{ARGIEF}

altaltalt

GARIES se vroue is steeds ‘n woelige klompie vroue wat die Vrouediens en gemeente dien deur al wat ‘n bedrywigheid is. Soms is dit moeilik om alle datums te maak pas, maar gekom aan die einde van ons jaar, sien ons dat alles gedoen is en beplan ons vir die volgende jaar. Soos elke jaar het ons worsbroodjie-verkope voor die Wêreldbiddag vir Vroue, wat gemik is op fondse vir Bybelverspreiding. Dit is omtrent ‘n gedoente om alle broodjies gereed te kry en per vooraf-bestelling aan almal af te lewer. Dan bedien ons sop en toebroodjies gedurende die tien aande van Pinkster wat dan ook afsluit met ‘n lekker Gemeente-ete. Die plaaswyke het ook hul eie insameling vir dieselfde doel. Hierdie jaar was die boodskap gemik op barmhartigheid en is items ingesamel wat toe deur die diakens aan behoeftiges in die dorp afgelewer is. Hierdie boodskap het ook eie aan ons geword en het deur die jaar veranderinge in onsself en die gemeenskap gebring. Die Kinderkrans het baie mooi gegroei en het baie op ‘n skoon dorp en omgewing konsentreer. Die Vrouetee is baie geniet en die groot klomp dames het hierdie dag spesiaal gemaak. Hierdie jaar kon elke tafel volgens ‘n kleur versier word en die vroue van Koiingnaas en Hondeklipbaai het opgedaag en bygedra tot die luisterrykheid van die dag. Die twee groepe bejaardes, van ons eie gemeente en ook die VGK is feestelik onthaal. Die gemeente basaars was ook weer iets om na uit te sien en net mooi drie van die ses het byna uitgereën – reën is altyd welkom en bitter nodig. By Mostertvlei-wyk het die tent, omdat spasie te min was, heeltemal weggewaai en moes daar weer in ‘n beknopte stoor voortgegaan word. Doornkraal het darem net ‘n nat en glyerige berg gehad, maar wat … die vele voertuie het die pad hard en blink getrap, skoon soos ‘n teerpad. Daar is ook vanjaar gefokus op Huis Harmonie te Springbok waar tannie Grietjie Adams (van ‘Lekker ou Jan’-faam nou bly) deur vir die tehuis koekies vir Kersfees te gee. Die doel van al ons pogings, was om in ons eie kerk te belê en ons het toe ook daarin geslaag om mooi gordyne vir die kerk te kon koop asook ‘n oorhoofse projektor.  

Toe, onverwags, aan die einde van die jaar, is ons predikantspaar beroep en moes ons die vierde afskeid en hopelik ook ‘n verwelkoming reël.

Hoe dit ook al sy, ons Vrouediens pak dit met ‘n blye gemoed aan. Sonder hierdie klomp vroue sou hierdie gemeente nie kon bestaan nie!!!