{ARGIEF}

`n Bekende sielkundige het jare terug gesê dat dit elke nag `n paar miljoen slaappille kos om Amerika aan die slaap te kry. Ek wonder baie oor hoe goed Suid-Afrikaners tans slaap. Iemand wat lank in die buiteland gewoon het en onlangs na Suid-Afrika teruggekeer het sê nou die dag vir my dat dit haar opval hoe kompeterend sommige kinders in skole is. Is dit onderliggende onsekerheid oor die toekoms wat so manifesteer?
Die meeste van ons slaap om `n verskeidenheid redes een of ander tyd sleg. Bekommernis oor jou werk, jou kinders, vrese oor jou veiligheid of dalk een of ander konfliksituasie waarin jy jou bevind kan jou baie sleg laat slaap. Dalk weet jy hoe dit voel om in die middel van die nag wakker te word en dan lank wakker te lê. Wat doen jy dan? Ek deel graag `n paar gedagtes, wel wetend dat `n mens versigtig oor ander se spanning moet praat.
Die eerste is om so radikaal op Christus te fokus dat daar nie kans is dat jou angste jou denke domineer nie. In my eie donker nagte moes ek al meermale myself dissiplineer om te visualiseer hoe Christus my letterlik vashou, hoe Hy letterlik om my is, hoe ek as’t ware doelbewus in die dampkring van sy liefde en genade inbeweeg. Soos die ou kerkvaders kon ek net bid: “Jesus Christus wees my genadig”. Hoe lui die gesegde?: Hoe groter die krisis, hoe intenser, maar hoe korter jou gebede. Ek het al meermale die ervaring gehad dat ek dan na `n paar minute aan die slaap te raak. Sommige sal vir my lag, maar vir my werk dit en dit is genoeg.
Tog is daar meer. Die Bybel leer ons dat die liefde die vrees na buite dryf. Dit is ongelukkig so dat `n groot deel van ons vrese en angste, bekommernis is oor onsself en ons eie dinge. Wanneer die Gees ons met liefde vul, ook vir ons vyande, verander ons harte en ons angste. In die broos oorgangstyd waarin ons tans leef het ons mekaar meer as ooit te vore nodig. Wanneer jy gaan slaap in die wete dat jy deel is van`n liefdevolle familie, vriendekring en gemeenskap, slaap jy rustiger. As jy in Suid-Afrika woon en weet dat die kring verskillende mense uit verskillende gemeenskappe insluit, gaan slaap jy nog `n bietjie beter. Elkeen wat dit al beleef het sal weet waarvan ek praat.
Ek sluit met die woorde van Fil 4. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend …en God wat vrede gee, sal by julle wees.” ook snags. Lekker slaap.