{ARGIEF}

As ons die grense toets…
Daar is rooi ligte wat begin flikker as sekere grense getoets word. As die verlangde lopietempo in ’n eendag krieketwedstryd te hoog raak, is daar moeilikheid. As jou skuldlas te hoog raak, is daar moeilikheid. As die persentasie van ’n gemeente se begroting, wat aan salarisse bestee word, bo 70% styg, is daar moeilikheid en so kan ons aangaan. In die breë kerk en die land ontstaan daar ook sulke grens situasies wat soms getoets word en wat die rooi ligte laat flikker. Een so ’n situasie is wanneer ons as kerk, begin hoop opgee. Hoop is deel van die hartklop van die kerk. Ons behoort altyd te hoop, selfs as daar oënskynlik geen hoop meer is nie. Dit het Abraham ons al kom leer. Tog sien ek al meer mense wat wanhopig begin voel oor mekaar, die land, die kerk en die toekoms. Ek sien wit mense wat opgee op swart mense en swart mense wat opgee op wit mense. Ek sien te veel gelowiges wat opgee op die toekoms van die land en die kerk.
Ek was nog altyd ’n voorstander van realisme en die feit dat leiers die werklikheid duidelik en feitelik moet definieer. Tog voel ek dat ons die grens tussen hoop en wanhoop deesdae op ’n gevaarlike wyse begin toets. Ek sien te veel mense wat twyfel of Christus se kruisdood genoegsaam was, wat twyfel of versoening, ook tussen mense wat verwyderd van mekaar leef, nog moontlik is.
Christene mag nooit opgee op die feit dat daar ’n Skepper –God is wat dinge altyd weer nuut maak en herskep nie. Daar is sekerlik rooi ligte wat in ons kerk en land flikker, maar deur die geskiedenis was dit nooit anders nie. Soos wat daar winters en somers kom, gebeur dit ook in die geskiedenis. Ons mag egter nie toelaat, dat ons pessimisme en swartgalligheid op die ou end maak dat ons self die grens na wanhoop oorsteek en so die slagoffer van ons eie mismoedigheid word nie.
Daarvoor het ons mense nodig wat daagliks opstaan en van ’n ander werklikheid getuig as dit waaraan die stories om die braaivleisvure en die berigte in die media ons herinner. Ons doen dit nie omdat ons naïewe idealiste is nie, maar doodgewoon omdat ons in God glo. Ons moet opstaan en omdraai en wegstap van hierdie wanhoopsgrens wat ons al meer en meer toets. Kom ons raak prakties.
Ek dink dat ons ons integriteit moet terugwen deur as kerk werklik te fokus op die wesenlike kwessies wat die meerderheid van ons land se mense raak en nie die kleiner (soms ook teologiese/ideologiese) kwessies waaroor ons so kibbel nie.
Ek dink ons sal die basiese dinge wat die kerk oor jare gedoen het, weer moet herwin en begin doen.
Ek dink ons sal almal weer moet ernstig raak oor gebed en geestelike groei.
Ons praat baie oor God, maar heeltemal te min met God. Hy bly die bron van alle ware hoop.