{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster vir Lidmate as basis

Vyftiende week in Koninkrykstyd

2 September
Mark.7:1-8, 14-15, 21-23
Die oorgelewerde gebruike
Ysbreker
Wat het jou ma altyd vir jou gesê voor jy aan tafel kom sit het om te eet en hoe het jy daaroor gevoel?
Lof en aanbidding
Die Here wat jou aanvaar net soos jy is, is nou by hierdie groep. Raak nou stil in Sy teenwoordigheid en dink vir ‘n oomblik net aan Hom. Word bewus daarvan dat jy in Hom is en Hy in jou. Dink in stilte na oor jou binnekant. Daar waar jy met Jesus die intiemste van alle verhoudings met Jesus het. Hoe het dit jou “buitekant” beïnvloed die afgelope week? Praat in stilte met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom dan met julle lied. Daarna kan iemand met dié gebed van Jorg Zink die lof en aanbidding afsluit: “Here, my woord is minderwaardig. Ek wil stilbly dat ek kan leer om u woord en my woord te onderskei. Want ek wil u mond wees, nie my mond nie. Gee U my ‘n woord”
Woord
Mark.7:1-8, 14-15, 21-23

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte en laat dit afsak tot in jou hart. Hoor Jesus se woorde en herhaal die woorde wat jou raak, in stilte in jou hart. Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Waarmee het die Fariseërs en skrifgeleerdes ‘n probleem wanneer hulle Jesus se dissipels dophou? Is daar dan fout mee? (Verse 1-5)
  3. Waarmee het Jesus ‘n probleem? (Verse 6-8)
  4. Hoe verduidelik Hy dit aan die Fariseërs en skrifgeleerdes? (Verse 14-15, 21-23)
  5. Kom nou weer tot rus by die woorde van Jesus. Lees die woorde wat vir jou uitstaan weer deur en fluister dit saggies. Sien hoe Jesus se woorde jou lewe verander en nuutmaak.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Dalk moet die groep hierdie week alleen op ‘n plek met die Here kom, en met Hom praat oor al die “oorgelewerde gebruike” in hulle lewe wat hulle godsdiens veruiterlik, en Hom vra om vanuit hulle harte te lewe.

Sestiende week in Koninkrykstyd

9 September
Mark.7:24-37
Alles wat Hy doen, is goed
Ysbreker
Wat is vir jou die mooiste geluid op aarde om te hoor? Vertel vir ons hoekom.
Lof en aanbidding
Ons raak nou weer stil in die Here se teenwoordigheid. Dink vir ‘n oomblik aan Hom as die Een wat ook in jou lewe alles wat goed is, doen. Dit is Hy wat nou hier by jou is om Homself aan jou te gee. Dink na oor alles wat jy die afgelope week van Hom ontvang het. Sê vir Hom dankie. Sing vir Hom. Na die lof- en aanbiddingsliedere word die groep weer stil. Een uit die groep lees Ps 125 voor en almal bid dit in hulle harte. Fluister die woorde: “Ek vertrou op U, Here…” drie maal.
Woord
Mark.7:24-37

  1. Lees weer die verse in stilte. Lees dit met jou hart asof jy self hier teenwoordig is in die gedeelte. Beleef dit wat hier gebeur. Praat in stilte met Hom daaroor. Dink oor die voorreg om te kan sien, hoor en praat. Dink jou in die moeder se situasie met haar dogter in. Dalk is daar ‘n moeder of iemand wat vasgeloop is wie se naam jy net vir die Here wil noem.
  2. Wat lees ons van die onbekende vrou in verse 24-26. Let veral op alles wat teen haar is. Wat leer ons van haar?
  3. Wat dink julle van Jesus se gesprek met haar in verse 27-28?
  4. Wat vertel hierdie gedeelte vir ons oor die Here wat ons aanbid? (Verse 29-30)
  5. Wat gebeur wanneer die doofstom man se vasgeloopte paadjie Jesus s’n kruis? (Verse 31-35)
  6. Is dit wat ons in verse 36-37 lees, nie vreemd nie? Hoe sou jy gereageer het?
  7. Raak nou stil by die Here. Dink aan sy pad met jou die afgelope tyd. Dink hoe graag jy vir ander daarvan wil vertel, maar dit eerder net eers in jou hart wil bewaar, totdat jy dit lewe. Praat met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Here dat Hy nou hier is en dat julle weet dat alles wat Hy doen goed is. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan hierdie groep die Here met al sy goeie dade in julle omgewing sigbaar maak?

Sewentiende week in Koninkrykstyd

16 September
Spreuke 1:20-33
Gee my wysheid, Here
Ysbreker
Ons sê dikwels: “My Pa/Ma het altyd gesê…” Is daar iets spesifieks wat jy onthou wat vir jou lewenspad iets beteken het?
Lof en Aanbidding
Loof die Here nou met julle lied, Psalms en gebede en aanbid Hom. Hy is hier om Homself aan jou te gee. Raak dan stil en dink aan Hom die afgelope tyd in jou lewe. Dink na oor hoe Hy jou gelei het. Sê dankie. Iemand lees nou Psalm 111:10. Herhaal die woorde in jou hart. Iemand anders lees nou Spreuke 9:10 en die groep fluister die woorde saggies agterna.
Woord
Spreuke 1:20-33

