{ARGIEF}

Calvinia-Moedergemeente – Chrissie Thorne

Ons gemeente bestaan uit dorps- en plaaswyke. Agv ver afstande en slegte grondpaaie hou ons buite-dienste met 99% bywoning. Die gemeentevroue funksioneer in wyksverband. Alhoewel baie van ons dames ver en afgesonder is, ontbreek entoesiasme, betrokkenheid, vindingrykheid, gewilligheid en kreatiwiteit nie.

 Ongeveer 15 vroue woon Woensdagoggende ‘n Vrouebybelstudie by. Die Wêreldbiddag vir Vroue word gedurende Maart aangebied en al die kerke op Calvinia neem beurte om dit waar te neem. 

 Talle funksies op die kalender sorg jaarliks vir heerlike aktiwiteite: Daar’s bv ‘n potjiekoskompetisie wat aangebied word vir fondsinsameling, Moeders- of Vadersdagetes word aangebied en ook ’n blomme- en kersmark. Verder bied Middelpos, wat twee plaaswyke verteenwoordig, jaarliks ook ‘n formele steakete aan.

 

Ons reël ook, afwisselend met Hantamgemeente, jaarliks ‘n ontbyt  vir die matrieks en ‘n vrouediensjaarafsluitingsfunksie aan. Tydens 2011 se afsluiting het Rian Hunter by die Moedergemeente opgetree.

 

Verder woel ons vroue met breiwerk en koekies bak: Tydens Pinkster 2011 het ons vier en sewentig pare moffies gebrei wat aan die bejaardes van Sorgvliet (Tehuis vir Bejaardes) uitgedeel is. Die een paar moffies wou net mooier as die ander paar wees! Die dames het ook vyf en dertig mussies gebrei wat aan kankerpasiënte oorhandig is en party hiervan  was nogal heel “funky”!! Die plaaslike ACVV het ons ook genader om prematuur babakleertjies te brei. Hulle het die wol verskaf en die vroue het die skatlikste kleertjies gebrei. Ons gemeentes op Calvinia beoog ‘n uitreik Transkei toe tydens die September skoolvakansie en nou is ons weer aan die brei. Ons beplan om sagte speelgoed, mussies, serpe, moffies en kleertjies vir die kindertjies saam te stuur.

 

Jaarliks word ook 80 kg droë koekies gebak, wat in kleiner eenhede verpak en aan Sorgvliet en die plaaslike diens van Barmhartigheid oorhandig word.

 

Elke jaar bied die vroue ook ‘n gratis gemeente-ete aan om aan almal dankie te sê vir die jaar. Tydens 2010 is ‘n bybelse ete aangebied en die gaste moes ook “bybels” aantrek.Tydens die 2011-ete was vis en brood op die spyskaart. Van  die manne was maar skepties, want dit is dan skaapwêreld! Hulle was egter verras en het heerlik geëet.