{ARGIEF}

Calvinia-Hantam – Joey Rootman

Aan die einde van 2011 was dit die vierde jaar dat die vrouens van Calvinia-Hantam Bybels aan elke Gr 1-leerder van al die skole (dorp en plaasskole), kon oorhandig. Bydraes uit die gemeenskap en ook van ‘n donateur, maak hierdie wonderlike aksie moontlik.  Vir sommige kinders is dit sy/haar enigste Bybel en die dankbaarheid en opgewondenheid van die leerders, wanneer hulle die Bybels ontvang, is elke keer vir ons aangrypend!

D m v ons jaarlikse insameling en ook die wins uit die ete met Moedersdag, kon ons weer die afgelope jaar ons verpligtinge teenoor die Sinodale kantoor nakom en saam medewerkers wees waar nood verlig moet word en werksaamhede moet voortgaan. Ook in die gemeenskap kon ons behoeftige leerders help met noodsaaklike  lewensmiddele.

Die vrouens het ook saam met Calvinia Moedergemeente aan die einde van die jaar gehelp met koekies en beskuit aan die inwoners van ons Tehuis vir Bejaardes, Sorgvliet.  ‘n “Dankie-sê” briefie van ‘n inwoner het ons hartseer gemaak toe sy skryf dat vir sommige van die inwoners daardie pakkie koekies die  ENIGSTE  lekker iets is vir Kersfees! Ons vrouens se bydraes in die vorm van voedselhulp, klere, finansies en ondersteuning tydens Sorgvliet se basaar en ook aan die plaaslike ACVV kantoor, bly ‘n deurlopende aksie.

Daar is ook van ons vrouelidmate wat deelneem aan die twee gemeentes se uitreikaksies na plase – huidiglik een keer ’n kwartaal. Hulle getuig van wonderlike saamwees met werkers op plase, van sang, getuienis en verryking waarvoor die Here alleen al die eer verdien!

Calvinia-Hantam is op 18 Julie vanjaar 50jr oud!  Die naweek van 21 Julie 2012 hou ons ‘n “verjaardagtee” vir die inwoners van Sorgvliet en die aand ‘n geleentheid vir die hele gemeente, waarheen ook die oudleraars genooi is. ‘n Feesboek wat onder redaksie van een van ons vrouelidmate, Carien Visser, saamgestel is, word daardie aand bekendgestel en oorhandig. Ons vrouens is hard besig met die voorbereidings vir al die heerlike saamwees- en kuiergeleenthede. Nog ‘n hoogtepunt van ons feesjaar is tydens ons Dankfees die naweek van 3 en 4 November 2012. Ook vir hierdie geleentheid word omtrent vere reggeskud en ons sien daarna uit om die oudleraars en ook oudlidmate te verwelkom!

Ons is dankbaar dat ons bevoorreg is om met ons uniekheid as vroue, ook in Calvinia ‘n verskil te kan maak!