{ARGIEF}

Matt. 16:15: “’Maar julle’, het Hy gevra, ‘wie sê julle is Ek?’”

Een van die groot buzz-woorde wat deesdae die rondte doen, is die woord diversiteit. Nie net in die kerk nie, maar ook in die sakewêreld worstel leierskap met die werklikheid dat groepe nie meer homogeen is nie, maar verskil. Hulle verskil in ras, geslag, denke, generasie, seksuele oriëntasie, klas, voorkeure, afkeure en veel meer. Daarom is dit nie snaaks dat al meer en meer stemme opgaan wat sê dat diversiteit en ’n gesprek oor diversiteit ’n prioriteit is nie. Die vraag is egter wat ons bedoel as ons dit sê? Kom ons hou dit eenvoudig deur net ’n paar vrae te vra wat betrekking het op die kerklike wêreld.
Wat is die subteks van die gesprek?
Beteken die aandrang om ’n gesprek oor “diversiteit” eintlik die aandrang dat ook MY standpunt geakkommodeer en gehoor sal word?
Beteken die oproep tot diversiteit ’n eerlike oortuiging dat al die kante van die teologiese spektrum en debat, gelykwaardige gespreksgenote is en deur almal so geag word?
Beteken diversiteit met ander woorde, dat gespreksgroepe oor diversiteit vir Julian Muller EN Angus Buchan met opgewondenheid sal wil akkommodeer?
Werk die gesprek oor diversiteit tog ook subtiel met ’n “ons is reg – julle is verkeerd” paradigma?
Is daar GRENSE aan die akkommodering van diversiteit en waar lê dit? Wie bepaal dit? Is dit geregverdig om so ’n vraag te vra?
Leef ons nog met ’n kern belydenis en wat is dit?
My eie standpunt? Sonder so ’n kernbelydenis/fokus spat enige gesprek oor diversiteit op die ou end in ’n duisend stukkies…