{ARGIEF}

September 2012 Riglyne vir Huiskerk en Selgroepbyeenkomste met die Fokustekste van die Leesrooster as basis

VEERTIENDE WEEK IN KONINKRYKSTYD

2 September

Mark.7:1-8, 14-15, 21-23

Die oorgelewerde gebruike

Ysbreker

Wat het jou ma altyd vir jou gesê voor jy aan tafel kom sit het om te eet en hoe het jy daaroor gevoel?

 

Lof en aanbidding

Die Here wat jou aanvaar net soos jy is, is nou by hierdie groep. Raak nou stil in Sy teenwoordigheid en dink vir ‘n oomblik net aan Hom. Dink aan jou dag of week en die Gods-momente wat jy beleef het (goeie of seer oomblikke waarin jy beleef het Hy is by jou). Praat in stilte met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom dan met julle lied. Daarna lees iemand Psalm 15 voor en die groep luister biddend daarna.

 

Woord

Mark.7:1-8, 14-15, 21-23

  1. 1.Lees nou weer die gedeelte in stilte en laat dit afsak tot in jou hart. Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. 2.Waarmee het die Fariseërs en skrifgeleerdes ‘n probleem wanneer hulle Jesus se dissipels dophou? Is daar dan fout mee? (Verse 1-5)
  3. 3.Waarmee het Jesus ‘n probleem? (Verse 6-8)
  4. 4.Hoe verduidelik Hy dit aan die Fariseërs en skrifgeleerdes? (Verse 14-15, 21-23)
  5. 5.Hoe kry mens die binnekant reg? Hoe verander hierdie ontmoeting met Jesus jou lewe? Raak stil en sien reeds die verandering in jou binnekant en lewe daarbuite.

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Dalk moet die groep hierdie week alleen op ‘n plek met die Here kom, en met Hom praat oor al die “oorgelewerde gebruike” in hulle lewe wat hulle godsdiens veruiterlik, en Hom vra om vanuit hulle harte te lewe.

 

VYFTIENDE WEEK IN KONINKRYKSTYD

9 September

Mark.7:24-37

Alles wat Hy doen, is goed

Ysbreker

Wat is vir jou die mooiste geluid op aarde om te hoor? Vertel vir ons hoekom.

 

Lof en aanbidding

Ons raak nou weer stil in die Here se teenwoordigheid. Dink vir ‘n oomblik aan Hom as die Een wat ook in jou lewe alles wat goed is, doen (dink aan ’n paar goeie dinge vandag of die afgelope week). Dit is Hy wat nou hier by jou is om ook in jou behoeftes te voorsien. Geniet sy nabyheid eers net in jou rus by Hom. Sing vir Hom. Na die lof- en aanbiddingsliedere word die groep weer stil. Een uit die groep lees Ps 125 voor en almal bid dit in hulle harte.

 

Woord

Is daar iets wat die Here jou hierdie week deur die Woord geleer het wat jy voel jy met die groep wil deel?

Mark.7:24-37

  1. 1.Lees weer die verse in stilte. Lees dit met jou hart asof jy self hier teenwoordig is in die gedeelte. Beleef dit wat hier gebeur. Praat in stilte met Hom daaroor. Dink oor die voorreg om te kan sien, hoor en praat. Dink jou in die moeder se situasie met haar dogter in.
  2. 2.Wat lees ons van die onbekende vrou in verse 24-26. Let veral op alles wathaar is. Wat leer ons van haar?
  3. 3.Wat dink julle van Jesus se gesprek met haar in verse 27-28?
  4. 4.Wat vertel hierdie gedeelte vir ons oor die Here wat ons aanbid? (Verse 29-30)
  5. 5.Wat gebeur wanneer die doofstom man se vasgeloopte paadjie Jesus s’n kruis? (Verse 31-35)
  6. 6.Is dit wat ons in verse 36-37 lees, nie vreemd nie? Hoe sou jy gereageer het? Dink nou oor die verandering wat die Here deur hierdie gedeelte in die Woord in jou eie lewe bring.

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Here dat Hy nou hier is en dat julle weet dat alles wat Hy doen goed is. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.

 

Uitreiking

Hoe kan hierdie groep die Here met al sy goeie dade in julle omgewing sigbaar maak?

 

SESTIENDE WEEK IN KONINKRYKSTYD

16 September

Mark.8:27-38

Om Jesus te volg

Ysbreker

Ken jy vasbyt of gooi jy maklik tou op?

 

Lof en aanbidding

Kom nou tot rus in die Here se teenwoordigheid. Dink in stilte aan Hom as die Here jou God wat sy alles vir jou gegee het, ook die afgelope week tree-vir-tree jou pad saam met jou geloop het. Dink aan oomblikke vandag of die afgelope week waar jy werklik bewus was van die Here by jou. Raak dan stil by jou gedagtes verby.  Loof en aanbid Hom dan met liedere. Laat iemand Ps.19 lees en die groep bid die woorde in hulle harte.

 

Woord

Mark.8:27-38

  1. 1.Lees die gedeelte biddend in stilte deur tot jy jouself in die prentjie wat hier geskets word, sien. Luister sodat jy Jesus se stem self hoor. Praat in stilte met Hom oor die Woord.
  2. 2.As ons Jesus wil volg, moet ons doodseker wees Wie ons volg. Wat leer ons uit verse 27-30. Wie is Jesus vir jou?
  3. 3.As ons Jesus regtig wil volg, is die wil van God ons wil. Wat moet Petrus in sy gesprek met Jesus leer? (Verse 31-33)
  4. 4.Wat behels dit om Jesus te volg? (Verse 34-37) Is dit menslik moontlik?
  5. 5.Wat wil ons Here vir ons deur hierdie woorde leer en hoe verander Hy jou lewe daardeur?

