{ARGIEF}

altaltalt

Vroue met Vlerke in Pofadder

Hier op Pofadder is die “Vroue-met-Vlerke” redelik aan die bejaarde kant, met net hier en daar ‘n plooilose ou “engeltjie”. Tog is dit wonderlik om te ervaar hoe die Here talente, hande en gewillige harte gebruik in ons kleinerwordende gemeente. Dit verg al meer insette van minder vroue, maar ons slaag nóg daarin om ons vele jaarlikse uitreikaksies en saambindende gemeenteprojekte deur te voer. Bo en behalwe die gewone projekte soos Gebedsvriendinne, Dankofferbasaar, Pinkster se sop en brood, Nagmaalpoeding en Slaaibedienings, Tee- en koekkuiertjies elke Sondag, Bejaarde-aanneem Projekte, die Herfs en Lente Bejaardetee met geskenkpakke moes ons ook ons kerk se Eeufeesvieringe oor twee naweke inpas.

Die eerste naweek in Maart het ‘n geestelike strekking gehad en oud-predikante het die ere- dienste behartig, met fluite en vioolitems as bonus. ‘n Heerlike gemeente-ete het die naweek afgesluit. Die tweede naweek einde September was meer op kuier en geselligheid gemik. Die Saterdag is ingeneem deur Kermisstalletjies, Tombolas en kuierlekker-musiek. Die “Musikale-Musiektalent-Aand” het ons talentvolle kunstenaars die kans gegee om hulself ten volle te geniet. Op 30 September is die Eeu (1912–2012) afgesluit met ‘n formele gemeentetee en verruklike eetgoed.   Ds J.C. Smit, was behulpsaam met die uitgee van ‘n Eeufees- gedenkboek, wat bekendgestel is.

Ons het ook vanjaar die ringsitting by ons gehad en was geseënd om al die voorgeskrewe verversings en etes oor die drie dae gratis aan die afgevaardigdes aan te bied.

Natuurlik was die Vrouebederfdag weer ‘n heerlike ontspanne geleentheid vir al die “Cowgirls” tydens hul trek deur die dorre woestyn! Die geskenkpakke ‘n lekkerte!

altalt

Een van ons Gemeentekomiteelede het op 12 Oktober haar Teologiegraad (deur Unisa) in Kaapstad ontvang. Sy moet in 2013 nog ‘n vereiste vak afskryf, voordat sy in 2014 die Universiteitsjaar op Kovsies moet voltooi. Ons kon ‘n bydrae van R2000 maak om met die ekstra uitgawes te help – ‘n klein bedraggie vir al die wonderlike werk wat sy hier doen tussen omgeegroepe, Bybelstudies, ens. Ons eie Vrouediens-dominee!

Die Vrouediens se Gemeentekoerantjie, Stof-tot-Lof, gaan na 16 jaar steeds voort. Daar word 200 eksemplare gedruk waarvan 60 van die intekenare elders in ons land woon (met elk sy/haar eie saamleesgroepie). Self familie oorsee lees saam.

Die end van die jaar wil ons weer probeer om ‘n gesamentlike Bybelstudiegroep met die VGK-dames in die lewe te roep. Mag die Heer die inisiatief hier neem sodat dit dié keer slaag.

Die Kersmark, Kerssangdiens en Kersete sal ons jaar afsluit. Soos gewoonlik ‘n ontroerende geleentheid.

Ds J.C. Smit se tyd by ons is binnekort verstreke. Ons is alweer op soek na ‘n aflospredikant vir 2013.

Mag die Heer in ons “Lectio Divina”-luistertyd sý wil en leiding aan ons bekend maak vir 2013 en sodat ons fokus op Hom gerig bly.