{ARGIEF}

Die afgelope week het die filosoof en skrywer Dallas Willard `n saadjie by my geplant wat my gedagtes aan die rol gesit het. Sonder om in te veel detail in te gaan, spook `n basiese vraag by my. Wat sou die verskil tussen `n ware teoloog en `n “Skrifgeleerde” wees?
Dallas sê dat dit kerkvaders soos Johannes Calvyn en William Law was wat hom gehelp het om te verstaan dat daar enersyds mense is wat die Woord van God bestudeer met die doel om God se stem te hoor. Die bestudering van die woord neem al die gawes van die wetenskap ernstig, maar dit vind plaas in `n intieme verhouding met God self. Daar is `n gerigtheid op God en `n fokus op God. Daar is `n verwagting dat God self sy stem sal laat hoor. Hulle is ook gedurig besig om soos Eli van ouds, mense om hulle (die Samuels), daaraan te herinner dat God self kan en wil praat – al is dit dan deur die Skrif en geldige hermeneutiese praktyke soos wat ons dit vandag ken.
Andersyds is daar mense wat eintlik maar net moderne “Skrifgeleerdes” is. “Skrifgeleerdes probeer hul leerders voed met die inhoud van my eie brein en menslike kennis” (Willard, 1999:17). Hulle gee aan hulle leerders eintlik niks meer as wat hulle met bloot menslike pogings uit die Bybel en ander geskrifte kan aflei nie.
Nou weet ek dat daar dadelik diegene is wat sal sê, dat God juis deur hierdie “menslike pogings” kan en wil werk. Natuurlik kan God ook so werk. Tog stel 1 Kor 2: 11-13 dit duidelik:
Watter mens ken die verborge dinge van ‘n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God.
Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het.
Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer. So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het.

Ek dink ten minste een basiese verskil tussen `n ware Teoloog en n blote Skrifgeleerde word hiermee duideliker gestel.