{ARGIEF}

MAART 2012 RIGLYNE VIR HUISKERKE EN SELGROEPE MET DIE LEESROOSTERTEKSTE AS FOKUS

TWEEDE WEEK IN LYDENSTYD

4 Maart

Gen.17:1-7, 15-16

 ‘n Nuwe naam!

Ysbreker

Is jy tevrede met jou naam? As jy ‘n ander naam kon kies, wat sou dit wees en hoekom?

 

Lof en Aanbidding

Raak stil voor die Here. Dink aan Hom [gee ten minste 3 minute vir die stilte] en sing dan vir Hom liedere waarmee julle Hom aanbid. In jou stilte kan jy die volgende woorde herhaal: “Ek is gedoop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees”

 

Woord

Gen.17:1-7; 15-16

  1. 1.Lees eers weer in stilte die gedeelte met jou hart asof jy self daar is. Beleef die gesprek van die Here met Abram en hoor hoe Hy in hierdie gesprek ook met jou praat. Antwoord Hom in stilte.
  2. 2.Ons lees in hierdie gedeelte van Abram en Sarai wie se name verander. En wanneer die Here vir hulle nuwe name gee, pas dit by dit wat Hy vir hulle beplan. Wat is sy planne vir die twee mense wat pas by hulle nuwe name?
  3. 3.Is dit wat God vir hulle beplan menslik moontlik? (vers 1, vgl.v.17)
  4. 4.Hoe pas ek en jy in by hierdie gebeurtenis? (vers 7,16, vgl.Gal.3:7-9)
  5. 5.Die gelowiges in Antiogië kry ook ‘n “nuwe naam”. Wat is dit? (Hand.11:26b).
  6. 6.Wat beplan God vir jou?

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle bekommernisse en behoeftes wat keer dat julle by God se planne inval, met mekaar. Bemoedig mekaar eers en bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Na watter een “verbondsgesin”, wat heeltemal verwyderd geraak het van die Gemeente, gaan die groep hierdie week uitreik? Beplan hoe julle dit gaan doen.

 

DERDE WEEK IN LYDENSTYD

11 Maart

Joh.2:13-23

Here, kom maak maar skoon!

Ysbreker

Vir watter besoeker sal jy jou huis (of kamer) ekstra skoon kry en hoekom?

 

Lof en Aanbidding

Sing nou weer liedere met ‘n stadiger tempo (meer aanbiddingsliedere) vir die Here. Gee oomblikke van stilte tussenin en ervaar saam die Here se teenwoordigheid en aanraking.

 

Woord

Joh.2:13-23

  1. 1.Raak stil met die Woord en lees die gedeelte weer. Wat staan uit in die gedeelte vir jou? Wat sien jy in hierdie gedeelte en hoe laat dit jou voël wanneer Jesus so “anders” optree? Praat in stilte met om daaroor.
  2. 2.Waarvoor is die tempelplein gewoonlik gebruik? Hoekom is Jesus so ontsteld?
  3. 3.Hoe dink die dissipels oor Jesus se optrede en hoe dink die Jode? (verse 17-18)
  4. 4.Ons weet tog nou al dat geen gebou (selfs die kerkgebou) nie meer die tempel van die Here is nie. Hoe werk dit nou? (1Kor.6:19-20; 12:13,27)
  5. 5.Ons weet ook dat Jesus nie meer ‘n sweep gebruik om die tempel skoon te maak nie. Hoe, dink julle maak Hy vandag skoon? Kan die kerk maar die Woord as sweep gebruik?
  6. 6.Wat is daar wat Hy in jou lewe en in die groep en Gemeente as geheel maar kan skoon maak?
  7. 7.Iemand kan hierdie gebed hardop lees terwyl die ander dit in hulle harte beaam: As ek dink aan die een lewe wat U my gegee het, U liefde vir my en al U drome en goeie bedoelings met my lewe, is ek so jammer oor die kere wat ek dit bederf het. Verander my lewe volkome volgens U wil, Here. (AH)

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Praat openhartig met mekaar oor dit wat julle pla in julle eie lewe en in die Gemeente as geheel. Bemoedig mekaar dan en bid vir mekaar.