  1. Lees nou weer die verse in stilte en fokus op woorde of sinsnedes wat vir jou uitstaan. Herhaal die woorde saggies. Sien hoe jou lewe verander wanneer die woorde deel word van jou.
  2. Wanneer sê ‘n mens gewoonlik die woorde: “Ag, as ek maar net geluister het!”?
  3. Lees nou verse 22,24,25,29,30. Klink hierdie woorde vir julle bekend? Sien julle dit wat hier gebeur rondom julle? Hoe?
  4. Wat is die gevolge? (Verse 26-28,31-32)
  5. Wat is wysheid as julle Joh.14:15,21 lees?
  6. Hoe kan ons ooit hierdie wysheid kry? (Jak.1:9). Hoe kan ons mekaar daarmee help?
  7. “Wysheid begin met die dien van die Here”. Raak nou stil en dink na oor jou verhouding met die Here. Dien jy Hom? Dien Hy jou? Praat in stilte met Hom daaroor. Herhaal die woorde van Psalm 27:8 saggies driemaal in jou hart: “Ek is hier om U te dien, Here”

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle bekommernisse met mekaar en bid vir mekaar. Onthou om die Here te dank vir die mooi dinge wat jy in jou broer/suster raaksien.
Uitsending
Is daar iemand nou op jou hart wat jou woord van wysheid nodig het? Gaan hierdie week na hom/haar toe.
(Ons gaan van hier af die Markus-siklus saam lees en beleef)

Agtiende week in Koninkrykstyd

23 September
Mark.9:30-37
Om Jesus te ontvang
Ysbreker
Hoe belangrik is dit vir jou om belangrik te wees?
Lof en Aanbidding
Loof  en aanbid die Here wat nou hier by julle is uit julle harte. Kom dan tot rus by die God wat met liefde na jou kyk. Hoor sy stem wat jou op jou naam noem en sê: “Jy is my geliefde kind. Jy is vir my kosbaar.” Dink na oor wat hierdie woorde vir jou beteken, veral wanneer jy deur mense iets anders gemaak word as wie jy werklik is. Praat met Hom daaroor.
Woord
Mark.9:30-37

  1. Lees die gedeelte met jou hart en klim in in die verhaal asof jy self daar is. Hoor sy stem wanneer Hy met julle groepie dissipels gesels. Hy vertel dat Hy gaan doodgemaak word, maar opstaan. Jy verstaan nie. Terwyl julle saam met Hom stap gesels die dissipels met mekaar. Dit klink na ‘n stryery. Sien die kindjie, Jesus se arm om hom. Hoe raak dit jou?
  2. Jesus het dikwels Homself afgesonder om alleen met sy dissipels te wees. Hoekom dink julle doen Hy dit? Hoe doen Hy dit vandag nog?
  3. Lees nou weer vers 34. Sou julle ook stil gebly het as julle met dié argument besig was? Waaroor argumenteer julle dikwels waaroor julle liewer sou stilbly in Jesus se geselskap?
  4. Jesus gaan sit en Hy roep julle en leer julle ‘n belangrike ding. Wat is dit? (verse 35-37)
  5. Lees en beleef weer die gedeelte in stilte. Doen dit nou biddend. Dink daaroor na of Jesus jou belangrik genoeg laat voel. Sien weer die kindjie. Dink aan die boodskap van die kindjie.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar. Dank eers die Here dat jy so veel van Hom in jou broer en suster sien en bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Die Here maak ons oë oop vir hulle wat ons tot nou toe as onbelangrik gesien het. Gaan “ontvang” hierdie week so ‘n “kindjie”, sodat jy Hom (Jesus) ontvang en die Vader wat Hom gestuur het.

Negentiende week in Koninkrykstyd

30 September
Mark.9:38-50
Met my alles Jesus se dissipel
Ysbreker
Hoeveel keer was jou eerste indrukke van mense al reg of verkeerd? Vertel ons daarvan.
Lof en Aanbidding
Gee nou julle self saam met julle lof en aanbidding aan die Here in julle midde. Dink nou in stilte aan Hom wat graag nou by julle groepie dissipels wil wees. Hy weet van julle elkeen, ken julle vrae, selfs die hart waarmee julle Hom volg, dien en liefhet. Rus by Hom. Beleef sy aanraking. Deel saggies in gebed die dinge wat op jou hart is.
Woord
Mark.9:38-50

  1. Lees die gedeelte met jou hart. Sien Johannes se onsekerheid. Hoor Jesus se stem. Beleef hoe radikaal dit is om Jesus se dissipel te wees. Watter emosie maak dit in jou hart wakker? En onthou: Jesus praat altyd met ‘n hart vol liefde ook met jou.
  2. Waaroor is Johannes besorg (lees 9:38)? Wat sê Jesus daaroor? Hoe weet ons iemand tree regtig op in die Naam van (namens) Jesus? (Verse 38-41)
  3. Hoeveel keer gebruik Jesus die woord “beter” in verse 42-47? Wat is beter as wat en wat sal Jesus met hierdie woorde bedoel?
  4. Wat is die funksies van sout? (Verse 49-50)
  5. Lees nou weer die gedeelte biddend deur. Sien hoe jou hart verander om met jou alles Jesus se dissipel te wees. Sien hoe jy smaak gee en vrede bring oral waar jy kom. Sien jou familie, jou vriendekring, jou gemeente, jou dorp oor grense heen. Sien hoe jou teenwoordigheid dinge nuutmaak.

Bediening
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Here eers vir al die mooi dinge wat jy in jou mede-dissipels raaksien en hoe dit jou geloof vorm. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Na watter een persoon gaan jy hierdie week met watter een van die funksies van sout?