{ARGIEF}

VICTORIA-WES VROUE:   Anna Vermeulen

‘n Paar dae voor Wêreldbiddag vir Vroue, het ons wyksleidsters gebedsboekies uitgedeel aan die vrouelidmate in hul wyke, want die dag voor die biddag is almal ingedeel in spesifieke tye wanneer hul kon bid vir die gebeure van die volgende dag. Hierdie gebedsboekies is opgestel deur ‘n vrouelidmaat van die gemeente, Joan Human, wat dit met baie groot sorg en toewyding gedoen het. Daar was onderwerpe vir elke dag van die week en dit kon deur die jaar gebruik word. Ons hoef nooit te wonder waarvoor kan ons bid nie.

In die plek van die ou bussies wat nie meer beskikbaar is nie, het ons voorskote of selfs net ‘n stuk materiaal gebruik en sakkies, genoeg vir elke vrouedlidmaat in die wyk, vasgestik. Dit word dan in die wyk gesirkuleer en elkeen plaas haar bydrae in ‘n sakkie en die wyksleidster betaal dit dan in by die tesouriere. Ons foto wys een van die wyke se projek. Die sakkies is hartvormig met vrolike kleure en ‘n rooi kruis in die middel van die lap.

 

Vroeg in Mei het ons basaar in die stadsaal hier op Victoria-Wes in die hart van die Karoo, gehou. Vanjaar was dit meer in kermisstyl en stalletjievorm. Moeite is gedoen om atmosfeer te skep. Al die ou gunstelinge van ‘n basaar is weer aangebied. Koeke en klein koekies, pasteitjies ens. Die poedings, watertand-lekker, kon nie weerstaan word nie. Die geure van kerrie en rys asook worsbroodjies met gebraaide boerewors en braaivleis het die hongeres gelok en gou was daar niks meer oor nie. Die vleisstalletjie het gekreun onder al die karooskaap en lamvleis – keurig verpak en ons mense kon uitsoek! Meters en meters wors is gemaak wat van die tafels afgevlieg het. Moenie dink dat daar nie pannekoek was nie! O, nee … twee dae lank is gebak. Die reuk van pannekoek is mos soos ‘n magneet wat mense aantrek. Bestellings is vooraf geneem en die dag voor die basaar is bestellings uitgevoer.

Tommie Caldin, ‘n jong diaken het sommer baie kopers getrek waar hy saam met ons vroue staan en bak het. Baie behendig skud hy die pannekoek los in. Die pan is in die luggeskiet en weer veilig gevang. Sonder enige flop!

Die veeveiling het die volgende Vrydag gevolg. Hier is weer pannekoek, braaivleis, koffie en tee aangebied. Skape het goeie pryse behaal en die atmosfeer was feestelik.

Die afgelope Pinkster was ‘n fees! – Ons tema: BARMHARTIGHEID. Ons harte is inderdaad aangeraak. Ons innige dank aan ds Manus Duminy vir hierdie reeks.

Aan ons Hemelse Vader, die diepste dank uit ons harte vir die rykdom van sy genade en onberekenbare seëninge.