{ARGIEF}

Wanneer `n stad korrup word, gebeur dit dat dit nie meer die bekwames is wat hulle beskikbaar stel nie, maar die met die meeste mag. Die swakkeres al is hulle bekwaam, is dan te bang om in die verkiesing te staan. – Niccolo Machiavelli (1469-1527)
Vandag gaan ons stem! Die afgelope tyd is daar oorvloediglik oor die verkiesing berig, soveel so, dat ek ernstig gewonder het of dit gepas is om hier nog iets by te voeg. Tog voel almal die belang van die verkiesing aan. Plaaslike verkiesings raak die lewens van miljoene mense baie direk. Dalk begin mense aanvoel dat juis plaaslike verkiesings weer so `n proeseltjie is van die ou kiesafdeling-stelsel wat voorheen gegeld het. Ek stem vir `n gesig. Maar so kon ek nie help om ook aan die gebedjie te dink wat ons altyd in ons kinderjare voor n rugbywedstryd gebid het nie: “Here mag die beste span wen en bewaar ons tog van ernstige beserings.” Ja, elke “sport” het sy beserings, vra maar vir my wat in die kerk werk.
Maar op `n ernstiger noot. Sommer twee eenvoudige gedagtes oor die verkiesing. In `n verkiesing is daar altyd wenners en verloorders. Daarom is `n woord oor versoening dalk hier gepas. `n Verkiesing sonder versoening na die tyd word soms `n morsige storie. Lorenzo Davids help my onlangs in `n gesprek oor versoening toe hy sê dat ook versoening `n “struktuur” het soos wat sout en suiker `n “struktuur” het. As van die elemente kort, is dit nie die ware Jakob nie. So is die struktuur van versoening geregtigheid, die struktuur van geregtigheid, waarheid, die struktuur van waarheid, nederigheid en die struktuur van nederigheid die besef dat alle mense gelyk voor God is. Laat ons dit in hierdie dae onthou.
Daar is egter ook `n tweede boodskap waaroor ek in die dae nadink en `n boodskap waarmee ons die onlangse sinode van Wes-en-Suid-Kaapland afgesluit het. Verkiesings gaan altyd oor die toekoms. In Jeremia 29 lees ons van `n groep Jode wat vir sewentig jaar in Babel in ballingskap sou sit. En dan kom die boodskap in die eerste jaar (597 vC) van hulle ballingskap: “Ek weet wat ek vir julle beplan, voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle `n verwagting gee, `n toekoms.” Maar daar kom `n opdrag daarmee saam. Bou huise, plant tuine, trou en brings kinders in die wêreld en, baie belangrik, bevorder die belange van die stad! Raak betrokke en werk saam tot die voordeel van almal. Dit was `n vreemde stad met vreemde heersers, maar die Jode mag hulle nie teruggetrek het nie. Hulle mag nie `n klein, eksklusiewe bestaan daar gevoer het nie. Daar sou hulle weer geestelik groei en sterk word. Daar sou die wonderlikste geskrifte ontstaan. Mense soos Daniël sou in die administrasie vorder tot die hoogste posisie. Hulle sou moes meewerk aan die “shalom”, die vrede vir al die inwoners van die stad.
Dit sou `n wintertyd vir hulle wees wat vir jare sou duur, maar een van die beste tye in die volk se geskiedenis. Hulle sou die Here se aangesig weer soek soos nooit te vore nie.
Om te gaan stem, is eintlik maar om te sê, ek aanvaar my verantwoordelikheid om saam te werk vir die dorp of stad waar die Here my geplaas het. Mag die beste span wen en ons van ernstige beserings gevrywaar word.