{ARGIEF}

 Hap-en-stap-ete in BONNIEVALE 

Ons het vanjaar vanuit die hele gemeente staatmaker- ekonomiese resepte bymekaar gemaak, met die voorwaarde dat elkeen wat vir ons ‘n resep gee haarself daartoe verbind om ook vir ons ‘n oondbak van dié spesifieke gereg te maak.  Ons het pragtige resepteboekies laat druk en bind.  Op 1 Februarie het ons toe ons Hap-en-Stap-ete gehou.
altOns het kaartjies verkoop teen R35 pp.  Elkeen het met die inkom ‘n kleinbordjie en vurkie gekry. Die saal het agt stasies gehad, met die ongeveer 90 geregte uitgestal op die tafels.
Resepteboekies was te koop by die deure, elke gereg was genommer en die nommer het ooreengestem met die resep in die resepteboekie.  So is geregte opgedeel in happie-groottes of happie-groottes is geskep van elke gereg. (L.W, slaaie, fudge, vleise, terte, groentes, poedings – alles deurmekaar!!)
Die manne wat gedink het hulle sal nooit versadig kom nie, was dit eens – hulle het hulleself totaal en al ooreet!! Watter normale bord kos bestaan immers uit ongeveer 90 happies kos? Ons opkoms was uit-stekend en ons het mense betrek wat nooit andersins na ‘n gemeente-ete sou kom nie.  Wat die heel lekkerste was, was die heerlike, gesellige en ontspanne atmosfeer wat geheers het en die lekker saamlag en kuier!  alt
Almal was dit eens – doen dit asseblief weer!  Nie-mand het hulleself doodgewerk nie en agterna was daar nie veel opruimwerk nie, aangesien almal weer hulle bakke en dit wat   oor was huis toe geneem het.
Ons het dit in die heel eerste plek gedoen om as gemeente iets saam te kan doen, maar almal doen dit mos ook maar vir die finansies. Ons het baie, baie meer gemaak as wat ons ooit sou kon met ‘n gemeente-ete!
Ons het  ‘n baie spesiale Wêreldbiddag vir Vroue beleef in Bonnievale op  28 Februarie.  Ons is eerstens op ‘n eg Franse wyse by die deure ontvang deur “Franse meisies” met ‘n “Bonjour”,  terwyl die Franse musiek ons al vanuit die straat begroet het.  Ons het die kerkportaal binnegestap en ‘n eg Franse toneel het ons begroet.
Ook was ons blomme eg Frans en is die Eiffeltoring baie kunstig uitgebeeld in die landskleure, met doeke en wit en rooi blomme, Franse brode, Franse sjampanje en laventel daarby.  Die boodskap, Ek was ‘n vreemdeling en jy het my verwelkom, het ons opnuut aan die dink gesit en ons weer aan die hart gegryp. Na toneeltjies, getuienisse, ‘n heerlike kanon lofsang en innige voorbidding, het elke persoon met die uitstap ‘n warm croissant ontvang op ‘n wit, rooi en blou servet. Vooraf is gevra dat ons vroue voor hulle dit die aand eet, een persoon wat swaarkry en wat die Here op hulle hart lê, aan die Hom op te dra in gebed.