{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis

Twaalfde week in Koninkrykstyd

1 September
Hebreërs 13:1-8, 15-16
As broers… en susters
Ysbreker
Kan jy dink aan ‘n groot opoffering wat jy al vir jou familie moes maak?
 
Lof en aanbidding
Fokus nou op die Here met lof en aanbiddingsliedere. Raak dan stil en dink aan Hom in jou lewe die afgelope tyd. Waar was jy die meeste bewus van sy teenwoordigheid? Wanneer het dit vir jou gevoel Hy is ver? Waar was Hy toe? Praat in stilte met Hom daaroor. Sluit af met die eenvoudige gebed (met stiltes tussenin): “My Here, ek het U lief// my Here, ek is jammer// my Here, ek glo in U// my Here, ek vertrou U// help ons om mekaar lief te hê// soos U ons liefhet.” Moeder Teresa.
 
Woord
Hebreërs 13:1-8, 15-16

  1. Lees die paar verse biddend en in stilte. Watter woorde raak jou? Hoe verander die woorde jou diep in jou hart en hoe lyk jou lewe na die verandering?
  2. Dalk lê die kern van hierdie gedeelte in die heel eerste vers. Wat beteken vers 1?
  3. Hoe lyk die “mekaar altyd liefhê” prakties wanneer ons dink aan:
    1. Gasvryheid (vers 2)
    2. Gevangenes (vers 3)
    3. Jou lewensmaat (vers 4)
    4. Geld (verse 5,6)
    5. Die voorgangers (vers 7)
  4. Waarom dink julle is vers 8 deel van hierdie gedeelte?
  5. Hoe lyk die offer wat vir God aanneemlik is? (verse 15,16) Wat beteken dit om te “offer”? (Blaai weer na vers 1)
  6. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die gedeelte in stilte en laat die woorde deur jou gedagtes en hart spoel. Sien reeds die nuwe lewe wat die Here deur die gedeelte vir jou kom gee.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep die week prakties “mekaar gaan liefhê”?
 

Dertiende week in Koninkrykstyd

8 September
Filemon 1-21
Vergeet die ou koeie
Ysbreker
Watter byname het jy op skool of in jou huis gehad? Het die name by jou gepas?
 
Lof en Aanbidding
Kom ons ervaar nou ons Here se omhelsing deur met ons lof en aanbidding in Sy arms in te hardloop. Kom ons wees uit ons harte bly en wys die blydskap oor Sy teenwoordigheid. Ons kom dan tot rus by die Here. Iemand lees die volgende woorde uit Psalm 139, terwyl die res dit in hulle harte saambid (stiltes tussenin) Here, U sien dwarsdeur my,// U ken my.// Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,// U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.// Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,// U is met al my paaie goed bekend. // Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. // U omsluit my van alle kante,//  U neem my in besit.// Dié wete oorweldig my,// dit is te hoog vir my begrip.”
 
Woord
Filemon 1-21

  1. Lees die gedeelte biddend en sien jouself in die verhaal, dalk as Paulus wat probeer vrede maak, of as Filemon wat moet vergewe, of Onesimus wat vergifnis en restitusie nodig het. Wat gebeur in jou hart wanneer jy dit lees?
  2. Dink julle Paulus smeer heuning om Filemon se mond in verse 4-7 om by sy eintlike punt uit te kom. Watter van hierdie mooi dinge pas by jou?
  3. Op grond waarvan doen Paulus die beroep op Filemon? (verse 8,9)
  4. Wat is die inhoud van Paulus se beroep? (verse 10-21)
  5. As julle ‘n brief moes skryf aan iemand om hom/haar te motiveer om iemand anders te vergewe, hoe sou die brief klink?
  6. Raak nou stil by die Here. Lees weer die brief. Laat die woorde wat jou hart raak, insink en jou lewe verander. Dalk moet jy iemand wat jou skade aangedoen het, vergewe? Dalk moet jy iemand help om te vergewe. Laat die Here deur sy Gees jou nou lei en maak jou hart oop daarvoor.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan in liefde vir mekaar.
 
Uitsending
Jy kan hierdie week of na iemand toe gaan om vrede te gaan maak, of iemand help om vrede maak. Watter een en met wie gaan jy dit doen?
 

Veertiende week in Koninkrykstyd

15 September
Lukas 15:1-10
Die blydskap oor een…
Ysbreker
As jy iets waardevol verloor het, soek jy lank daarna of gaan koop jy maar ‘n ander een?
 
