{ARGIEF}

Die saligverklaring (beatification), die laaste stap voor “heiligverklaring” van pous Johannes Paulus II vind op werkersdag 1 Mei in Rome plaas. Die aanduidings is reeds daar dat die okkasie tans, wat die media aanbetref, oorskadu word deur die troue van Prins William en Kate Middleton. Tog word daar tussen 150 000 en 300 000 mense in Rome verwag. Aanvanklik is meer as 1 miljoen verwag.
Oor die meriete van die hele plegtigheid in Rome sal Christene verskil en wil ek my nie hier uitlaat nie. Ek is altyd versigtig om sommer oningeligte kommentaar te lewer op dit wat kennelik vir ander Christene kosbaar is. Wat my wel opval is die ooreenkomste tussen die gebeure in Londen en Rome.
Dit wil voorkom of die mensdom deur die eeue tog gehunker het na die aanwesigheid van ikone, Mense wat – al weet almal dis onmoontlik – die skyn van vlekkelose volmaaktheid dra. Maak nou nie saak of dit `n prins of `n pous is nie. In n stukkende wrede wêreld verlang ons steeds na `n mooi storie. Ons kyk na onsself, sien min daarvan raak en begin dan identifiseer met die sprokie. Vir my is daar iets mooi en iets hartseer in.
Laat ek dit anders stel. Ek geniet dit self baie om na enige beeldmateriaal van die koningshuis of die Vatikaan te kyk. Kom ons wees egter eerlik. Die sluimerende gevaar van mensverheerliking staan egter bo-oor alles geskryf.  Wat dus in Rome en Londen gaan gebeur fassineer my, maar maak my ook onrustig.
Ek self wil sonder om te vroom te wees vashou aan die Koning, Priester en Profeet, Jesus Christus. Jesus is die Kurios, die Here. Verskoon die beeldspraak met alle respek: Hy is die ware Prins en Pous – ware Koningskind en Hoof van die Kerk. Mag ons dit in die dae onthou.