 

Uitreiking

Miskien ken julle iemand wat die Here en sy Gemeente lankal verlaat het omdat dieselfde Gemeente hom “met ‘n sweep” bygekom het en hy vandag nog daardie merke het. Wat gaan die groep daaraan doen? Beplan saam.

 

VIERDE WEEK IN LYDENSTYD

18 Maart

Ef.2:1-10

O, die geraamtes in my kas!

Ysbreker

Watter dinge sien julle raak wat nie meer dieselfde is as voor 1994 nie? Is dit vir jou beter of slegter? [Maak tog net seker dat die groep nie hier in partypolitiek verval nie!]

 

Lof en Aanbidding

Maak tyd om stil te word en net eers weer aan die Here te dink. Jy kan op Hom fokus met die volgende woorde: “Here, wees my, arme sondaar, genadig.” Herhaal dit so 5 keer. Aanbid Hom dan met liedere en gebede vir Wie Hy is.

 

Woord

Ef.2:1-10 (Lees dit ook in Die Boodskap)

  1. 1.Lees die gedeelte in stilte met jou hart. Kyk watter woord(e) of sinsnedes staan vir jou uit. Praat met die Here daaroor.
  2. 2.In Die Boodskap is die opskrif van hierdie gedeelte: “AS JOU PAD GOD S’N KRUIS, IS JY NIE MEER DIESELFDE NIE”. Hoe verduidelik Paulus dit in hierdie verse?
  3. 3.Geraamtes in jou kas sê: Jy WAS dood. Maar dan gebeur ‘n wonderwerk in jou lewe. Wat is die groot dryfveer agter die wonderwerk? (Vers 4)
  4. 4.Wie bring ‘n einde aan ons verlede? (vers 5-9). Wat sê dit nou vir jou van jouself?
  5. 5.Wat is ons nuwe roeping? (vers 10). Hoe gaan ons dit saam gedoen kry?

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Here vir jou broer of suster se redding. Dank Hom daarna vir al die “goeie dade” wat jy in hom/haar sien. Daarna bid julle vir mekaar se behoeftes.

 

Uitreiking

Miskien is daar iemand wat die groep ken, wat heeltemal onttrek het, omdat hy/sy skaam is oor sy/haar verlede. Hoe gaan die groep na die persoon uitreik in die week wat kom?

 

VYFDE WEEK IN LYDENSTYD

25 Maart

Joh.12:20-33

Ek wil U dien, Here!

Ysbreker

As jou huis aan die brand is, en jy het die kans om net één iets te red uit die vlamme, wat sal dit wees? Hoekom?

 

Lof en Aanbidding

Raak nou eers stil en begin deur te fokus op die Here. Probeer Jesus sien op Sy pad van lyding. Sing dan aanbiddingsliedere vir Hom.

 

Woord

Joh.12:20-33

  1. 1.Raak eers stil met die Woord oop voor jou. Lees die gedeelte en soos jy dit lees, antwoord jy die Here op sy Woord.
  2. 2.Wat wil die Grieke graag doen en hoekom? (vers 21)
  3. 3.Wat antwoord Jesus? (Verse 25,26) Wat beteken dit?
  4. 4.Watter wonderlike belofte hou dit in? (vers 26)
  5. 5.Wat wys Jesus vir ons in verse 27-28? Het dit gevolge vir almal wat Jesus volg en dien?
  6. 6.Wat wil julle nou vir die Here sê? Raak stil en praat in julle harte met Hom.

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Here vir die groot waarde van jou broer/suster in jou lewe en bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Ons ken mense wat graag vir Jesus wil ontmoet. Wie is hulle en hoe gaan die groep sorg vir hierdie ontmoeting?