Lof en Aanbidding
Kom tot rus in die Here se teenwoordigheid. Fokus op die lewende Here in julle midde. Praat saggies met Hom. Stort julle harte in lof- en aanbiddingsliedere en gebede voor Hom uit. Iemand sluit hierdie oomblik af met die volgende gebed (stiltes tussenin): “Here, U is in liefde by my// U dink aan my as kosbaar// U maak tyd om my te soek// hier is ek, Here// doen in my en aan my wat U wil.” AH
 
Woord
Luk.15:1-10

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte deur. Kyk of jy in Jesus se hart kan inkom in hierdie gedeelte. Dink aan jouself as die een wat Hy gevind het. Praat saggies met die Here daaroor.
  2. Waarteen maak die Fariseërs en skrifgeleerdes beswaar? (Verse 1,2) Sou jy ook beswaar gemaak het?
  3. Jesus antwoord hulle met 2 gelykenisse. Kom ons som dit op.
  4. Wat wil die Here deur sy Woord vir die Fariseërs, skrifgeleerdes en ons leer? (Verse 7, 10)
  5. Lees nou weer die gelykenisse biddend deur. Dink aan hoe kosbaar jy en ander vir God is. Bid dat die Here jou deur Sy oë na mense sal laat kyk.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. As julle kan, dink vanaand aan ‘n skapie of muntstuk wat weggeraak het en bid vir hulle. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Wat gaan hierdie groep doen om al die verlore skapies en muntstukke weer te vind sodat daar in die Gemeente en die hemel blydskap kan wees?
 

Vyftiende week in Koninkrykstyd

22 September
Lukas 16:1-13
Besigheid is besigheid
Ysbreker
Kan jy onthou van ‘n tyd toe jy gevoel het ‘n besigheidsmens loop jou lelik in? Wat het jy daaraan gedoen?
 
Lof en aanbidding
Gee julleself nou met julle lofliedere aan die Here en aanbid Hom met julle liedere en gebede. Raak dan stil by Hom en dink aan Hom in jou lewe van elke dag die afgelope week. Dink daaraan dat daar nie ‘n sekonde of millimeter van jou lewe is, waar Hy nie teenwoordig is nie. Hoe laat dit jou voel? Hoe verander sy teenwoordigheid jou lewe? Iemand sluit hierdie oomblik af met die volgende gebed (gee geleentheid vir stiltes tussenin): “Jesus, u lig skyn in ons in// laat nie my twyfel en my donkerte met my praat nie// Jesus, u lig skyn in ons in// laat my hart u liefde verwelkom.” Broer Roger van Taizé.
 
 
Woord
Lukas 16:1-13

  1. Lees eers die gedeelte met jou hart deur en let op die dinge wat die Here deur sy Gees op jou hart druk. Wat laat jou ongemaklik voel? Wat is daar wat jou goed laat voel? Hoe verander die gedeelte jou hart en lewe?
  2. Wat is die bestuurder se probleem? (verse 1-3) Wat sal jy doen as so iets met jou gebeur?
  3. Watter plan maak die bestuurder? (verse 4-7) Wat dink julle van sy plan?
  4. Hoe reageer die ryk man op die bestuurder se planne en wat wil Jesus sy dissipels hieruit leer? (verse 8-13)
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die gedeelte deur, en terwyl jy lees, fokus jy op dié dinge wat die Here jou God vir jou uitwys. Dalk is dit iets in die Gemeente of jou omgewing waarheen Hy jou stuur. Wees oop vir sy leiding.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar. Kyk hoe julle mekaar kan help. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons saam met ons Here werk om ons omgewing eerlik te maak?
 

Sestiende week in Koninkrykstyd

29 September
Lukas 16:19-31
Om oortuig te word
Ysbreker
Hoe maklik aanvaar jy gewoonlik iets vir die waarheid?
 
Lof en aanbidding
Sing nou vir die Here liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Kom dan tot rus by die Here en dink aan Hom in die week wat verby is in jou lewe. Op watter maniere het Hy die afgelope week na jou toe gekom? In watter mense, ontmoetings, byeenkomste? Hoe het Hy jou daarvan bewus gemaak? Iemand sluit hierdie oomblik af met die lees van Psalm 91:1-6, 14-16. Herhaal die woorde “my God op Wie ek vertrou” saggies 3X in jou hart.
 
Woord
Lukas 16:19-31

  1. Lees weer die bekende gedeelte asof die gelykenis “onder jou neus” gebeur. Beleef dit, sien jouself in die gelykenis. Wat gebeur in jou wanneer jy dit lees?
  2. Hoe leer ons die ryk man en Lasarus ken in die eerste verse van die gelykenis? (verse 19-21)
  3. Dan kom die ryk man en Lasarus te sterwe. Wat gebeur daarna? (verse 22-26)
  4. Watter onmoontlike versoek rig die ryk man tot vader Abraham en hoe antwoord hy? (verse 27-31)
  5. Raak nou stil by die Here. Hy wil iets vir jou sê deur hierdie gelykenis. Fokus daarop en dink daaraan hoe Hy jou lewe nuut maak in hierdie oomblik.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sê eers vir mekaar hoe julle mekaar waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Wat kan hierdie groep in die komende week doen in gehoorsaamheid aan die Here se Woord?
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net