{ARGIEF}

Geld, of laat ek liewer sê, die wêreld se moeilikheid met geld, bly maar in die nuus. Voor in die koor van moeilikheidmakers, is die Grieke wat `n hele paar bankiers en regerings slapelose nagte gee. Die ironie is dat jy blykbaar steeds `n Porche om elke hoek en draai in Griekeland sien staan. Een van die groot redes vir hul moeilikheid is dat daar oor jare `n kultuur by gewone burgers ontstaan het om nie belasting te betaal nie. Nou kyk, belasting was maar altyd `n kwessie. George Bush het op sy dag dit goed gedink om $1,5 triljoen se belastingkortings aan te kondig en selfs Albert Einstein het al gesê dat belastingvorms heeltemal te moeilik is vir hom om te verstaan.
Terselfdertyd was dit verlede week belasting-sperdatum-tyd hier by ons en by SARS se kantore het mense in lang toue gewag om hul vorms in te dien. Dit bly vir my ongelooflik om die mense so geduldig te sien staan en is sekerlik `n teken dat daar baie mense in ons land is, wat met trots, lojale, verantwoordelike Suid-Afrikaners is. Tog knaag die vraag in `n mens se agterkop: Waarom sou ek belasting betaal as al die aanduidings daar is dat die regering miljoene rande vermors? Waarom moet ons tot 40% belasting betaal terwyl die Amerikaners nie eers 20% betaal nie? Die kort antwoord is: Weet jy watter moeilikheid Amerika as land met hulle skuldlas het?
Die vraag oor belastinggeld kom natuurlik nie van gister af nie. Jare terug het die Fariseërs op `n dag vir Jesus met `n strikvraag probeer vastrek deur aan Hom te vra of die Jode belasting aan die keiser moet betaal. Verwysend na die keiser se kop op `n muntstuk het Hy gesê: “Betaal aan die keiser wat die keiser toekom en aan God wat God toekom.” (Matt 22) Ek weet ons belastingopgawes is al beskryf as van die mees kreatiewe fiksie wat bestaan, maar as ons in `n volhoubare, ontwikkelende land wil woon, moet ons ons belasting betaal. Oor die geld wat vermors word? Daaroor mag ons en moet ons hard en aanhoudend bly praat – tot ons gehoor word.
Maar die een sinnetjie wat ons dalk mis, is die sinnetjie wat sê dat ons aan “God moet gee wat God toekom.” Dit gaan hier sekerlik oor veel meer as net geld. Dit laat my egter aan die woorde van Richard Foster dink: “Die sin van die lewe lê nie in wat ons besit nie, maar die wete dat ons in God leef, beweeg en asemhaal.”