:15-17, 21-26

  1. Lees die gedeelte deur met jou hart en beleef wat hier gebeur. Dalk is daar spanning in jou hart: Gaan ek dalk die nuwe apostel wees? Sien die hand van die Here in die keuse van die 12de apostel.
  2. Watter bekendes is almal in die bovertrek bymekaar? En watter belewenis het hulle so pas gehad? (verse 13,14, 9)
  3. Wie neem die leiding en waarom is hulle bymekaar? (verse 15-17)
  4. Daar is een groot voorwaarde vir die nuwe apostel. Wat is dit? (verse 21-22)
  5. Hoe vind die verkiesing van die apostel plaas en wat leer ons daaruit? (verse 23-26)
  6. As jy tussen die groepie mense was en een van die “genomineerdes” was, wat sou jy sê om hulle te motiveer om jou te kies as dienskneg van die Here? Raak nou stil by die Here en gee jouself aan Hom as sy gestuurde in jou wêreld in.

 
Bedien mekaar
Draai nou weer 3-3 na mekaar toe en deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Die Here het elkeen in hierdie groep geroep. Hoe gaan ons as groep die roeping hierdie week uitleef?
 
Pinksterfees en die week daarna
20 Mei
Joh.15:26-27; 16:4b-15
Die Voorspraak… die Heilige Gees
Ysbreker
Hoe verwerk jy dit gewoonlik wanneer goeie vriende jou verlaat om op ‘n ander plek te gaan bly?
 
Lof en Aanbidding
Kom ons raak nou eers stil voor die Here. Ons dink aan Hom wat deur sy Gees by ons is. Hy is nie net by ons nie, maar ook in ons. Dink nou aan Jesus in jou en jy in Hom. Daarna gee ons geleentheid vir lof en aanbiddingsliedere terwyl ons Sy teenwoordigheid geniet.
 
Woord
Joh.15:26-27; 16:4b-15

  1. Lees die gedeelte met jou hart in stilte. Vertoef by woorde wat vir jou uitstaan. Herhaal die woorde en laat hulle afsak tot diep in jou hart. Beleef hoe die Heilige Gees jou verhouding met Jesus intiemer maak in hierdie oomblik.
  2. Waar kom die Heilige Gees vandaan en wat word Hy genoem? (Vers 26)
  3. Wat gaan die groot werk wees van die Heilige Gees en waartoe gaan Hy ons motiveer? (Verse 26,27, 16:8; 13; 14a)
  4. Hoe voel Jesus se dissipels oor die feit dat Hy teruggaan na die Vader? Hoe sou jy gevoel het as jy so naby aan Jesus gelewe het en Hy jou verlaat? (16:5-6)
  5. Hoe troos Jesus sy dissipels? (Vers 7)
  6. As ons na hierdie gedeelte kyk, wat kan ons dan verwag van die Heilige Gees? Raak nou stil en sê dit dan vir die Here. Wees beskikbaar om so deur die Here verander te word dat die Heilige Gees vir jou kan influister wat Hy van jou verwag.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar hoe julle Jesus in mekaar raaksien. Deel dan julle nood en behoeftes met mekaar en dra mekaar dan in gebed aan ons Here op.
 
Uitsending
Die Heilige Gees in ons wil ook vir Jesus verheerlik deur ons. Hoe kan ons dit prakties doen in die omgewing waar Hy ons geplaas het?
 
Triniteitsondag en die week daarna
27 Mei
Rom.8:12-17
Die Vader, Seun en Heilige Gees kom ook my kleingeloof te hulp!
Ysbreker
Watter persoon het jou nog altyd goed laat voel oor jouself. Hoekom?
 
Lof en Aanbidding
Fokus nou weer op die Here. Dink eers aan Hom in stilte en geniet Sy teenwoordigheid en aanraking. Iemand kan die volgende woorde van Henri Nouwen lees: “Om God “Abba” te noem is anders as om God ‘n bekende naam te gee. Om God “Abba” te noem is om dieselfde intieme, vreeslose, afhanklike en kraggewende verhouding met God aan te gaan wat Jesus gehad het. Hierdie verhouding word Gees genoem en hierdie Gees word aan ons gegee deur Jesus en stel ons in staat om saam met Hom uit te roep: “Abba, Vader!”. Om God “Abba” te noem is ‘n hartkreet, ‘n gebed wat uit ons diepste innerlike breek. Dit gaan glad nie daar om dat ons God ‘n naam gee nie; dit gaan daar om dat ons God erken as die bron van alles wat ons is. Hierdie toe-eiening is nie die resultaat van enige skielike insig of aangeleerde oortuiging nie; dit is ‘n erkenning en toe-eiening wat die Gees van Jesus in gemeenskap met ons gees laat plaasvind. Dit is die toe-eiening van liefde.”(3 Minute Stilte, 11 Junie) Loof en aanbid Hom daarna.
 
Woord
Rom.8:12-17

  1. Lees weer hierdie paar verse in stilte. Lees dit biddend. Sien die Vader, Seun en Heilige Gees in die gedeelte. Jy kan, terwyl jy lees, saggies in jou hart die woord “Abba, Vader” in jou hart fluister.
  2. Wanneer begin jy gewoonlik twyfel of jy ‘n kind van God is? [Lei die groep om te praat oor ander se kritiek op hulle geestelike lewens, of dat hulle dikwels twyfel omdat hulle hulleself met ander gelowiges vergelyk]
  3. Kyk weer na verse 12-14 en gesels saam oor hoe jy jou “deur die Gees van God laat lei”.
  4. Watter heerlike versekering kry ons in vers 15? (Dink ook aan die woorde van Henri Nouwen bo)
  5. Op watter getuienis moet ons steun vir ons sekerheid dat ons God se kinders is? (vers 16)
  6. Gesels nou saam oor die betekenis van vers 17 vir ons lewe, oor die betrokkenheid van die Vader, Seun en Heilige Gees in jou lewe. Raak dan stil en dink daaroor na. Sien hoe die Here by hierdie ontmoeting jou lewe verander het. Dank Hom daarvoor.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Heilige Gees dat Hy julle vanaand opnuut daarvan verseker dat julle God se kinders is. Bid dan met vrymoedigheid vir mekaar.
 
Uitsending
Dalk is daar iemand in julle wyk of omgewing wat die afgelope tyd baie sterk twyfel, miskien omdat hy/sy deurgeloop het onder ander se kritiek. Hoe gaan die groep die persoon in die komende week help?
 
 
Kontak my gerus: Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net