{ARGIEF}

DvilleGemeentedeur Rhoda van Schalkwyk
As jy geletterd is, kan jy lees en skryf. Wanneer jou lewe taaleise aan jou stel, kan jy aanhou funksioneer. Jy kan ‘n padteken lees, jy kan ‘n dagboek hou, Jy kan ontspan met ‘n glanstydskrif, jy kan ‘n nota op die yskas plak, jy kan ‘n brief op jou kind se kussing laat, jy kan volg as die dominee Sondag uit die Bybel lees. Natuurlik ja, want jy kan lees en skryf.
As jy ongeletterd is, kan jy nie lees of skryf nie. Miskien ‘n klein bietjie, maar dis so moeilik dat jy skaam is. Jy sukkel as jy jou naam by die kliniek moet spel. Jy raak onwillekeurig aan die hakkel en huil. Jy sê jy het nie nou tyd nie of jou bril is weg. Jy’s moeg … ag lees gou vir Mamma die brief van juffrou. Hoe gaan jy als onthou? Hoe gaan jy daai lekker resep gebak kry? Hoekom het die lewe jou oorgeslaan? As daar maar net geld was destyds, dat jy nie vir die jonger kinders moes help skoolgeld verdien het nie. Al wat jy kan onthou, is dat jy al jou hele lewe lank werk, van jou eie kinderjare af, elke dag.
En nou, noudat jy al ‘n ouma is, is daar mense wat vir jou tyd het. Hulle wil met jou deel sodat jy ook sal kan lees en later ook skryf. Binne enkele weke kan jy jou eie naam spel, jy kan jou kinders se name skryf, jy kan selfs Jesus se naam skryf. Jy kan ‘n kaartjie skryf as jou vriendin verjaar. Jy kan ‘n kinderboekie vir jou kleinkind lees. En die mense wat jou ken, wil weet wat jy leer. Hoekom doen jy nou soveel moeite? Jy sê vir hulle jy het ‘n interessante lewe gehad en jy wil eendag ‘n boek daaroor skryf .
As die lewe, die politiek en die armoede veroorsaak het dat ‘n mens nie tot funksionele geletterdheid kon vorder nie, dan is daardie mens die ware agtergeblewene van ons samelewing. Selfrespek word herbou langs die geduldige pad van geletterdheid. Deur verhoudings en met liefde word herstel gefasiliteer. Herstel wat selfs die leemtes en swaarkry van lank gelede kan omsit in ‘n wil om te leer. Herstel wat ‘n skoollose jeug kan omsit in leergierige wysheid wat kleinkinders inspireer om enduit skool toe te gaan.
Daar is ‘n droom wat besig is om ‘n plan te word hier in Durbanville. Ons wil ‘n virtuele sentrum vestig sodat ons volwassenes kan help om geletterd te raak en dan verder te leer. Ons wil die oorsaak en gevolg van armoede knak met die koevoet van geletterdheid.
Vir my het betrokkenheid by volwasse geletterdheid my ‘n ander bril laat opsit: my frustrasie rondom maatskaplike verval is omgesit in konstruktiewe betrokkenheid. Hier is ‘n manier om ‘n hand na iemand uit te reik op so ‘n wyse dat die persoon daadwerklik langtermyn hoop vind. Dit is meer as polities-korrekte gebare. Dit skep betekenis vir diegene wat gee en vir diegene wat ontvang. Dis nie visse uitdeel nie, dis visstokke maak. Dis die nederige besef dat al my leergeleenthede die antwoord bied op iemand anders se jarelange gebede om tog ‘n kans te kry. Dit is om die hande, die voete, die hart van Jesus te wees sonder om te preek … deur eenvoudig vir iemand die alfabet te leer.