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Kyk mekaar in die oë en vertel mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien en waardeer. Dank die Here dat Hy nou hier is en julle die voorreg het om Hom te volg, deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Hoe kan hierdie groep ware dissipels van Jesus in die omgewing maak?

 

SEWENTIENDE WEEK IN KONINKRYKSTYD

23 September

Mark.9:30-37

KONINKRYKSWAARDES IN KONINKRYKSTYD!

Ysbreker

Kan jy onthou uit jou kinderdae van ‘n geleentheid toe jou ouers, onderwyser of enige grootmens jou so verkleineer het, dat jy nikswerd gevoel het? Vertel ons daarvan.

 

Lof en Aanbidding

Kom eers tot rus by die Here. Dink na oor die pad wat jy met Hom die afgelope week met Hom geloop het. Watter nuwe dinge het Hy jou geleer? Op watter plek in die pad het Hy ver gevoel? Dink daaroor na met jou hart oop voor jou Here. Vir God is jou gebed en jou lied belangrik. Loof  en aanbid Hom wat nou hier by julle is uit julle harte. Iemand kan Psalm 54:3-9 voorlees terwyl die ander daarna luister en dit in hulle harte saambid.

 

Woord

Mark.9:30-37

  1. 1.Lees weer die gedeelte in stilte deur. Let op woorde wat vir jou uitstaan. Lees dit biddend sodat dit deel word van jou hart en lewe. Dalk kan jy dink aan jou argumente?
  2. 2.Jesus het dikwels Homself afgesonder om alleen met sy dissipels te wees. Hoekom dink julle doen Hy dit? Hoe doen Hy dit vandag nog?
  3. 3.Lees nou weer vers 34. Sou julle ook stil gebly het as julle met dié argument besig was? Waaroor argumenteer julle dikwels waaroor julle liewer sou stilbly in Jesus se geselskap?
  4. 4.Jesus gaan sit en Hy roep julle en leer julle ‘n belangrike ding. Wat is dit? (verse 35-37)
  5. 5.Hoe verander hierdie oomblikke in Jesus se geselskap jou eie lewe? Sê dit vir mekaar. Almal kry dan geleentheid om dit in stilte vir die Here Jesus te sê.

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar. Bid vir mekaar se behoeftes en dank die Here vir spesifieke Koninkrykswaardes wat jy nou reeds in jou broer/suster sien.

 

Uitreiking

Die Here maak ons oë oop vir hulle wat ons tot nou toe as onbelangrik gesien het. Gaan “ontvang” hierdie week so ‘n “kindjie”, sodat jy Hom (Jesus) ontvang en die Vader wat Hom gestuur het.

 

AGTIENDE WEEK IN KONINKRYKSTYD

30 September

Mark.9:38-50

EK WORD ‘N BETER DISSIPEL!

Ysbreker

Hoeveel keer was jou eerste indrukke van mense al reg of verkeerd?

 

Lof en Aanbidding

Raak stil by die Here. Gee jou gedagtes die geleentheid om tot rus te kom. Jy kan dit doen deur ontspanne te sit, met jou hande op jou skoot en jou oë toe en net eers te fokus op jou asemhaling. In jou gedagtes kan jy saggies sê: Here, ek is hier… En dan bring jy jou alles na Hom toe – jou seer, jou blydskap, jou bekommernis, jou vrede. Daarna kan sê: Here, U is hier en dan kan jy jou hande op jou skoot simbolies na bo draai met die verwagting om van die Here dit wat jy nodig het, te ontvang. Gee nou julle self saam met julle lof en aanbidding aan die Here in julle midde. Iemand kan dan Ps.19:8-15 voorlees terwyl die ander dit bid.

 

Woord

Mark.9:38-50

  1. 1.Lees elkeen eers weer die gedeelte in stilte, terwyl jy na die middel van die verhaal beweeg. Sien jouself daar met jou vrae. Hoor Jesus se sagte woorde, ook die harde woorde. Let op woorde en sinsnedes wat vir jou uitstaan. Dink in stilte daaroor na.
  2. 2.Wat is “snaaks” oor Johannes se storie wat hy aandra na Jesus (lees 9:18)? Wat sê Jesus daaroor? (Vers 38-41) . Is ons nie partymaal baie hard op ons broers en susters wat nie in ons “dissipelkring” is nie?
  3. 3.Hoeveel keer gebruik Jesus die woord “beter” in verse 42-47? Wat is beter as wat?
  4. 4.Wat is die funksies van sout? Wat as die dissipels van Jesus nie meer hierdie funksies het nie?
  5. 5.Hoe lyk mense wat werklik sout is? (Vers 50b). Is dit ons groep?
  6. 6.Hoe verander hierdie wandeling met Jesus jou as dissipel se denke en lewe? Deel dit nou in stilte met Hom, terwyl jy Hom dank vir die verandering wat jy reeds kan sien.

 

Bediening

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Here vir iets spesifiek wat jy in jou broer/suster raaksien, wat jy kan navolg en bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Na watter een persoon gaan jy hierdie week met watter een van die funksies van sout?