{ARGIEF}

AURORA  alt

Die mense van STOP (Stop Trafficking of People) het ons by ons afsluitingsvergadering van die jaar besoek. Omdat hierdie byeenkoms so tekenend is van die gehalte en aard van die altbyeenkomste van ons plaaslike bediening, begin ons graag hiermee.

Die vrolikgedekte tafels – die blomme uit ons veld – keurig gerangskik, die heerlike eetgoed en lekker geselskap, die puik aanbieding van ‘n aktuele saak! Dit vat só raak saam wie ons is en wat ons doen hier in die oorwegend-landbougemeenskap met die dorpie, Aurora, aan die westelike voet van die Piketberge as kerksentrum.

Aurora se Vrouebediening het ‘n gevestigde struktuur met ‘n hoofleidster (me Suzette Jacobs – ons leraars- vrou) en vier wyksleidsters wat die dorp en die plaaswyke lei. Marian Coetzee is ons verteenwoordiger by die Ring van Piketberg. Elke wyk is verantwoordelik vir ‘n spesifieke veld van bediening nl Barmhartigheid, Jeug, Leer- en -Aktueel en Getuienis.

Geld word ingesamel dmv Potjiekosaande, Steak-aande; Wyksbasaars en donasies. Projekte word geïdentifiseer soos bv CLF se “Miljoen Bybels vir Miljoen kinders”, Bybelkor; Etes vir mense in ons gemeenskap wanneer nodig, Spesiale Skole en ook soos behoeftes onder ons aandag gebring word.

Die “Waardevol vir Jesus” – projek het die vroue na die breipenne laat gryp en Kathy Kupke het sommer tweehonderd-en-vyftig poppies gebrei. Dis net ‘n voorbeeld van hierdie vroue se omgee vir ander.

Die wyks- en algemene vergaderings word deur sprekers wat projekte onder ons aandag wil bring en ook deur plaaslike lede aangebied.

Die plaaslike gemeente en Kerkraad word sterk ondersteun. Ons kom ook ons verpligting teenoor Hoofkantoor na.

In die woorde van dr Nelis Niemandt, moderator van die Algemene Sinode, ervaar ons: “Dit is in die kleiner gemeenskappe waar die Gees van God die ideale omstandighede vind om te werk.”