{ARGIEF}

Ek hou hierdie week Pinksterdienste op ʼn bitter koue Burgersdorp. Dit is vir my ʼn goeie tyd van stil word na ons sinode, maar ook ʼn tyd om ʼn dieper kykie en ervaring te hê in die wel en wee van ʼn eg Suid-Afrikaanse plattelandse dorp met ʼn ryke en tog soms ook pynlike geskiedenis.
My besoek aan die skole op die dorp was kosbaar. Ja, plattelandse kinders het inderdaad ʼn voorreg wat stadskinders nie het nie. Dit was vir my goed om te sien hoe ʼn nuwe storie geskryf word van hoe kinders van verskillende multi-kulturele agtergronde mekaar voel-voel beter leer ken.
Maar die ding wat by my vassteek is die twee reuse imposante kerke ʼn paar honderd meter van mekaar op die dorp. ʼn NG kerk en ʼn Gereformeerde kerk. Gatjieponders en Doppers. Die Gereformeerdes het hier begin! Hul ou kweekskool is tans ʼn museum. Ja, die kerke werk hard om nader aan mekaar te werk, maar die skeiding was maar altyd daar en het selfs groter geword. Hul sê my daar is tans meer as 30 verskillende kerkies en denominasies op die dorp!
Hoe moet ek daaroor dink? Het God geweet dat ons verskillend is en daarom maar toegelaat dat daar meer kerke ontwikkel sodat almal ʼn plekkie kan vind waar hulle tuis is? Of is dit sommer net slegte verskeurdheid – iets wat in wese teen God se hart ingaan.
Die twee kerke troon uit soos twee reuse monumente, twee majestieuse simbole van geskeidenheid. Sommige mag gewoond raak daaraan, maar vir my, wat nogal ernstig is oor simbole, is dit ʼn boodskap wat 24 uur van die dag 7 dae van die week uitgestuur word.
Laat ek myself net kwalifiseer. Dit is aangrypende mooi kerke en ek het reeds wonderlike mense hier ontmoet, maar ek dink ons het almal nog baie eerlike dinkwerk en selfondersoek nodig.
Ek skryf nie hier omdat ek my vinger in iemand se oog wil druk nie. Ek kan net nie anders as om daaroor te dink nie. Die twee geboue/simbole is net te groot en te indrukwekkend dat ek dit kan miskyk….