{ARGIEF}

Riviersonderend – Joanie Pretorius

 

“Good, better, TABITA!”

Dit is die spreuk wat deesdae op almal se lippe lê, alias Letty-Ann Möller van Bredasdorp. Tabita het van ons waarlik Vroue met Vlerke gemaak. Ons vlieg nie net meer in Riviersonderend rond nie, maar het al selfs ‘n donateur in die Verenigde Arabiese Emirate (‘n Slowakiër), een in Nederland, vroue in Pretoria, wat ‘n pakkie op die Shosholoza-trein saamgestuur het, nog een via Stilbaai, Struisbaai, Bredasdorp, Riviersonderend, Kaapstad en die Strand.

In 2010 het die behoefte in ons Vrouediens (Riviersonderend) ontstaan om herwinning op ‘n wen-wen manier te doen. Die motief was om vroue te help om hulle standaard te behou, op die gebied van klere. Ons bedryf Tabita as ‘n diens aan die gemeenskap.

Maretha Steyn het met die naam en die embleem vorendag gekom. Dit het verwys na Tabita in Handelinge 9:36. Die naam Dorkas beteken “bokkie”.

‘n Span vroue wat lief is vir mooi aantrek, met ‘n goeie klere-aanvoeling, wat hard kan werk op ‘n deurlopende basis, is genader as vrywilligers vir Tabita – ongeag die denominasie of taalvoorkeur.

Aanvanklik het ons oral gevra vir skenkers van goeie tweedehandse klere of nuwe klere wat hulle nie meer wil hê nie (soms word jou klere mos te “jonk” vir jou!) Ons het ‘n wonderlike, ywerige merkspan wat elke week ná bybelstudie klere merk wat ingekom het en dan verkoop ons dit in die agterste gedeelte van Stipp Apteek in die Hoofstraat, N2, met die vriendelike vergunning van Ramon en Maritha Stipp, wat dit gratis kom aanbied het. Net om almal “gelukkig” te hou.

Maandae en Donderdae is ons winkel gesluit, want dan merk en sorteer ons klere. Die goeie klere vir die winkel; die res vir straatmarkverkope (voor USAVE, soos gereël) of Badisa (vir behoeftige mense in die gemeenskap).

Skenkers stroom ons toe, want 80% van die verkoopprys word aan hulle besorg, die res hou ons vir administratiewe kostes en wat oorbly gaan Vrouediens toe. Ons is totaal selfonderhoudend en maak eerder aan ons Vrouediens ‘n bydrae, as wat ons bakhand by hulle vra vir hulp.

Voorheen het ons tydens spesiale geleenthede soos ‘n Vrouediensbyeenkoms, ons Kersmark, ‘n straatmark en op uitnodiging by ander instansies soos by radio Overberg se daknatmaakgeleentheid in Bredasdorp, klere verkoop. Noudat ons ons eie winkel het, vlieg ons vrylik, hoog en tevrede tussen ons klererakke rond, wat nie meer elke keer uitgepak en opgepak hoef te word nie. In die heerlike luuksheid van ons plaaslike apteek, kan ons heerlik met Poplap (ons kleremakerspop) speel en die uitrustings van haar lyf af koop.

Ons verkoop klere, skoene, handsakke, kostuumjuwele en selfs ‘n paar stukkies mans- en kinderklere ook (afhangende van wat ons inkry). Verlede week het iemand van TVOS ons geskakel om te hoor of ons nie babaklere aanhou nie en ons kon vir R7,50 aan haar ‘n “babygrow”, ‘n borslap en ‘n mussie gee!