{ARGIEF}

Daar is waarskynlik min mense wat al ooit werklik `n verskil in die kerk gemaak het, wat nie een of ander tyd gewonder het of hulle nie maar uit die kerk moet bedank nie.
Wie is die kerk? `n Sinode, `n gemeente, `n gebou, gewone mense? Die kerk bestaan net uit gewone, sondige, gebroke, geheiligde, gereinigde mense wat baie foute maak. Daarom maak die “kerk” ook soms foute.
Tog praat die Bybel graag van die kerk as die Bruid van Christus: Nuut en pragtig aangetrek vir wie Hy baie lief is. Laat ons dit altyd onthou, ook as ons oor die kerk praat. Dit is nie ons kerk nie, maar bly altyd Christus se kerk.
Dit beteken nie dat die kerk verhewe is bo kritiek nie. Dit beteken net dat ons moet waak wanneer ons praat, oor die manier waarop ons praat. En dalk bid ons te min vir die “kerk”. `n Ou dominee het op `n dag gesê dat ons nooit mag skinder voor ons nie eers vir dit waaroor ons skinder gebid het nie.